Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Jong ‘liefde’ in die drukkoker in realiteitsreeks
Tania het besluit om Syngin na Amerika te bring in 90 Day Fiancé.

Kan die liefde in 90 dae só blom dat ’n paartjie ewige trou aan mekaar beloof? André-Pierre du Plessis skryf oor 90 Day Fiancé.

Amerikaanse televisie skep al jare ’n beeld by ons oor wat dit beteken om ’n Amerikaner te wees.

Dis maklik om te dink hulle is almal oorgewig en veel ryker as die res van die wêreld bloot as gevolg van wat ons op televisie sien. Maar wat dink Amerikaners van óns en op watter televisieprogramme maak hulle staat om meer oor ons uit te vind?

90 Day Fiancé, wat Donderdae om 20:00 op TLC (DStv-kanaal 135) uitgesaai word, is waarskynlik die grootste televisieplatform wat ons vreemde aksente en wilde maniërismes aan Amerikaners blootlê. Dis ’n realiteitsreeks wat die lewe van verskillende paartjies volg, waarvan een ’n Amerikaner en die ander ’n buitelander is.

Die meeste paartjies het mekaar pas ontmoet en die Amerikaner in die verhouding het besluit om hulle terug te sleep huis toe waar buitelanders ’n spesiale visum kan losslaan as jy instem om binne 90 dae te trou. Dis waar die naam 90 Day Fiancé vandaan kom, wat bewys dat drie maande net genoeg tyd is vir die meeste verhoudings om heeltemal skeef te loop.

Oor die laaste sewe reekse van dié realiteitsreeks was daar nou al drie Suid-Afrikaners wat besluit het om hul haastige troureëlings vir die kameras te wys. Amy van Kaapstad het met Danny van Pennsilvanië getrou nadat hulle op ’n Bybelstudietoer in Australië ontmoet het. Ronald van Randfontein het met Tiffany van Maryland getrou nadat sy in Suid-Afrika kom vakansie hou het. Terwyl Amy Suid-Afrikaners ’n goeie naam gegee het as ’n liefdevolle vrou, het Ronald se dobbelverslawing nie veel hoop gegee vir hoe Afrikaanse mans op Amerikaanse realiteitstelevisie verteenwoordig word nie. Vir sy ramparty het sy vriende ’n ontkleedanser gereël en almal het vreeslik baie Klippies gedrink.

Tiffany het uiteindelik teen ’n lewe in Johannesburg besluit nadat Ronald haar die heel tyd herinner het om die kar se deure te sluit en vir haar spesiaal gaan wys het hoe goor ons hospitale is. Sy is vasberade om hom saam te vat na die VSA toe, maar met sy misdaadgeskiedenis sal hy heel moontlik nooit ’n visum kry nie.

Tiffany het uiteindelik teen ’n lewe in Johannesburg besluit nadat Ronald haar die heel tyd herinner het om die kar se deure te sluit en vir haar spesiaal gaan wys het hoe goor ons hospitale is. Sy is vasberade om hom saam te vat na die VSA toe, maar met sy misdaadgeskiedenis sal hy heel moontlik nooit ’n visum kry nie.

In die jongste reeks word Suid-Afrikaanse mans ’n bietjie beter uitgebeeld te danke aan die Kaapse boorling Syngin (29). In 2017 ontmoet hy Tania in ’n Kaapse kroeg, waarna hulle besluit om verloof te raak. Twee jaar later kom hy in New York aan waar 90 Day Fiancé se televisiekameras (en Tania) hom op die lughawe inwag. Oor die volgende 90 dae gaan hy en sy Amerikaanse verloofde besluit of hulle gereed is vir die huwelik, terwyl ’n spul kameras hulle dophou.

Deel van die rede hoekom Tania besluit het om Syngin na die VSA te bring, is die rassespanning wat sy in Suid-Afrika ervaar het. Maar sy is self nie wit nie en nog minder is haar vriende. Sal Syngin met hulle oor die weg kom? Dis een van die groot vrae wat die vervaardigers hoop kykers sal vra in die hoop dat opvattings oor Suid-Afrikaners juis beproef sal word.

Tot dusver is Syngin ’n goeie ambassadeur, maar of die wittebrood voor sy troudag sal hou, word sterk betwis op sosiale media. Dis egter in ons almal se belang om Syngin te ondersteun, want vir al wat ons weet, dink die hele VSA ons ís almal so.

Meer oor:  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.