Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Jong teksskrywer se droom eindelik waar

Hy was ’n teksskrywer vir die TV-sepies 7de Laan en Suidooster en het al talle kortverhale geskryf wat ook gepubliseer is.

Nou het sy droom om sy eie sepie te skryf, uiteindelik vir ’n 25-jarige jong man van Kraaifontein, Kaapstad, waar geword met die bekendstelling van kykNET & kie se nuwe sepie Arendsvlei.

Van die hoofspelers in Arendsvlei het Dinsdagaand die bekendstelling daarvan in Kaapstad bygewoon. Foto: Jaco Marais

Theltom Masimila (25) sê hy werk al van die ouderdom van 18 aan die storie. Dit is vroeër deur verskeie televisiekanale in Suid-Afrika verwerp, maar hy het nou uiteindelik sy kans gekry om die storie te vertel toe dit ná jare se harde werk deur kykNET & kie aanvaar is.

Arendsvlei is Dinsdagaand in ’n koue en winderige Kaapstad by die swierige Cartel Rooftop-venue in die middestad bekend gestel.

’n Spesiale voorskou van die eerste episodes is vertoon en die geleentheid is bygewoon deur die Arendsvlei-span, mediaverteenwoordigers en bekendes in die vermaaklikheidsbedryf.

Arendsvlei is ’n fiktiewe dorp in die noordelike voorstede van Kaapstad. Die Hoërskool Arendsvlei is ’n onafhanklike skool en die middelpunt van die gebeure.

Die skoolhoof, Beatrice, vertolk deur Jolene Martin, het die skool begin om ’n goeie en bekostigbare opvoeding aan die kinders van die gemeenskap te bied. Dit is ’n hartsprojek wat moontlik gemaak is met erfgeld ná haar pa se dood.

Masimila sê hy het ná elke verwerping van die teks weer daarna gekyk en verder aan die storielyn gewerk totdat dit perfek was. “Ek het altyd geweet daar is iets daar, daar is ’n storie daar.”

Hy sê dit is ’n unieke verhaal van ’n bruin egpaar wat ’n skool bestuur, maar wat ook hul eie familie-intriges moet hanteer. “Ek sal dit beskryf as ’n familie op die Kaapse Vlakte wat op hul eie ’n gedeeltelik private skool bestuur. Dis ’n familie met ’n droom, dis ’n vrou met ’n droom. Sy wil ’n skool oopmaak, want sy sien daar is ’n behoefte daaraan.”

Theltom Masimila Foto: Jaco Marais

Janine Cornelius is die toesighoudende vervaardiger wat van die begin af by die projek betrokke was.

“Kykers kan hope drama verwag, want nie almal in Arendsvlei het goeie bedoelings nie . . .

“Ons het ’n fantastiese rolverdeling, en kykers kan daarna uitsien om weer ou bekendes te sien, maar ons is ook baie opgewonde om nuwe talentvolle akteurs, veral onder die jonger karakters, aan die kykers voor te stel,” sê Cornelius.

Dié reeks van 156 episodes is in Kaapstad verfilm en word deur Penguin Films eksklusief vir kykNET & kie vervaardig.

Arendsvlei begin op 1 Oktober (Maandag tot Woensdag) om 20:00 op kykNET & kie, DStv-kanaal 145.

Meer oor:  Arendsvlei  |  Kortverhale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.