Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Kamper se TV-rol ’n ‘wonderlike ervaring’

Vir ’n akteur wat sy tande op die verhoog geslyp het, is TV-werk ’n bietjie soos die koronavirus-inperking – jy werk in isolasie. Dit is hoe die veelbekroonde Bloemfonteinse akteur Gerben Kamper op sy verskyning vandeesweek in die kykNET-dramareeks Fynskrif reageer.

Hy vertolk prof. Johan Vermeulen, wat net in die een episode gesien word, sê Kamper. Die prof klop by Ben (Neels van Jaarsveld) van die prokureursfirma Van Wyk en Vennote aan om hom uit die moeilikheid te help nadat hy ’n hawelose man doodgery het.

“Dit was die eerste keer dat ek teenoor Neels gespeel het, al ken ons mekaar reeds jare.”

Maar Crystal-Donna Roberts, wat in ’n ander toneel saam met Kamper verskyn, ken hy vandat sy ’n dramastudent in sy klas aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) was. “Ons is sedertdien groot pêlle,” sê hy.

Roberts speel Thandi, die bedorwe meisie met die groot haardos.

Gerben Kamper

Kamper beskryf die verfilming, wat reeds in Augustus verlede jaar gedoen is, as “ ’n wonderlike ervaring. Nina (Swart) is werklik ’n goeie regisseur en die akteurs almal knap en professioneel.”

Sy voorbereiding het egter lank voor die dag op stel in Somerset-Wes begin. “Ek het die teks in isolasie hier in Bloemfontein instudeer en die eerste keer wat ek dit met die regisseur en vervaardigers bespreek het, was kort voordat ek op stel gegaan het.

“Dit verskil hemelsbreed van die voorbereiding vir ’n verhoogstuk. Daarvoor repeteer die geselskap vir sowat vier weke min of meer elke dag saam. Die akteurs kan reaksies teenoor mekaar toets en verander totdat hulle en die regisseur tevrede is. Daardie luukse bestaan nie in TV-werk nie.”

Vir ’n ou hand soos Kamper was dit darem nie ’n probleem nie. Sy vertolking was die eerste keer in die kol.

Kamper praat met die grootste lof van Louis Pretorius en Albert Snyman, wat Infinity Films besit en ook die kykNET-reeks Die Boekklub vervaardig het. “Hulle weet hoe om ekonomies te werk. Al die tonele vir die episode is op een dag geskiet en alles is uitgesaai. ’n Mens moet dus op jou stukke wees en jy moet jou woorde onthou. Dit bly maar ’n akteur se groot vrees dat jy jou woorde sal vergeet.”

Kamper sal later vanjaar meer gereeld op die TV te sien wees wanneer hy ’n deurlopende rol in ’n nuwe dramareeks op kykNET vertolk. Niemand mag egter daaroor praat nie voordat kykNET die aap uit die mou gelaat het.

Soos alle kunstenaars is Kamper ook benoud oor hul toekoms. Wanneer gaan die teaters weer open? Hoeveel sal dalk nooit weer funksioneer nie? Watter kunstenaars gaan oorleef?

Kamper sou Die laaste boom vir die Vrystaat Kunstefees regisseer, ’n apokaliptiese verhaal oor die vernietigende uitwerking wat plastiek op die wêreld het. Benewens Kamper het die aktrises Hilletje Bashew, Crystal-Donna Roberts en Marijda Kamper ook dié werk weens die staat van inperking en die uitstel van die Vrystaat Kunstefees verloor.

Die een voordeel wat Kamper wel het, is dat hy ook ’n bedrewe skilderkunstenaar is wat hom in die inperkingstyd goed besig hou. Sy webwerf sal binne ’n maand gereed wees en dan sal enigeen sy werke kan bekyk en bestel.

Meer oor:  Fynskrif  |  Televisie  |  Dramareeks  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.