Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Kerneels Breytenbach: Trekvoëls migreer só alte lekker op kassie
Nicola Walker sorg vir gehalte in ­vele reekse.

Een van die onderwerpe waarmee mediakenners hul tyd verwyl, is wat die motivering is vir kykermigrasie. Hoekom hou iemand skielik op om ’n program te kyk, of ’n spesifieke kanaal?

Ek ken heelparty mense in aftreeoorde wat elke dag vasgenael gesit het voor Days of Our Lives. Dit was deel van die daaglikse vermaak, saam met 7de Laan en Binnelanders. Toe ek in die naweek by ’n paar van hulle navraag doen, was daar verbittering oor die skielike verdwyning van die reeks.

“Maar dis ook oukei,” het een gesê. “Ek kyk nou Binnelanders en Getroud met rugby.”

Daar is altyd ’n manier om die wette van Hlaudi Motsoeneng te omseil. Woerts van SABC na DStv. Eintlik moes ek dit uit die staanspoor geweet het. Want ek is self ’n opperste trekvoël. Ek het die afgelope dekade 7de Laan, Suits, Grey’s Anatomy en Ray ­Donovan afgeskud.

Omdat hulle vervelig geraak het. Sodra ’n mens die herhalende patrone raaksien, is dit tyd om aanstaltes te maak. Jy kan altyd later die DVD aanskaf, as jy desperaat genoeg terugverlang.

’n Ander uitvlug is natuurlik die groot aantal ou reekse wat op verskeie maniere weer hul verskyning op DStv maak. Omdat ek verslaaf is aan speurverhale, pas dit my besonder goed.

Twee van die beste speurreekse van die afgelope dekade of wat is Motive en Cold Case. Motive se laaste reeks is pas deur DStv uitgesaai en dit kan nie lank wees voordat ons dit weer van die begin af sien nie. Cold Case het al harde baard, maar die herlewing daarvan die afgelope paar jaar is vir my die DStv-subskripsie werd. (Nee, die Stormers doen dit nie meer vir my nie.)

Motive weer het ’n wonderlike struktuur: Jy weet binne die eerste twee, drie minute wie sowel moordenaar as vermoorde is, en dan lê die pret in die maniere waarop jy die speurders se vernuf kan volg.

Gelukkig kry ons ook van die BBC se beste reekse te sien. Soms is hulle regtig oud en geskif, maar in die algemeen is daar reekse van topgehalte wat ’n mens kan inhaal.

Tans kan ons ’n puik reeks genaamd Unforgotten sien, wat verlede jaar reeds in Brittanje te sien was. Die reeks het Nicola Walker in die hoofrol, wat dit eintlik verpligte kykstof maak vir diegene wat in gehalte belang stel.

Walker het haar naam aanvanklik gemaak in die skitterende spioenasiereeks Spooks, en het ook gespeel in Last Tango in Halifax, River, New Tricks, asook in die rolprente Four Weddings and A Funeral en Shiner. Sy loop in die voetspore van Vanessa Redgrave en Helen Mirren.

Unforgotten se eerste reeks het net ses episodes. Diegene met Explora kan dit in sy volle glorie geniet.

Soms is ou reekse só goed dat ’n mens daarna terugkeer, al is die ratwerk hóé sigbaar. Ek is ’n verbete kyker van Silent Witness waarvan die 18de seisoen op DStv se kanaal 119 te siene is. In Brittanje trek hulle al by seisoen 19, met 20 wat tans verfilm word. Dus nog jare se plesier wat voorlê.

Plesier uit moord? Silent Witness het só ’n puik draaiboek, en die akteurs is deur die bank uiters bedrewe. Die kern van die Silent Witness-span is tans Emilia Fox (dogter van die akteur Edward Fox), David Caves en Liz Carr. Carr speel in haar eie rolstoel, en bring ’n bietjie humor in verhale wat soms baie somber kan raak.

En een van die grootste aanbevelings vir my is dat die Amerikaners tot dusver nog nie daarin kon slaag om Silent Witness na te boots nie. Groter lof is nie in die televisiesfeer moontlik nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.