Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Kerneels Breytenbach: Winterplesiertjies op ’n einde, maar nuwes kom
Kerneels Breytenbach

Die jaar is by sy draaipunt verby, maar die skedules van satelliettelevisie handel ons winterplesiertjies nog stukkie vir stukkie af en bêre dit dan: Wallander, American ­Gothic en Criminal Minds: ­Beyond Borders.

Elk van hierdie reekse is noemenswaardig – om uiteenlopende redes. Wallander is een van die BBC se heel beste nog. ’n Mens kan dit in dieselfde asem noem as die Sherlock-reeks met Benedict Cumberbatch in die hoofrol, veral danksy die uit­nemende spel van Kenneth ­Branagh in die titelrol.

’n Mens benader hierdie vierde Wallander-reeks met ’n groeiende gevoel van hartseer. Dis algemene kennis dat die verstrooide Sweedse speurder stadig maar seker Alzheimersiekte ontwikkel. Hy het nog ’n laaste saak om op te los, in Suid-Afrika, en daarna betrek sy dogter hom by ’n raaisel in haar skoon­familie.

Dit is ’n plesier om te sien hoe smaakvol die BBC die laaste twee episodes hanteer het. En elke oomblik dat die kamera op Branagh fokus, bewonder jy hom en wens jy dat die waarheid omtrent die reeks se sluiting nie so aaklig was nie.

American Gothic, wat tans in die laaste pylvak is, is een van daardie amper-sepierige reekse wat die Amerikaners so moeiteloos uitkarring.

Dit handel oor ’n skatryk gesin van Boston wat skielik gekonfronteer word met die moontlikheid dat een van hulle ’n reeksmoordenaar is.

As ek op ’n groot landgoed buite Boston gewoon en soveel geld soos hulle gehad het, sou die reeksmoordenaar nie werklik pro­blematies gewees het nie.

Wat my veel meer geïnteresseer het as die reeksmoordenaar is die manier waarop die vervaardiger probeer het om elke episode te koppel aan een baie beroemde skildery deur ’n Amerikaanse skilder. Die reekstitel verwys natuurlik na Grant Wood se bekende skildery van twee gevrekte Amerikaanse boere.

American Gothic is betreklik spannend, op ’n Dynasty-manier.

Criminal Minds: Beyond ­Borders het erg teenstrydige gevoelens by my gewek. Soos dit waarskynlik die geval sal wees met enige nie-Amerikaner wat al op lughawens te make gehad het met luidrugtige, beterweterige toeriste uit die VSA.

Die reeks het ’n eenvoudige formule. Gary Sinise (wat Mac Taylor was in CSI: New York) is die leier van ’n taakmag wat daarin spesialiseer om Amerikaners te gaan red wat oorsee in die moeilikheid beland.

Dit was gou duidelik dat die meeste van die mense wat in die moeilikheid beland, dit oorkom omdat hulle nie hul oë oopgemaak het om te sien wat rondom hulle aan die gang was nie. Sommige van hulle is ook uiters traag van begrip.

Noodwendig voel ’n mens nie so baie simpatie met hulle nie.

Skynbaar deel die Amerikaners nie my akute gevoel van verveling met die reeks nie – hulle verfilm reeds die tweede seisoen.

Daar is darem nuwe reekse om na uit te sien. Twee baie gewilde rolprent-reekse (Lethal Weapon en Taken) word nou opgevolg met televisiereekse. Albei kom teen einde vandeesmaand aan.

Maar die groot noot op die orrel is dat die nuwe weergawe van MacGyver, met Lucas Till in die naamrol, op 23 September sy eerste uitsending in die VSA het, en ’n dag daarna op DStv te sien sal wees. Kom ons hou duim vas dat dit beter is as die oorspronklike MacGyver.

Meer oor:  Tv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.