Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Kitchen Rules’-paartjie praat oor samoesas, aksent

Die Afrikaanse sakeman Dirk Uys (42) van Somerset-Wes in die Kaap en sy verloofde, die beeldskone regsgeleerde Bahia Karolia (28), is die eerste deelnemers wat die afgelope Sondag uit die My Kitchen Rules SA se hoofkwartier uitgeskop is.

Dirk Uys en sy verloofde Bahia Karolia is die eerste paartjie wat uit die My Kitchen Rules-hoofkwartier gestem is.

“Ek dink ons het eintlik ’n baie goeie kans gestaan om te wen, die geluksgodin was maar net glad nie aan ons kant nie,” het Karolia Maandag by M-Net se kantoor in Randburg gesê.

Sy is in werklikheid amper nog mooier as op televisie en haar Amerikaanse aksent wat televisiekykers so ’n bietjie verwar het in die reeks, is skielik baie minder opvallend.

Sy en Uys lag albei kliphard oor die aksent.

“Ek het nooit besef ek doen dit nie en het dit self eers tot my groot verleentheid agtergekom toe ek na die reeks op televisie kyk. Ek voel skoon skaam daaroor, miskien sal die Voice Clinic my vir ’n kursus borg,” beduie sy.

“Ja, ek het vir haar gesê sy moenie so Amerikaans praat nie,” skerts Uys saam.

Die twee is duidelik mal oor mekaar, al verskil hulle soos dag en nag. Sy het in ’n tradisionele Indiese huis grootgeword waar haar ma amper elke week vir 50 mense op ’n slag kos gemaak het, hy in Stellenbosch waar braaivleis en braaibroodjies aan die orde van die dag was.

Die ene konsentrasie in die My Kitchen Rules-toetskombuis waar jy teen tyd moet speel.

“Kosmaak is eintlik glad nie my ding nie,” erken Uys.

“Maar dit beteken nie dat ek nie alles ingesit het om hierdie kompetisie te wen nie. Omdat Bahia so passievol oor kos is, het sy my gevra om saam met haar aan My Kitchen Rules SA deel te neem en ons het voluit gegaan. Ek is ’n slim ou, ek leer maklik,” sê hy laggend.

Hulle het drie jaar gelede in ’n restaurant in Johannesburg ontmoet en tot 02:00 die oggend gesit en gesels. En hoewel Karolia eintlik die kok en foodie tussen die twee is, het Uys groot waardering vir ’n lekker kerrie. Deesdae geniet hulle dit om dit saam te doen, hoewel Uys steeds volhou kosmaak is nie heeltemal sy ding nie.

Hulle het nie ’n gunstelingdis nie, want Karolia hou nie daarvan om dieselfde ding weer en weer te maak nie. Sy wil nuwe geure en smake ontdek en is baie avontuurlustig wanneer dit by kosmaak kom.

Oor hul samoesas wat hulle hul plek in die kompetisie gekos het, is die twee glad nie uitgesproke nie.

Die sakeman Dirk Uys en sy verloofde Bahia Karolia.

“Ons het daardie degie al 100 keer gemaak en dit was nog elke keer ’n sukses. In Sondagaand se episode was dit die eerste keer ooit dat dit net nie wou werk nie. Ons weet tot vandag toe nog nie hoekom nie, dis maar net een van daai onverklaarbare goed. Ek het onbeheers aan die bewe geraak. Gelukkig sien ’n mens dit nie op televisie nie!” sê Karolia.

Sy wens sy kon net die geleentheid kry om meer van haar kookvernuf ten toon te stel, want sy weet wanneer dit by kos en kosmaak kom, ken sy haar storie.

“Ek het al as kind my spaargeld gebruik om alleen by die Saxon te gaan eet, net om die sjef David Higgs se kos te proe. Kos was nog altyd my passie,” sê sy.

Oor die toekoms is hulle nie een seker nie. Karolia hoop om eendag dalk die geleentheid te kry om restaurante te resenseer of selfs ’n kosprogram aan te bied.

* My Kitchen Rules SA word Sondae om 18:00 op M-Net (kanaal 101) uitgesaai. Besoek mnet.tv/mkrsa vir eksklusiewe onderhoude met die deelnemers.

Meer oor:  Kitchen Rules  |  Bahia Karolia  |  Dirk Uys  |  Randburg  |  Samoesas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.