Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Kokkedoor: 30 nuwe gesigte ding mee om titel

Nie net is daar 30 nuwe gesigte in die nuwe seisoen van die werklikheidsreeks Kokkedoor te sien nie, maar die kombuis waar die deelnemers sake gaan uitspook, is ook heeltemal nuut.

Ná twee reekse van die programme Kokkedoor, Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie, is die oorspronklike Kokkedoor terug vir ’n derde draai in die kykNET-kombuis.

Die werklikheidsreeks word Donderdae om 20:00 op kykNET (kanaal 144 op DStv) uitgesaai en daar is 13 episodes.

Een van die stasies waar die kokke gedurende die kompetisie sal werk.

Die kombuis waarin die kokke hul geregte sal optower, is splinternuut en in Donderdagaand se eerste episode was die opwinding duidelik sigbaar. Voor die eerste uitdaging, waarin die deelnemers ’n gereg met eiers as hoofbestanddeel moes saamslaan, rek die deelnemers se oë oor die heerlike verskeidenheid bestanddele in die Kokkedoor-spens.

Die program sorg ook vir ’n lekkerlag-oomblik wanneer een deelnemer, Gertals Smith van Mitchells Plain, opmerk dat die spens taamlik vol is met al die deelnemers wat gelyk daarin is.

“Die spasie is nie lekker groot nie en ons is nie lekker smal nie,” skerts sy.

’n Ander deelnemer, Mariana Kotze van Standerton, merk op dat sy nóóit so ’n spens in haar huis op die plaas sal hê nie.

Die groot kandelaar wat Harold Webster spesiaal vir die stel ontwerp het.

“Dit is nou nie soos by die huis waar ek moet dink wat ek gaan gebruik pleks van Maizena omdat ek nie Maizena hét nie.”

Sanet Olivier, regisseur van Kokkedoor, sê die art deco-gevoel vir die nuwe Kokkedoor-stel is geïnspireer deur Kaapstad se ou art deco-geboue.

“Ek wou baie seker maak ons ontwikkel ons eie styl, en die groot uitdaging was dat dit nie soos ’n art deco-tema-partytjie lyk nie, maar meer iets soos art decowat die platteland ontmoet,” sê Olivier.

“Die groot kandelaar in die Kokkedoor-stoor en al die art deco-skerms in die kombuis is spesiaal deur ons produksieontwerper, Harold Webster, ontwerp. Omdat ons die kombuis simplisties en gesofistikeerd wou hou, het ons tog besef ons kort hier en daar groot elemente, en dit is waaraan die kandelaar van byna 5 m lank sy ontstaan te danke het.”

Netwerk24 het vroeër berig 30 deelnemers, 20 “onthoukokke” en tien “kinkelkokke” meld in Kaapstad aan vir die begin van die program, maar dat tien “onthoukokke” ná die eerste episode se uitdaging die trekpas kry.

’n Onthoukok is iemand wat nie amptelike sjefopleiding en professionele ondervinding het nie, maar by familielede en vriende, asook uit eie ervaring geleer het om tradisionele kos lekker te kook.

’n Kinkelkok is iemand met sjefkwalifikasies, professionele kombuiservaring en uitstekende tegniese vaardighede. Kinkelkokke word vir hul kwalifikasies en/of hul ondervinding in ’n restaurant of professionele kombuis gekies.

Die reeks word tot in September vanjaar uitgesaai. Daarna kom die ewe gewilde reeks Boer soek ’n vrou in dié tydgleuf op die kassie.

Donderdagaand het die drie beoordelaars, Hetta van Deventer-Terblanche, Nic van Wyk en Sam Woulidge die tien beste geregte uit die 20 onthoukokke se potte gekies en die tien wat nie gekies is nie, huis toe gestuur.

Nou gaan tien spanne met twee kokke elk, ’n kinkel- en onthoukok, dit vir die Kokkedoor-kroon uitspook.

Hier is die top-20 wat ná die eerste episode oorgebly het:

Kinkelkokke

• Anmar Wilding, Wellington

• Annelize Visser, Woodstock

• Danie du Toit, Kempton Park

• Ilana Gossmann, New Castle

• Pasch du Plooy, Heilbron

• Pieter Malan, Witrivier

• San-Marie Kotze, Bredasdorp

• SJ Nel, Stellenbosch

• Snoes Gildenhuys, Stellenbosch

• William White, Hartswater

Onthoukokke

• Lientjie Wessels, Cullinan

• Madelein Roets, Philadelphia

• Mariana Kotze, Standerton

• Marlene Wessels, Northriding

• Ralph Farmer, Krugersdorp

• Rita Willers, Bloemfontein

• Sonja de Beer, Pretoria

• Tippie Enslin, Randburg

• Wilhelmina Garcao, Bloemfontein

• Zelda Els, Hopefield

Meer oor:  Kokkedoor  |  Vermaak  |  Tv-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.