Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Kokkedoor’ se Wilhelmina skep moed ná sy sus verloor

Of jy wen of verloor . . . dit is jou pad. En ’n mens leer met elke tree.

Dít is die onthoukok Wilhelmina Thirion Garção se siening aan die vooraand van die laaste episode van die werklikheidsreeks Kokkedoor wat Donderdagaand op kykNET uitgesaai word.

Die onthoukok Wilhelmina Thirion Garção aan die vooraand van die laaste episode van “Kokkedoor”. Sy en haar spanmaat, die kinkelkok Pasch du Plooy van Oranjeville, het veral Vrystaters op die punt van hul rusbanke met elke kooksessie in die reeks gehad. Foto: Mlungisi Louw

Sy en haar spanmaat, die kinkelkok Pasch du Plooy van Oranjeville, het veral Vrystaters op die punt van hul rusbanke met elke kooksessie gedurende die reeks gehad.

Maar Onseepkans is die trotsste dat Wilhelmina so ver in die reeks gevorder het, want dit is op hierdie Noord-Kaapse dorpie aan die Namibiese grens waar sy saam met haar twee susters leer bak en brou het.

“Ons het nie krag en televisie en sulke goeters op die plaas gehad nie, so ons het onsself maar daarmee vermaak.”

Hulle het brood gebak en álles gebraai, van dassie tot erdman, ’n waaierstertmeerkat.

“Dit is verskriklik! Wat de vy het ons gedink?”

Haar ouers, Niekie en Helena Thirion, woon nou op Douglas in die Noord-Kaap, en het nie geweet dat sy een van die kokke is toe die reeks vroeër vanjaar opgeneem word nie.

“Ek het verskriklik vir hulle gelieg,” sê sy en lag lekker.

Nou huil haar pa met elke episode.

“Ek dink ek laat hom baie aan my sussie dink.”

Wilhelmina Thirion Garção van die “Kokkedoor”-reeks in haar kombuis in Universitas, Bloemfontein.Foto: Mlungisi Louw

Carine Louw, haar ouer suster, is verlede jaar aan servikale kanker dood. Dié twee het altyd saam gebak vir feeste en troues, en met die skielike verlies en rouproses het haar selfvertroue as kok ’n knou gekry.

Kokkedoor het haar gehelp met haar rouproses en het op die koop toe haar selfvertroue ’n hupstoot gegee.

Sy het met elke kookuitdaging aan Carine gedink en moed uit haar suster se vasberadenheid geput.

“Dit was die eerste keer ná haar dood dat ek weer gevoel het daai vlam wat in my brand, is steeds daar, ek moes dit net weer aansteek.

Wilhelmina Thirion Garçãovan die “Kokkedoor”-reeks in haar kombuis in Universitas, Bloemfontein.Foto: Mlungisi Louw

“Die mense wat daar was (op die Kokkedoor-stel) het my daarmee gehelp, omdat baie van hulle ook deur ’n rouproses gegaan het.

“Ek het besef ek hoef nie dood te gaan omdat sy dood is nie.”

Carine sou baie kwaad wees as sy moes toelaat dat haar vlam geblus word.

“Sy sou my ribbes gekraak het of iets!”

Wilhelmina gaan Donderdag saam met Fernando, haar man, en haar suster, Rolien Thirion, na haar ouers toe waar hulle saam met Pieter, wyle Carine se man, en hul dogter, Ileen, na die laaste episode gaan kyk.

Drie susters met ’n passie vir kosmaak. Van links is Rolien Thirion, Wilhelmina Thirion Garção en Carine Louw, wat verlede jaar aan servikale kanker dood is. Wilhelmina het deur die hele Kokkedoor-reeks aan Carine gedink en heel geword in die proses. Danksy die hegte bande wat sy in die reeks gevorm het, het sy weer haar liefde vir bak en kook asook haar selfvertroue teruggekry.

Sy hoop om in die toekoms jong mense te leer kosmaak.

“Ek kom so baie jong meisies teë wat getroud is en kindertjies het, én op ’n plaas sit, maar dan weet hulle nie hoe om te kook nie.”

Die oneindige skeppende moontlikhede van kosmaak en die vermoë wat dit het om ons erfenis te bewaar lê haar na aan die hart.

The world is your oyster, want jy kan eintlik enigiets doen wat jou hart begeer.”

* Wilhelmina en Pasch kook op 27 Oktober saam by sy distilleerdery, De Vry Distillery, tussen Heilbron en Oranjeville.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.