Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Kokkedoor: Vrystaters kraai koning!

Ná ’n spanningsvolle finale episode het twee Vrystaatse kokke Donderdagaand die derde reeks van Kokkedoor, die gewilde kosprogram op kykNET, gewen.

Wilhelmina Thirion Garção van Bloemfontein en Pasch du Plooy van Oranjeville het kykers se mond laat water toe hulle saam met die ander topspan ’n feesmaal vir 100 gaste voorberei het.

Wilhelmina Thirion Garção van Bloemfontein en Pasch du Plooy van Oranjeville het die derde reeks van 'Kokkedoor' gewen. Foto: Verskaf

Die tradisie is ook voortgesit dat al die Kokkedore van die reeks terugkeer kombuis toe vir die finale uitdaging om die twee spanne te help.

“Om Kokkedoor te wen is regtig vir my so ’n ‘humbling’ ondervinding,” sê Wilhelmina.

Die finale episode was emosioneel uitdagend vir haar omdat almal van die reeks weer byeengekom het om saam te kuier en te kook.

“Ek het nog nooit soveel kameraderie gesien en soveel passie onder een dak ervaar nie.”

Pasch sê die liefde waarmee Wilhelmina kosmaak het hom weer laat besef waaroor dit gaan.

Wilhelmina Thirion Garção van Bloemfontein en Pasch du Plooy van Oranjeville het die derde reeks van Kokkedoor gewen.Foto: Verskaf

Pasch en Wilhelmina wen elk ’n Swift van Suzuki Suid-Afrika.

Pasch kry R200 000 kontant met die komplimente van Kokkedoor se spens- en hoofborg Food Lover’s Market. Wilhelmina kry R200 000 van Clemengold.

Die naaswenners, Sonja de Beer van Pretoria en Anmar Wilding van Wellington, kry ook elk R100 000 kontant van Spekko.

“Al die jare se harde werk en amper moed opgee het uiteindelik vrugte afgewerp en nou word my werk erken as goed genoeg,” sê Wilhelmina.

Die naaswenners Sonja de Beer en Anmar Wilding by die wenspan Pasch en Wilhelmina. Foto: Verskaf

Pasch sê die oorwinning beteken vir hom ’n nuwe begin op sy kosreis.

“Dit gee vir my ’n platform om nuwe drome te bereik wat ek al van vergeet het in die gejaag van die lewe.

“Nou kan my drome van oor kos skryf en te gaan reis met kos as fokus waar word, alles danksy Kokkedoor.”

Die tema van die finale uitdaging was ’n Art Deco-banket uit die 1940's in Kaapstad se Old Mutual-gebou met ’n byderwetse spyskaart wat gegrond is op die vyf boustene van smaak (sout, suur, soet, bitter en die ontwykende omami-sintuig).

Pasch en Wilhelmina het die res uitgestof met Shisa nyama (“braaivleis” in Zoeloe) met ’n brandrissiesous en ’n soort sjokolademousse met koffiekondensmelkmousse, afgerond met appelkoosjellie in die middel, wat volgens Wilhelmina die span se hart verteenwoordig.

Pasch en Wilhelmina saam met die beoordelaars. Foto: Verskaf
Meer oor:  Wilhelmina Thirion Garção  |  Realiteitsreeks  |  Wenners  |  Tv  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.