In Donderdagaand se episode van die gewilde werklikheidsreeks Kokkedoor op kykNET het die deelnemers die plaas De Grendel, tuiste van sir De Villiers Graaff, besoek.
“As jy by daai hekke inry, voel jy sommer jy is nou by die ‘sir’ se plek,” het Pieter Malan van Witrivier gesê.
Die tafels is in die tuin gedek en die gesin en hul gaste het vir ’n feesmaal aangesit.

Ralph Farmer, Wilhelmina Garçãoen Pasch du Plooy op die gras by die De Grendel-plaas.Foto: Verskaf
Die deelnemers moes elkeen ’n pastei berei met ’n Victoriaanse kinkel, en Pasch du Plooy en Wilhelmina Garção het hul pastei aan die gaste voorgesit.
“Die pastei was vreeslik lekker,” het Graaff, die vierde baronet van De Grendel, in Engels gesê. “Dit was regtig lekker vogtig. Die kokke het hulle uitstekend van hul taak gekwyt.”
Sy vrou, Gaedry, het ook die madeleines (koekies) wat voorgesit is, geniet.
Die deelnemers het later op die gras gesit en gesels en grappe gemaak en vir Sonja de Beer was dit heerlik om in die buitelug op die plaas te ontspan.

Mariana Kotze van Standerton en Danie du Toit van Kempton Park moes die kompetisie verlaat.Foto: Verskaf
In Donderdagaand se episode was die kombuis stiller as gewoonlik, met deelnemers wat hul geregte ekstra fyn beplan het.
Heelparty het opgemerk dat die einde naby is, en dat die kleinste foutjie met ’n gereg hul ondergang in die kompetisie kan beteken.
Du Plooy en Garção is uiteindelik as die wenspan van Donderdagaand se uitdaging aangewys nadat hulle ’n rits komplimente vir hul geregte by die beoordelaars gekry het.
Die beoordelaars was veral beïndruk met die twee se tydsberekening en dat daar genoeg tyd was sodat hulle hul pastei kon bak. Hul roomsjokoladerol het ook uitgestaan as een van die beste nageregte.
Mariana Kotze van Standerton en Danie du Toit van Kempton Park is deur die beoordelaars huis toe gestuur. Kotze het deur die reeks baie vermaak verskaf en is beslis ’n gunsteling onder kykers.
Daar is nou net twee episodes van Kokkedoor oor en die drie topspanne is: Pasch du Plooy en Wilhelmina Garção; Ralph Farmer en Pieter Malan; en Anmar Wilding en Sonja de Beer.
Die werklikheidsreeks word Donderdae om 20:00 op kykNET (kanaal 144 op DStv) uitgesaai.

Die vier spanne in Donderdagaand se episode.Foto: Verskaf