Die DSTV-kanaal kykNET sê Pam Okkers, ’n deelnemer aan die realiteitsprogram Kwarantyn, was nie rassisties nie.
Okkers (53), die tannie van die Scheepers-gesin, het in ’n regstreekse uitsending van die program tydens ’n kaartspeletjie vir lede van haar familie gesê het: “Hei jou m***”
’n Ander deelnemer, Jana Le Roux, is gediskwalifiseer omdat sy die k-woord gebruik het.

Pamela ‘Pam’ Okkers, die tannie van die Scheepers-gesin. Foto: Verskaf
Die reeks word 24 uur per dag op DStv-kanaal 149 uitgesaai en wys hoe die Le Roux- en Scheepers-gesin teen mekaar meeding waar hulle in ’n huis “in kwarantyn” is.
Die Menseregtekommissie (MRK) het egter Sondag gesê daar moet op ’n konsekwente wyse opgetree word teen almal wat “rassistiese aanmerkings” maak.
“Wat my betref, is die twee uitlatings op dieselfde vlak. Daar moet konsekwent opgetree word. Konteks speel ’n rol, maar dit is hoogs problematies as dit by dié soort woorde kom,” sê adv. André Gaum, kommissaris van die MRK.
Volgens Karin Meiring, direkteur van M-Net se kykNET-kanale, is dit nie geval nie.
“Pam se taalgebruik, gemik op die jonger vroue in hul span was beledigend, maar binne die kulturele konteks nie rassisties nie.
“Die woord het nie dieselfde konnotasies vir verskillende groeperinge binne Afrikaanse taalgemeenskappe nie.
“Ons betwyfel nie dat die woord wat deur Pam gebruik is beledigend en rassisties is én dat dit aanstoot kan gee nie, maar die konteks van die voorvalle verskil. Die deelnemer is baie streng oor hierdie taalgebruik aangespreek,” het Meiring Sondag gesê.
Pam se taalgebruik, gemik op die jonger vroue in hul span was beledigend, maar binne die kulturele konteks nie rassisties nie
Kykers het sedert Vrydagaand op sosiale media gesê hulle voel Okkers moet dieselfde straf as Le Roux kry.
Die voorval waarin Le Roux die k-woord gebruik het, het Donderdagaand gebeur toe die twee gesinne aan die vasvra-speletjie 30 Seconds deelgeneem het.
Die Scheepers-gesin het die speletjie gewen.
Albei gesinne het saamgestem dat die speletjie moeiliker was as die vorige week, waarna Jana, die ma van die Le Roux-gesin, gesê het dit was ’n “k****rpak”.
Okkers se voorval het glo voor Le Roux s’n plaasgevind.
Benedict Maaga, MultiChoice se woordvoerder, sê hulle sal nie kommentaar lewer nie “omdat die saak op kanaalvlak hanteer word”.