Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Kwarantyn’ se Le Roux’s sien uit na hul eie beddens

Die Le Roux-familie was baie opgewonde om ná sewe weke weer snoesig in hul eie beddens te slaap.

Hulle is Woensdagaand as die wenners van kykNET se werklikheidsreeks Kwarantyn aangewys.

#SpanLeRoux bestaan uit Braam le Roux (50, die pa), Manie le Roux (19, die seun en “skoonboetie”), Lisa le Roux (26, die dogter), Adriaan Briel (26, Lisa se verloofde), en Heinrich Olwage (25, die neef).

Hulle was verheug toe Ferdinand Rabie, wat die rol van Die Opsigter vertolk het, aankondig dat hulle wegstap met die kontantprys van R250 000.

Op 10 Junie het Suid-Afrika die Le Roux- en Scheepers-familie ontmoet en sedertdien het dié twee uiteenlopende families volksbesit geraak. Kykers het gedeel in hul blydskap en hartseer, en het Woensdagaand afskeid geneem van dié unieke inwoners.

Die Le Roux-familie is Woensdagaand as die wenners van kykNET se werklikheidsreeks Kwarantyn aangekondig. Foto: Verskaf

Die twee families het 50 dae lank in twee aangrensende huise teen mekaar meegeding terwyl hulle “in kwarantyn” was vir die boerpot.

Kykers het weekliks die geleentheid gehad om vir hul gunstelingfamilie te stem. Al die stemme die laaste paar weke is bymekaar getel en die Le Roux-familie het die meeste stemme gekry.

Die program is die afgelope twee maande 24 uur per dag regstreeks op DStv se opwipkanaal 149 uitgesaai, met hoogtepuntepisodes op kykNET.

Die families het kykers vermaak met onder meer kosuitdagings, kunsprojekte en vroegoggend oefensessies tot karaoke, saamkuier en besoeke deur bekende persoonlikhede – daar was nie ’n vervelige oomblik nie.

Die Le Roux-familie het nadat hulle as die wenners gekroon is aan Netwerk24 gesê dat hulle “sprakeloos” is.

Volgens Lisa het hulle aanvanklik “probeer” om Kwarantyn met ’n strategie aan te pak, “maar dit het nooit uitgewerk nie”.

Haar broer, Manie, sê dat hulle ooreengestem het om net hulself te wees en nie te verander nie.

“Ons was eintlik net onsself gewees en dit is hoe ons deurgedruk het,” val Lisa hom opgewonde in die rede.

Manie beskryf die hele ervaring as baie stresvol, veral om jou beste in al die uitdagings te gee. Dit het vir Heinrich geleer om ’n wag voor sy mond te plaas.

Hoewel #SpanScheepers nie met die boerpot weggestap het nie, gaan hulle huis toe met R156 000. Foto: Verskaf

Blykbaar nog salig onbewus van die nasionale staat van inperking wat nog al die pad voortduur, het Heinrich, Manie en Lisa kort ná die aankondiging gesê hulle sal nou graag in die Bosveld wil gaan uitspan.

Lisa verduidelik dat die boerpot gelykop tussen die lede verdeel gaan word. Sy spot dat sy hoop die ander lede gaan help betaal aan haar en Adriaan se troue.

Uit hierdie hele ervaring gaan Braam die meeste vir die Scheepers-familie mis, terwyl Lisa die groeptake en Manie die speletjiesaande gaan mis.

En Hein? Hy gaan sy gesprekke voor die kameras in die huis mis.

Cam 1, 2, 3, 4 in die sitkamer – my tjommies.”

Die Le Roux-familie het gelyktydig beaam dat hulle nie kan wag om weer in hul eie beddens te slaap nie.

Die reeks is vroeër in omstredenheid gedompel nadat Jana le Roux (49), die ma van die Le Roux-gesin, die k-woord op televisie gebruik het en gevolglik gediskwalifiseer is. Dit volg nadat die gesinne een aand aan die vasvraspeletjie 30 Seconds deelgeneem het. Die Scheepers-gesin het die speletjie gewen en Le Roux het na hul loesing as ’n “k*****pak” verwys.

Rabie het destyds in ’n video gesê hy het geen ander keuse as om haar te diskwalifiseer nie.

“Die belangrikste reël van Kwarantyn is dat ons geen diskriminasie of rassistiese opmerkings duld nie. Hierdie reël is gisteraand gebreek. Dit laat my geen (ander) keuse as om Jana te diskwalifiseer nie,” het Rabie in die video gesê.

Kykers het daarna op sosiale media gesê hulle voel Pamela ‘Pam’ Okkers (53), die tannie van die Scheepers-familie, moet dieselfde straf as Le Roux kry.

Okkers het in ’n regstreekse uitsending van die program tydens ’n kaartspeletjie vir lede van haar familie gesê: “Hei jou m***”.

Die voorval het glo voor Le Roux s’n plaasgevind.

Karin Meiring, direkteur van M-Net se kykNET-kanale, het vroeër gesê dat Okkers nie rassisties was nie.

“Pam se taalgebruik, gemik op die jonger vroue in hul span, was beledigend, maar binne die kulturele konteks nie rassisties nie.”

Hoewel die Scheepers-familie nie gewen het nie, stap hulle nie met leë hande weg nie. Caryn Cloete (21, die familievriend) wen die prys vir die deelnemer wat die eerlikste en mees opreg was en ontvang R10 000 kontant. Dié prys word toegeken deur die Kwarantyn-span wat die twee families die afgelope twee maande 24/7 dopgehou het.

Die kunswerke wat die afgelope week deur die twee families gemaak is, is op veiling geplaas en R156 000 is op dié manier bymekaar gemaak. Die geld word aan die Scheepers-familie geskenk.

Meiring sê in ’n verklaring: “Kwarantyn het ons geneem deur ’n spektrum van ervarings: Van skadukante tot uitgelate vreugdes soos dit net in Afrikaans moontlik is. Die program was meer as ’n sosiale eksperiment. Dit het vermaak, ’n spieël voorgehou en kulture nader aan mekaar gebring.”

Mense het al gevra of hulle vir ’n naweek in die Kwarantyn-huise kan kom oorslaap.

kykNET skerts hulle kan besprekings by Gretha (die spook in Austin Scheepers [19, die seun en neef] se kamer in die Scheepers-huis) bevestig.

Meer oor:  Familie  |  Wenners  |  Werklikheidsreeks  |  Beddens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.