Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Kwarantyn: ‘Wat vir 1 geld, moet vir ander geld’

Politieke ontleders sê sowel die m-woord as die k-woord wat op die kykNET-program Kwarantyn gebruik is, is in die Suid-Afrikaanse konteks neerhalend en rassisties.

Intussen sê die Suid-Afrikaanse Uitsaaiklagtekommissie (UKKSA) hy het reeds klagtes oor albei voorvalle ontvang en die Menseregtekommissie (MRK) het die voorvalle vir assessering verwys.

Dis dubbele standaarde. Albei woorde het ’n apartheidskonnotasie.

kykNET het Maandag gesê hy het die klagtes van die UKKSA ontvang en sy regulatoriese afdeling hanteer dit.

Die kanaal het sy stelling van Sondag benadruk dat die m-woord self beledigend en rassisties is, maar in hierdie geval kan die betrokke insident op Kwarantyn vanweë die kulturele konteks daarvan nie as rassisties bestempel word nie.

Pam Okkers (53), die tannie van die Scheepers-gesin. Foto: Verskaf

Karen Meiring, direkteur van M-Net se kykNET-kanale, het Sondag gesê Pam Okkers (53), ’n deelnemer, was daarom nie rassisties nie toe sy in ’n regstreekse uitsending van die program tydens ’n kaartspeletjie vir lede van haar familie gesê het: “Hei jou m**d.”

’n Ander deelnemer, Jana le Roux, is gediskwalifiseer omdat sy die k-woord gebruik het.

“Die woord het nie dieselfde betekeniskonnotasies vir verskillende groeperinge binne Afrikaanse taalgemeenskappe nie. Ons betwyfel nie dat die woord wat deur Pamela gebruik is beledigend en rassisties is én dat dit aanstoot kan gee nie, maar die konteks van die insidente verskil. Pamela se taalgebruik, gemik op die jonger vroue in hul span, was beledigend, maar binne die kulturele konteks nie rassisties nie. Die deelnemer is baie streng oor hierdie taalgebruik aangespreek,” het Meiring Sondag gesê.

Politieke ontleders het egter Maandag gesê in die Suid-Afrikaanse konteks is albei woorde beslis aanstootlik en het dit ’n negatiewe, neerhalende konnotasie.

“Dis dubbele standaarde. Albei woorde het ’n apartheidskonnotasie,” sê prof. Amanda Gouws, politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch.

Die toets vir haatspraak is of ’n redelike persoon sou dink die mens wat die term gebruik het die bedoeling om ander te krenk vanweë hul ras.

Gouws sê sy “kan nie verstaan hoekom die een (deelnemer) gediskwalifiseer is en die ander een nie”.

Ralph Mathekga, politieke ontleder, sê kykNET moet verantwoordelikheid aanvaar en moes deelnemers voor die voorval vir sensitiwiteitsopleiding gestuur het.

Jana Le Roux (49), die ma van die Le Roux-gesin. Foto: kykNET

“Albei woorde is neerhalend en ons moenie net na individue kyk nie, maar ook na die platforms waar dit gebeur. Hoekom is dit aanvaarbaar as iemand so ’n term gebruik, maar dis onaanvaarbaar as iemand anders dit sê? Dit is ook onaanvaarbaar as byvoorbeeld swart mense die k-woord onder mekaar gebruik,” sê Mathekga.

kykNET het Maandag gesê hy kan nie kommentaar lewer op die prosesse van die MRK nie. Die kanaal sê ook deelnemers ontvang voor die tyd dieselfde voorbereiding as dié van alle ander realiteitsprogramme en dat sensitiwiteite op meer as een geleentheid onder hul aandag gebring word.

Prof. Pierre de Vos, grondwetkenner, sê die woorde is beslis rassisties, maar dui nie noodwendig op haatspraak nie.

“Die toets vir haatspraak is of ’n redelike persoon sou dink die mens wat die term gebruik, het die bedoeling om ander te krenk vanweë hul ras,” sê De Vos.

Shouneez Martin van die UKKSA het Maandag bevestig hulle het klagtes oor albei voorvalle ontvang, maar kan in die stadium nie kommentaar hieroor lewer nie.

Adv. André Gaum, kommissaris van die MRK, sê albei woorde is beslis rassisties en is na die kommissie se Gauteng-kantoor verwys vir assessering om te besluit of dit haatspraak is en of hulle strafregtelike stappe gaan doen.

Meer oor:  Menseregtekommissie  |  Kwarantyn  |  Realiteitsreeks  |  Tv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.