Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Kwêla’ Dorp van die Jaar is . . .

Sy diverse gemeenskap, sy berge, sy staproetes en watervalle, sy verwelkomende restaurante en koffiewinkels, sy liefde vir kuns en feeste en sy gasvryheid teenoor vakansiegangers.

Die uitsig op die berge naby Greyton wat tans met sneeu bedek is. Foto: Facebook/Greyton Tourism

Dit is wat Greyton in die Overberg met die louere laat wegstap het in die TV-joernaalprogram Kwêla se Dorp van die jaar-kompetisie.

“Dit is ’n mylpaal wat baie nuwe voete na die dorp sal bring, nie net nou nie maar in die jare wat kom,” sê Chris Cloete, die dryfveer agter die dorp se veldtog vir dié titel.

Cloete, wat die afgelope nege jaar op die dorp woon en die restaurant Via’ En Ambiance besit, sê oor die afgelope jaar het verskeie rolspelers, insluitend die Theewaterskloof-munisipaliteit en die Greyton-toerismevereniging, bymekaargekom om die veldtog te dryf.

“Ons het ’n houding van dankbaarheid ingeneem. Die tema van die veldtog was om dankie te sê vir ander en dit wat hulle bydra tot die dorp.”

Die naam van die veldtog is Thumbs Up Greyton en die organiseerders het die publiek se hulp gevra om per SMS vir Greyton te stem.

Die Kwêla Dorp van die Jaar-titel word elke jaar toegeken aan die dorp wat die meeste SMS-stemme ontvang.

Die prys word aan Greyton-oorhandig. Van links is Melinda Cloete (Chris Cloete se vrou), die Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk, Roslyn Petersen van Greyton Toerisme en Chris Cloete, die dryfkrag agter Greyton se veldtog. Foto: Verskaf

In Sondagaand se episode van Kwêla op kykNET is Greyton as die 11de wenner van die kompetisie gekroon.

Kareedouw het in 2020 met die louere weggestap en Swakopmund, Jeffreysbaai, Mosselbaai, Mariental, Graaff-Reinet, De Rust, Sabie, Fouriesburg en Middelburg het ook al die Dorp van die Jaar-kroon gedra.

Die ander twee dorpe in die topdrie was St. Francis in die Oos-Kaap (tweede) en Upington in die Noord-Kaap (derde).

Nie net kan Greyton nou met ’n gesogte titel spog nie, maar Kwêla se produksiespan verfilm ’n toerisme-advertensie van 45 sekondes vir dié dorp. Dié advertensie sal op TV uitgesaai word te danke aan nog ’n prys van TV-lugtyd ten waarde van R1 miljoen.

’n Perd stap in die strate van Greyton in die Overberg. Foto: Facebook/Greyton Tourism

Die dorp wen ook die KIA-makietie wat op die dorp gehou sal word sodra openbare samekomste weer deur nasionale inperkingsregulasies toegelaat word.

Greyton het in 1854 sy naam gekry toe die Cloete-familie die plaasgrond waarop die dorp geleë is, aan Herbert Vine verkoop het. Die dorp spog met besonderse leiwaterslote en pragtige natuurskoon. Die omliggende berge was Sondag met sneeu bedek, sê Cloete.

Daar is 600 beddens beskikbaar vir reisigers om te bespreek in die omgewing en die dorp is die tuiste van die jaarlikse Roos-fees, die Classics for All-musiekfees en die Greyton Art Walk.

Die dorp is ook bekend onder stappers vir sy Boesmanskloof-roete in die Greyton-natuurreservaat.

Een van die oudste geboue in die dorp dateer uit die 1830’s en is nou die tuiste van die Old Potter’s-bierbrouery.

Kwêla word Sondae 18:00 op kykNET (kanaal 144 op DStv) uitgesaai.

Meer oor:  Kwêla  |  Dorp Van Die Jaar  |  Greyton
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.