Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
KYK: Coenie bring goeie nuus

Daar is hoop, dinge sal oukei wees.

Dit is die boodskap wat die sanger Coenie de Villiers en omroeper Lyntjie Jaars met die nuwe reeks Stories wat saak maak wil tuisbring.

Dié reeks, wat goeie nuus met kykers deel, begin Sondag op VIA en op 10 Augustus op eExtra.

Lyntjie Jaars en Coenie de Villiers

“Mense is vuisvoos as hulle van al die slegte nuus verneem,” sê De Villiers.

“Hulle lees van misdaad, korrupsie en oorlog, maar ons wil vir hulle wys watter goeie stories daar in Suid-Afrika is. Dit is ook stories wat sal inspireer.”

De Villiers onthou die storie van ’n petroljoggie wat vir ’n vrou R100 geleen het.

“Daar is soveel Suid-Afrikaners wat wonderlike goed doen en mense weet nie daarvan nie. Ons wil dit wys. Daarom gaan ons ook kykers nooi om stories aan ons te stuur wat ons sal opvolg.”

Jaars, ’n omroeper by Radio Namakwaland, en De Villiers het mekaar in 2018 ontmoet.

“Sy is so innemend en so natuurlik op televisie en sy praat ’n vreeslike mooi Afrikaans,” sê De Villiers.

“Ek het dadelik aan haar gedink om die program aan te bied.”

Jaars bied die afdeling vir korporatiewe maatskaplike investering aan.

“Maatskappye moet aangemoedig word om terug te ploeg,” sê De Villiers.

“En daar is sulke gevalle, maar die program is nie reklame vir die maatskappye nie. Die begunstigdes maak deel uit van hierdie insetsel.”

Bekendes soos die skrywer Deon Meyer, die sangeres Corlea en die akteurs Lizz Meiring en Erik Holm kom kuier ook in die ateljee.

“Hierdie deel van die program handel oor wie hierdie bekende mens nou eintlik is. From the known to the unknown. Jy weet, ’n mens voer dikwels onderhoude waar jy oor die persoon se werk praat, maar agterna besef jy dat jy steeds nie veel van die mens weet nie. Nou leer ons die mens ’n bietjie ken. Wat gee vir hulle aan die lewe betekenis?”

In elke episode gaan ’n koerant- of tydskrifredakteur ook ’n goeienuusstorie deel.

Elke week gesels ’n komediant van die Joe Parker-komedieklub ’n minuut lank oor dinge wat hulle as Suid-Afrikaners laat glimlag. Die komediant Shimmy Isaacs lewer in hierdie trant ook ’n tong-in-die-kies-bydrae oor waarom dit lekker is om ’n Suid-Afrikaner te wees. Sy doen dit as die karakter Sherri-Lee Miller, ’n pop wat deur die aktrise Michelle Botha geskep is.

“Ja, ons word dikwels aan slegte nuus blootgestel,” sê De Villiers.

“Maar ons moet onthou dat daar midde-in die swaar tye steeds ook baie goeie goed gebeur.”

* Die reeks word Sondae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) en Saterdae om 19:30 op eExtra (DStv-kanaal 195) uitgesaai.

Meer oor:  Via  |  Coenie De Villiers  |  Goeie Nuus  |  Omroeper  |  Aanbieder  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.