Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
KYK: Dana Snyman raak ‘treinbekruiper’

Die reisskrywer Dana Snyman beskryf homself deesdae as ’n treinbekruiper.

Hy doen dit na aanleiding van die vierde reeks van die reisreeks Op pad met Dana wat Dinsdag op VIA begin, of liewer wegtrek, want in die jongste reeks lê hy die langpad af per trein.

Op pad met Dana
Dana Snyman Foto: VIA

Niel van Deventer, vervaardiger, het vroeër mense aangemoedig om hul treinstories en -herinneringe te deel met die doel om dit moontlik in die reeks te gebruik.

Op pad met Dana - VIA
Dana Snyman by Harry Botha, klank- en kameraman.

“Weet jy, treinmense is eintlik ’n hengse groot subkultuur,” sê Snyman.

“Treinbekruipers neem treine af. Hulle sit op die stasie en wag dat ’n trein aanmeld, dan neem hulle dit af. Ek het byvoorbeeld ’n laaitie op De Aar dit sien doen. En ek doen dit ook nou. Mense neem dit soms sommer met hul selfoonkameras af. Hierdie geweldige liefde wat mense vir treine het, fassineer my.”

Die reeks begin waar Snyman in die Kaap op pad na Touwsrivier op die trein klim.

In ’n stadium stop hy ook in Laingsburg en daarna op Prins Albert-Weg se stasie.

Snyman word meestal net deur een kameraman vergesel.

Die eerste paar episodes is voltooi, maar die span redigeer nog aan die meeste van die episodes.

“Daar is maar net iets aan treinry. ’n Mens kom op merkwaardige stories af. Ek het nou die dag gelees van iemand wat met ’n tikmasjien op die trein was. Langenhoven het ook baie trein gery.”

Daar is ook baie fiksie in Afrikaans waar treine ter sprake kom.

“Een skrywer se naam was selfs Oom Lokomotief. (Digters soos) Van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, A.G. Visser het almal oor treine gedig. Die digter Clinton V. du Plessis van Cradock het besonderse treingedigte geskryf.”

VIA
Dana Snyman ry trein in Op pad met Dana.

Snyman wil ook ’n gedig deur Totius, “Repos ailleurs” (Die rus is elders) iewers in die reeks gebruik.

Die eerste reëls lui: “In die eensame veld staan ’n tentjie klein,/ en daarnaas in die skeemring skuif die ligtende trein;

Die gedig beeld twee mense se onderskeie uitsigte uit – die een spreker sien vanuit ’n tentjie ’n trein in die verte en wil eintlik graag in die “vrolike trein” wees. Die ander spreker wil weer graag in die “tentjie klein” wees.

Vir Snyman hou treine ’n bekoring in.

“Dit is skoon en veilig op die treine wat lang afstande ry. Treine loop ongelukkig dikwels laat. As hulle betyds loop, sal ek baie graag meer gereeld trein ry. Treine is vir my net so besonders.”

* Op pad met Dana word Dinsdae om 21:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

VIA
Die lang pad word per trein in die vierde reeks van Op pad met Dana afgelê.
Meer oor:  Via  |  Dana Snyman  |  Treine  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.