Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
KYK: Gaan ‘Big Bang’ met ’n knal groet?

Toemaar, jy kan verder lees – ons gaan niks verklap nie.

Aanhangers van die wetenskapkomedie The Big Bang Theory kan gerus ’n snesie of twee byderhand hou wanneer dié TV-treffer se 12de en heel laaste seisoen binnekort in Suid-Afrika ten einde loop.

Van The Big Bang Theory se sterre: Sheldon (Jim Parsons), Rajesh (Kunal Nayyar), Penny (Kaley Cuoco), Howard (Simon Helberg) en Leonard (Johnny Galecki). Foto: fanpop.com

Die laaste twee episodes is reeds een na die ander op 16 Mei in Amerika uitgesaai, maar M-Net gaan die pleister op eie bodem stadiger aftrek en die slot-episodes skei: Dit sal onderskeidelik op 12 en 19 Junie om 19:30 op DStv-kanaal 101 uitgesaai word.

Die reeks fokus op die skreeusnaakse en pynlik ongemaklike wel en wee van ’n groep wetenskaplikes – onder hulle die eksperimentele fisikus dr. Leonard Hofstadter (Johnny Galecki) en sy aanvanklike kamermaat, die teoretiese fisikus dr. Sheldon Cooper (Jim Parsons) – wie se paaie met die hiperkoel kelnerin Penny (Kaley Cuoco) kruis. Wanneer ’n vriendskap tussen hulle, die ingenieur Howard Wolowitz en die astrofisikus dr. Rajesh Koothrappali blom, kry die reeks momentum wat kykers die afgelope 12 jaar al vasgenael hou.

Dit word deur talle kykers beskou as een van die mees suksesvolle Amerikaanse sitkoms. Die slot-episodes is volgens The New York Times deur 18 miljoen kykers gekyk, en die reeks het in sy geheel al ’n lang lys van pryse ontvang, insluitende 10 Emmy-pryse.

Maar dit is die reeks se soeklig op veral die wetenskap wat wyd en syd lof kry. Nie net is egte wetenskap deur gekwalifiseerde fisici in die reeks ingewerk nie, maar dit het jong mense aan ’n beroep in die wetenskap blootgestel en aangespoor om dit na te jaag. Veral die vrouekarakters in die reeks – die neurowetenskaplike dr. Amy Farrah Fowler (vertolk deur die akteur en neurowetenskaplike dr. Mayim Bialik) en die mikrobioloog dr. Bernadette Rostenkowski-Wolowitz – het ’n sleutelrol gespeel in jong vrouekykers se besluit om wetenskaplikes te word. ’n Studiefonds is ook deur die reeks op die been gebring om jong wetenskaplikes te ondersteun.

Wat in die pylvak in die reeks voorlê, durf ons nie sê nie, maar kykers sal ’n rits vrae hê:

Gaan Sheldon en Amy die Nobelprys wen? Is Amy swanger? Gaan die hyser, wat al 12 jaar lank buitewerking is, weer werk? En gaan iemand eindelik vir ons sê wat Penny se van is?

Kritici op Rotten Tomatoes is in hul noppies met die groot groet. “Dit was oor die algemeen ’n lieflike en gepaste slot – presies wat aanhangers verwag,” skryf Newsday se Verne Gay.

Ashley Bissette Sumerel van Tell-Tale TV skryf die slot-episodes voltooi ’n kringloop. Dit is “emosioneel, goed geskryf en het ’n meestal bevredigende slot”.

* Nog nie ’n episode van The Big Bang Theory gekyk nie? Die TV-en-rolprent-webtuiste Digital Spy het bereken dat dit jou vyf dae, 19 uur en 30 minute sal neem om al 12 seisoene van die reeks te kyk – oorgenoeg tyd voor M-Net die slot-episodes op 12 en 19 Junie om 19:30 uitsaai. ’n Ekstra episode wat ’n agter-die-skerms-kykie op die reeks bied, sal eers op 26 Junie om 19:30 op M-Net te sien wees.

Meer oor:  The Big Bang Theory  |  Televisie  |  M-Net
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.