Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Kyk: ‘Game of Thrones’-aanhangers vroeg uit vere

Dit het gevoel soos ’n ewigheid vir die sesde reeks van Game of Thrones om aan te breek, en toe is die eerste episode in ’n oogwink verby.

Reg om te begin! Oomblikke voordat die sesde reeks van 'Game of Thrones' Maandagoggend in Suid-Afrika uitgesaai is. Foto: Rozanne Els
Die vreesaanjaendste White Walker in Kaapstad – Leonie Mollentze. Foto: Rozanne Els
Dalk die bose Cersei? ’n Model se uitrusting herinner aan die bose magsbehepte karakter. Foto: Rozanne Els
Louis Cilliers en Rochelle Redgard van Centurion het die vertoning van die eerste episode van 'Game of Thrones' in Rosebank bygewoon. Cilliers het as Ned Stark opgedaag en sê hy het dié uitrusting ’n jaar gelede self gemaak. Redgard het haar Daenerys-uitrusting Sondagaand uit klere in haar kas saamgestel. Foto: Charlea Sieberhagen
Lloyd en Jessica Pillay tydens die vertoning van die eerste episode van die nuwe seisoen van Game of Thrones. Lloyd het soos ’n White Walker aangetrek. Foto: Charlea Sieberhagen
Jurie Cilliers (19), ’n student aan die Universiteit van Pretoria, sê hy is ’n groot aanhanger van die reeks. 'Ek het nog nie die boeke gelees nie, want ek het baie dik fisika-handboeke wat my besig hou,' het hy gesê. Foto: Charlea Sieberhagen
Carmyn Gast (20) het ook as Daenerys opgedaag en haar ma se mantel en ’n strooimeisierok ingespan om soos dié karakter te lyk. Foto: Charlea Sieberhagen

Miljoene mense oor die wêreld heen het op hete kole gewag vir die temalied om op te klink. Hier in Suid-Afrika het die eerste note klokslag om 03:00 begin speel.

Terwyl duisende plaaslike aanhangers knus onder die komberse gewag het op nuus van Jon Snow se lot, het die regte kanniedoods na die Ster-Kinekor-teaters in Cavendish Square in Kaapstad en The Zone in Rosebank, Johannesburg, opgeruk om die aksie op die grootskerm te sien.

Ywerige kykers het gekom as hul geliefde karakters – van Daenerys, moeder van drake, tot die dapper kryger Brienne tot die Rooi Vrou Melisandré, en ’n angswekkende White Walker saam met wie almal foto’s wou laat neem.

In Kaapstad het Leonie Mollentze al Sondag 18:00 met haar grimering begin en drie uur later was sy slaggereed om die vreesaanjaendste White Walker op Suid-Afrikaanse bodem te wees.

Mollentze is deel van ’n groep vriende wat hulself die House of Wyrd gedoop het. Dié vriende is oor die wêreld heen versprei. Maar ongeag waar hulle is, hulle probeer altyd die reeks saam kyk en gesels dan met mekaar via WhatsApp, sê Mollentze.

Vir haar is die lekkerste deel van die reeks dat niemand veilig is nie – selfs die grootste karakters se koppe kan enige tyd rol.

Het sy dan gaan slaap met ’n hele lyf vol grimering?

“Ek het maar wakker gebly en weer die vyfde reeks gekyk,” sê sy laggend.

Trouens, dit blyk asof dít die meeste van dié oggenddiere se strategie was: Om hulself weer in die ou reekse te verlustig – daai laaste paar uur het die wag net te lank gemaak!

Fazielah Williams is ook deel van die House of Wyrd en het – rooi pruik en al – as Melisandré opgedaag.

“Ek is mal oor die reeks se intensiteit. Dit is so goed geskryf,” sê sy.

Yazeed Samodien sê Game of Thrones het die afgelope paar jaar ’n groot deel van sy lewe geword. Die reeks het hom nog net een keer laat huil, in episode nege van die vyfde reeks.

Lloyd Pillay en sy vrou, Jessica, wat in Kempton Park woon, het in ’n hotel naby Rosebank ’n vinnige uiltjie geknip voordat hulle die nuwe episode op die grootskerm gaan kyk het. Lloyd, spierwit geklee met ’n vreesaanjaende masker, het besluit om as ’n White Walker op te daag.

“Ons wil van die eerste mense wees wat die nuwe episode sien,” het hy gesê.

Carmyn Gast van Pretoria het ’n ou mantel van haar ma en ’n ou strooimeisierok ingespan om soos Daenerys aan te trek.

“Ek is gek na Game of Thrones. Jy kan nooit raai wat volgende gaan gebeur nie. En die karakters het almal dryfkrag en ambisie.”

Jurie Cilliers, ’n student in chemiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria, moes ná afloop van die episode gereed maak om teen 07:30 in ’n wiskundeklas te wees.

“Ek sal maar wakker bly deur baie nota’s te neem,” het hy gesê.

Die Kaapse én Johannesburgse kykers het benoude oomblikke beleef toe die teater se DStv-dekodeerder vanself begin herlaai het net toe ’n belangrike toneel begin het.

Gelukkig het ’n Vinnige Fanie in die Kaap sy slimfoon uitgeruk en die episode gestroom totdat dinge weer aan die rol op die grootskerm was.

Ons kon nie juis sien wat gebeur nie – daai skerm is klein, hoor – maar ons kon darem hoor dat Brienne se swaard steeds vlymskerp is. Johannesburgse kykers moes maar raai wat gebeur.

* Game of Thrones word Maandae om 03:00 op M-Net Edge (kanaal 102) saam met die Amerikaanse uitsending uitgesaai. Dit wys ook Donderdae om 21:00 op dié kanaal en word gevolg deur After the Thrones, ’n geselsprogram waarin die afgelope episode bespreek word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.