Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
KYK: Hier kom groot veranderinge by 'Binnelanders'

Vandeesmaand kom daar groot veranderinge in die gange van die Binneland Kliniek. Splinternuwe, sowel as reeds bekende karakters, maak hul verskyning in dié sepie.

Wie is heeltemal nuut?

1. Elani Dekker

Elani Dekker Foto: Verskaf

Monique (Elani Dekker) is aangestel as die persoonlike assistent van At Koster (Hans Strydom), maar dit raak al hoe duideliker dat haar fokus nie op die grootbaas van die hospitaal is nie. Op 27 Junie lig sy die sluier oor wie sy werklik is, wanneer sy ’n eerlike gesprek met Lika Bosch (Lea Viviers) het – en dié onthulling gaan nog groot nagevolge inhou.

Elani is kliphard aan die skiet aan ‘Toorbos’ in Knysna. Die aktrise is nie ’n onbekende onder fliekgangers nie, aangesien sy reeds op die grootskerm aandag getrek het in ‘Jou Romeo’ (saam met die voormalige Binnelanders-akteur Ruan Wessels in die hoofrol), en ‘Vaselinetjie’ (as die ouer weergawe van die karakter Pizzaface).

2. Lindsey Abrahams

Lindsey Abrahams Foto: Verskaf

Chanel Samuels, gespeel deur Lindsey Abrahams, daag ook sak en pak op in Pretoria op 18 Julie, om aan te sluit by die personeel van Binneland Kliniek. Chanel se pa is ou vriend van Steve, maar terwyl die drama hoogty vier in die Kongo, het Steve en Lexi skoon vergeet van dié verpleegstertjie se aankoms. Die arme Chanel daag op voor dooiemansdeur, en gaan bitter vinnig ’n plan moet maak om ’n heenkome te vind.

Lindsey was voorheen te sien as Chantel Davids in die kykNET-dramareeks Knapsekêrels, asook die verhoogstuk Kinnes wat by KKNK2018 opgevoer is, en het ook al ’n draai in Ruiterbosch gemaak toe sy die rol van Lauren vertolk het in Suidooster.

3. Kim Syster

Kim Syster Foto: Verskaf

Kim Syster maak haar buiging in die sepie op 20 Julie as Jax – en sy is beslis nie ’n dokter wat jy sonder handskoene wil aanpak nie. Behalwe dat sy haar man beslis kan staan onder enige omstandighede, is sy ook ’n vrou wat respek afdwing – en nie net omdat sy genoodsaak is om die bestuur van dié veldhospitaal oor te neem nie. Jax het ook ’n geheim wat sy ten alle koste wil en moet beskerm, en dit gaan beslis besluitnemings beïnvloed wanneer Elana en Steve agterkom wat hierdie geheim is.

4. Conrad Kemp

Conrad Kemp Foto: Verskaf

Jax is darem nie alleen aan die stuur van sake in die Kongo nie: Sy word ondersteun deur dr. Charles Johnson (gespeel deur Conrad Kemp), ’n reisende chirurg wat vir die laaste ses maande by die veldhospitaal in die Kongo is. Charles is nie iemand wat hou van magspeletjies nie, en sy hoofdoel is om na die pasiënte om te sien – al kos dit hom ook ’n bietjie van sy siel.

5. Edwin van Jaarsveld

Edwin van Jaarsveld Foto:

Terug in Pretoria ontmoet ons ook uiteindelik vir Boeta Ferreira (gespeel deur Edwin van Jaarsveld) wanneer hy en vroulief, Renate (gespeel deur Sandra Vaughn), na hul tienerdogter Trudie (Daniah de Villiers) op 20 Junie moet begin soek. Trudie verdwyn soos ’n groot speld wanneer sy wegloop by die skool, en dit raak nog erger wanneer almal besef sy is dalk nie so lewenswys soos wat sy dink nie. Sy verdwaal nie net in die middestad van Johannesburg nie, maar maak ’n paar keuses wat heelwat ouers slapelose nagte sal gee.

Die gekompliseerde verhouding wat daar reeds heers tussen Okkie (Ben Kruger) en sy seun Boeta word later in die maand verder gevoer wanneer Boeta ’n renosterhoring in die hande kry, en At Koster se wildplaas ook deel word van die nuwe intrige.

Wie kom terug?

1. Lea Viviers

Lea Viviers Foto: Verskaf

Lea is nie heeltemal ’n onbekende aan Binnelanders-aanhangers nie. Sy het reeds in Januarie haar eerste verskyning gemaak as die karakter Lika Bosch, ’n verpleegster by ’n private kliniek wat omgesien het na Jana Koster (Brümilda van Rensburg) en duidelik ’n indruk op At gemaak het.

Op 18 Junie, kontak Karli du Preez (Pascal Pienaar) weer die bekwame verpleegster om haar ’n guns te vra – maar dalk is Karli se oproep ondeurdag. Kort voor lank is Lika sak en pak terug in Pretoria – maar waar is Jana dan?

Lea is ook te sien in die kykNET-komedie Mense, Mense as Salomé en is ook te sien in die rolprent Wonderlus wat in April in teaters begin draai het.

2. Pietie Beyers

Pietie Beyers Foto: Verskaf

Pietie Beyers gaan ook weer van 27 Julie die rol van dr. Deon Visser vertolk wanneer Jana se peetkind se lewe in gevaar is. Deon het Binneland Kliniek ’n jaar gelede gegroet om sy heil te gaan vind in die opwinding van avontuur en genesing toe die karakter aangesluit het by Dokters sonder Grense (MSF). Maar of dit nog presies dieselfde blinkoog Deon is wat ons gesien het, sal net die toekoms ons leer.

3. Bradley Olivier

Bradley Olivier Foto: Verskaf

Bradley Olivier is ook vir ’n wyle terug as Danny Jantjes. Danny is ’n paramedikus wat nie nonsens vat nie – indien dit nog nie duidelik was gedurende Steve en Bronwyn Abrahams (vertolk deur Kim Cloete) se doodsnikke van hul huwelik nie. Bronwyn se broer hou ’n ogie oor Lexi (gespeel deur Kisha Skeï), maar raak ook so meer betrokke by die wel en weë van die personeel van die private kliniek.

Wie bly nou permanent?

1. Ilne Nienaber

Hykie Berg en Ilne Nienaber.Foto: Verskaf

Ilne Nienaber, wat vir ’n geruime tyd nou al te sien is as dr. Elana Bester, sluit ook permanent aan by die rolverdeling van Binnelanders. In Julie gaan hierdie dokter se staal wel getoets word wanneer sy saam met dr. Steve Abrahams na die Kongo vertrek. By die veldhospitaal aangekom, is dr. Jax Davids nie die enigste verrassing wat op hulle wag nie. Te midde van etniese geweld in die land is daar ook ’n raaisel of twee om op te los – mits die raaisels natuurlik nie hul lewe as offerande vra nie.

Kykers kry nou ook ’n kykie buite die hospitaal

Hierdie dramatiese storielyne gaan die kykers wegneem van die hospitaal, en hulle aan die ongenaakbare omstandighede van die Kongo - asook die ongereptheid van At Koster se wildsplaas en Johannesburg se middestad – blootstel. Die buitetonele, wat vir die eerste keer weer deel word van die storievertelling in die reeks sedert Binnelanders destyds ’n uurlange weeklikse drama was, is in en om Johannesburg verfilm.

  • Binnelanders word elke weeksaand om 19:30, slegs op kykNET (kanaal 144 op DStv), uitgesaai.
Meer oor:  Binnelanders  |  Sepie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.