Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
KYK: Kwêla se klein Funnies-wenner steeds gek na kougom

’n Bloemfonteinse kleuter se liefde vir kougom was byna daarmee heen nadat haar oupa sy tandeplaatjie uitgehaal het “om te wys wat gebeur as jy te veel kougom eet”.

Vida-Ani Markgraaff (3) van Bloemfontein blaas nou lekker borrels nadat haar liefde vir kougom byna daarmee heen was. Haar oupa Archie Markgraaff (76, links) het sy tandeplaatjie uitgehaal het om te wys wat gebeur as jy te veel kougom eet – en die petalje is op die wenvideo opgeneem. Vida-Ani sit by haar ma, Lize-Maré. Foto: Mlungisi Louw

Vida-Ani Markgraaff (3) wil steeds niks van oupa Archie Markgraaff (76) se plaatjie weet nie, soos ook die geval was in die video wat uiteindelik die kykNET-joernaalprogram Kwêla se Funnies-afdeling gewen het.

Maar die kougom het sy nie laat staan nie – sy het ’n houer vol kleurvolle kougombolle en kan nou groot borrels blaas! Dit is haar “oefen-kougom”. Haar ma, Lize-Maré, het haar twee maande gelede leer borrels blaas.

Vida-Ani se video waarin sy by die aanskoue van Oupa se plaatjie terugdeins en onmiddellik haar kougom uithaal sodat ouma Gwennie dit kan weggooi, is Sondag as wenner aangewys.

Dié bekkige kleuter het by dié oupa en ouma in Universitas, Bloemfontein, gekuier toe Gwennie die wen-video geneem het.

Hierin sit sy op die kombuistafel en kou kougom. Oupa sê haar tande gaan uitval as sy te veel lekkergoed eet.

Sy skud haar kop en sê “maar ek eet nie lekker baie goed nie”. Sy kou verder.

“Jy kan net een ‘chewing gum’ ’n dag eet, hoor, nie meer as een nie,” sê haar oupa in die video.

Haar mond is nou stil en haar oë beweeg rond. Dan kom die groot skok toe Oupa sy tande uithaal . . . tot groot vermaak van talle kykers wat uiteindelik vir dié video gestem het.

Dié wen-video het aan haar twee oumas ’n oorsese reis besorg. Ouma Gwennie en ouma Ansie Coomans, wat die video ingeskryf het, gaan op die wenreis na Amsterdam.

Oupa Archie Markgraaff maak asof hy sy tandeplaatjie gaan uithaal, terwyl Vida-Ani (3) kougomborrels op ma Lize-Maré se skoot blaas. Foto: Mlungisi Louw
Oupa Archie, Vida-Ani en ma Lize-Maré Markgraaff. Foto: Mlungisi Louw

Die onthouding van kougom was van korte duur. Sy het kort nadat sy die kougom uitgehaal het, vir ’n nuwe een gevra, vertel Archie.

“Sy’t by ons gekuier en ons het haar daar op die kombuistafel gesit en met haar gesels. Sy was toe net so twee jaar en nege maande oud, maar sy kon met jou ’n gesprek voer,” sê Archie in Lize-Maré en haar man, Marco, se huis in Heuwelsig, Bloemfontein.

En toe Hannes van Wyk, Kwêla-aanbieder, in die onderhoud vir haar ’n appel en kougom aanbied, wou sy niks van die kougom weet nie.

Vida-Ani eet alles – van aspersies en broccoli tot kougom, sê Lize-Maré

“Ons is eintlik baie bevoorreg, want sy eet alles, sy hou van alles. Behalwe spinasie.”

Net by die aanhoor van “spinasie” en “plaatjie” trek sy haar gesig op ’n plooi. Tussendeur bemoei sy haar met die swart katjie Lulu.

Vida-Ani bid elke aand vir sneeu en om te vlieg, sê Lize-Maré. Nou is haar een wens bewaarheid met haar vlug na die Kwêla-ateljee in Kaapstad.

Dit was maar ’n uitdaging om die geheim van die wen-video stil te hou, met Vida-Ani wat vir almal sê sy het gevlieg en oom Hannes het dit gereël, vertel haar ma. Die opname is ’n paar dae voor die uitsending gemaak.

Lize-Maré sê die Bloemfontein-gemeenskap het fluks vir Vida-Ani gestem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.