Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
KYK: Leerlinge, personeel praat oor Driehoek-brugtragedie op kykNET

Van die leerlinge en personeel van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark waar ’n loopbrug op 1 Februarie op die skoolterrein ineengestort het, praat Sondag oor hul geloof en pyn in die slot-episode van die kykNET-reeks In die oomblik.

Vier leerlinge is dood en byna 30 is beseer.

Blomme buite die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark ná die brugtragedie op 1 Februarie. Foto: Felix Dlangamandla

“Ons wou ’n veilige ruimte skep vir die leerlinge en die personeel om te praat oor hul geloof in die Skepper, maar ook in die mensdom,” sê Deidré Brand, vervaardiger en regisseur van die reeks wat fokus op hoop, transformasie en hoe om positiewe verandering in jou lewe teweeg te bring.

Brand is familie van Marli Currie, een van die leerlinge wat dood is.

“Ek wou eers nie die storie doen nie, want dit is te na aan my, dis te persoonlik. Ek het my egter laat lei deur die Here. Toe ons met die reeks begin het, was dit die heeltyd in my agterkop dat een van die episodes moet handel oor die verlies van ’n kind.”

Die reeks kombineer ook geestelikheid en sielkunde, aangebied deur Wilmien Human, ’n kliniese sielkundige aan die Universiteit van Johannesburg.

“Ons het begin skiet aan al die episodes en alles het in plek geval, al die stories het op tyd na my gekom,” sê Brand.

Hoërskool Driehoek
Hein Knoetze, voorheen die skoolhoof van die Hoërskool Driehoek.

“Vir die heel laaste episode kon ek net nie ’n storie kry nie. Letterlik net voordat die tragedie by die Hoërskool Driehoek gebeur het, het ek ’n ander storie vasgemaak. Tog was dit ook of die Here vir my wou sê: Nee, dit is nie die storie wat jy gaan vertel nie”.

Brand en haar man, Andrew Brand, het twee dae saam met die personeel en leerlinge deurgebring.

Hein Knoetze, die skoolhoof (wat intussen afgetree het), een van die onderwyseresse, Elaine Smit, die hoofmeisie, Clarissa van Zyl, en talle leerlinge gesels oor die gebeure van 1 Februarie.

Die traumaberader Anneri du Plessis neem ook deel.

Hoërskool Driehoek
Elaine Smit, 'n onderwyser aan die Hoërskool Driehoek.

“My doelwit met hierdie episode is dat dit nie sensasioneel moet wees nie. Dit gaan oor die mense, hul pyn, hul hartseer. Die episode is om te sê ons is daar om hulle by te staan.”

Human gesels in die ateljee met prof. Malan Nel, verbonde aan die fakulteit teologie aan die Universiteit van Pretoria, oor tragedies en geloof.

Ds. Stephan Joubert sluit die program af met ’n insetsel oor lyding.

Brand wou graag die mense se stories op ’n eerlike manier vasvang. “Tieners is lief vir die uitdrukking van bou ’n brug en kom daaroor. Dit is ’n brug wat hulle kan bou, maar dis ’n brug waaroor hulle nie maklik sal kan stap nie. Dit was ’n gewone dag en toe gebeur iets wat alles in ’n oomblik verander het. Daar is baie hartseer, en hoewel baie van hulle nie fisiek beseer is nie, is daar nogtans baie letsels.”

* In die oomblik word Sondag om 09:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

In die oomblik
'n Loopbrug het op 1 Februarie op die terrein van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark ineengestort.
Meer oor:  Stephan Joubert  |  Kyknet  |  Hoërskool Driehoek  |  Brugtragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.