Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Kyk Maandag ‘Die ware naarheid’ op kykNET
Bibi Slippers, Schalk Bezuidenhout en Erns Grundling van Die Ware Naarheid.

En hier volg Die ware naarheid . . .

Of liewer, skakel van Maandag af op kykNET in of kom sit in die gehoor om te kyk wat die komediant Schalk Bezuidenhout in dié satiriese nuusprogram in die mou voer.

Soos ’n mens kan verwag, skram hy allermins van sy eie mening weg.

So ook het die weeklikse gas ’n mening of twee oor ’n onderwerp waarmee die kykers hulle dalk nie sou vereenselwig nie.

Dan praat Bezuidenhout se twee “korrespondente”, Erns Grundling en Bibi Slippers, ook saam.

Ondanks die grappe of tong-in-die-kies-kommentaar is die inhoud van die program van ’n halfuur lank alles korrek en waar.

Bezuidenhout sit agter ’n lessenaar, soos wat ’n mens van ’n nuusprogram verwag.

“Daar word wel menings uitgespreek,” sê Bezuidenhout. “Maar die nuus is nie fake news nie. As ek iets sê, is daar beeldmateriaal of so wat dit staaf. Mense kan dit gaan google.”

Die span gaan soek nie self die stories nie. “Ons lewer kommentaar op bestaande nuus,” sê Slippers.

“Dit is in die openbare domein, so ons kan nou nie ’n hele bulletin vat nie, maar ons kan ’n greep daarvan gebruik.”

Volgens Grundling is die beeldmateriaal baie belangrik om ekstra gewig aan die program te verleen.

“Want as dit 22 minute net van ons gepratery is, mag dit dalk platval. Jy het daai video’s nodig om dit interessant te maak en die nuus toe te lig. Ons is nie talking heads nie.”

Die span werk hard, maar hulle staan tog ook in skoene wat hulle ken.

“Schalk pas natuurlik in sy komedierol,” sê Slippers, “en ek en Erns hou uit die aard van ons werk in elk geval redelik tred met die nuus. Dis maar so up ons alley.”

Grundling verwys na die boek Comedy Writing for Late-Night TV deur Joe Toplyn, wat onder meer ’n hoofskrywer van die program Late Show with David Letterman was.

"Hy (Toplyn) vertel die groot uitdaging van hierdie tipe werk is dat jy in die kantoor kom sit, en of daar ’n muse is, of ’n grappie of nie, dit maak nie saak nie; jy moet iets lewer. “Daardie dissipline en die roetine daarvan is deel van wat ons doen. Snaaks genoeg werk hierdie soort druk vir my.”

“Ja,” beaam Slippers, “daar is regtig nie ruimte vir uitstel nie. Dit is letterlik ’n geval van dit móét nóú gebeur, of anders, niks . . . en ons moet by die tyd van die program hou.”

Bibi Slippers, Schalk Bezuidenhout en Erns Grundling sal jou in die nuwe satiriese nuusprogram Die Ware Naarheid op die hoogte van die nuus hou.

Elke episode bestaan grotendeels uit ’n teks wat gevolg moet word. Die enigste segment waarin Bezuidenhout dalk sal improviseer, is wanneer hy in die derde segment met die gas gesels.

Die eerste gas van die reeks is die Glam Guru, Hannon Bothma, en hy gesels oor die parlementsopening en die LP’s se modes.

“Dit moet mense wees wat op ’n interessante, snaakse of vreemde manier met die nuus oorvleuel,” sê Grundling. “Of dalk ’n lekker, ingeligte mens wat hopelik ’n snaakse, ingeligte mening sal hê oor die een of ander nuusgebeurtenis.”

* Die ware naarheid word Maandae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Om deel te wees van die gehoor in die weeklikse regstreekse opname van die program in Randburg, Johannesburg, stuur ’n e-pos aan bookings@nouvanaand.co.za om te bespreek.

Meer oor:  Erns Grundling  |  Bibi Slippers  |  Schalk Bezuidenhout  |  Johannesburg  |  Randburg  |  Televisiereeks  |  Televisie  |  Kyknet  |  Komedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.