Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
The Crown: Diana, Charles 'was nie so nie'

Met die storielyn van die ikoniese Diana, ontslape Prinses van Wallis, vervleg met dié van koningin Elizabeth het die vierde seisoen van Netflix se gewilde The Crown vraatkykers reeds in vervoering.

Die vierde seisoen is Sondag te midde van groot afwagting uitgereik, maar is daar is reeds in die Britse media en op sosiale media kommer uitgespreek dat te maklik met feite in die reeks omgegaan word.

Op Twitter het koninklike aanhangers geskryf hulle hoop nie die reeks lei weer tot ’n Diana- en Camilla-kamp nie en dat Diana nie as ’n soort heilige uitgebeeld word nie.

In die vierde reeks van The Crown betree Diana die koninklike verhoog en is dit veral prins Charles se verhouding met Camilla Shands (en ná haar huwelik Parker-Bowles) waar fiksie die ware stand van sake verbysteek.

Charles en Camilla

Charles het nie tydens die eerste jare van sy huwelik met Diana sy verhouding met Camilla hervat nie. Hyself het in ’n onderhoud met Jonathan Dimbelby erken dat Camilla weer sy minnares geword het toe dit duidelik was dat sy huwelik met Diana onherstelbaar was.

(Diana het ook self ’n hele paar verhoudings gehad terwyl sy getroud was.)

Die skuld vir Diana se bulimie - en die grafiese uitbeelding daarvan in The Crown - kan ook nie net bloot voor Charles of die koninklike familie se deur gelê word nie. Selfs haar ouma aan moederskant, lady Ruth Fermoy, het haar teen ’n verhouding met Charles gemaan.

Selfs Diana se ouma het gewaarsku
Diana en prins Charles met die amptelike bekendmaking van hul verlowing op 24 Februarie 1981. Foto: Getty Images

Fermoy was ’n hofdame en hegte vriendin van Charles se ouma, die koninginmoeder. Fermoy het ook nie nie saam met die koninginmoeder Kupido gespeel om haar kleindogter en Charles bymekaar te kry nie.

Andrew Morton het in sy boek Diana: Her True Story geskryf dat Diana se ouma vir haar gesê die koninklike lewe sal haar nie pas nie. “Liefling, jy moet verstaan hulle sin vir humor en lewenslyn is anders, ek dink nie dit sal jou pas nie.”

Charles en Diana se huwelik was allermins ’n sprokieshuwelik. Hulle het mekaar dertien keer ontmoet voor hul troudag op 29 Julie 1981: dit was eintlik niks minder as ’n gereelde huwelik nie.

Die rusie in die katedraal

Lady Diana Spencer en prins Charles ná ’n repetisie in die St. Paulus-katedraal twee dae voor hul huwelik op 29 Julie 1981. Foto: Getty Images

Diana het Charles ook nie tydens ’n repetisie voor hul troudag in die St. Paulus-katedraal in Londen trompop geloop oor die armband met die letters G en F waarop sy afgekom het met ’n kaartjie vir Camilla nie. (Dit was ’n geskenk wat Charles aan Camilla laat stuur het en waarop Diana in sy perssekretaris se kantoor afgekom het. Die G en die F was Charles se verwysing na Camilla as Girl Friday, sy noemnaam vir haar.)

Ook die skrywer Penny Junor het in haar boek The Untold Story geskryf dat Diana en Charles nooit baklei het oor die armband nie (anders as in The Crown), maar ’n gesprek daaroor gevoer het.)

Ook prins William is glo ongelukkig oor die nuwe seisoen. Die ingeligte wat met die Mail on Sunday gepraat het, sê William sien die uitbeelding van sy ouers as uitbuiting. “Hy voel dat beide sy ouers uitgebuit word en op ’n valse en simplistiese manier uitgebeeld word om geld te maak,” het die bron gesê.

’n Bron in Buckinghampaleis het Netflix daarvan beskuldig dat daar steeds wonde is van Charles en Diana se egskeiding. “Die gebeure is nie die geskiedenis van 100 of selfs 50 jaar gelede nie. Die wonde is steeds rou en genoeg tyd het nog nie verloop nie. Fiksie raak meer aanloklik as feite.”

Emma Corrin vertolk die rol van Diana en Josh O’Connor is prins Charles in Netflix se gewilde reeks The Crown. Foto: Netflix

Sally Bredell Smith, ’n gerekende koninklike biograaf, sê die uitbeelding van Charles en Diana in the vierde reeks is vals. “Daar behoort ’n waarskuwing aan die begin van elke episode te wees om kykers te waarsku dat dit fiksie is en enige ooreenkoms met karakters wat nog leef of reeds dood is bloot toevallig is. Kykers moenie ’n rat voor die oë gedraai word nie. Hierdie is ’n Downton Abbey-weergawe van die koninklike familie.”

Arthur Edwards, wat al meer as vyftig jaar lank die koninklike familie afneem, het Saterdag in The Sun geskryf hy herken glad nie die prins wat in The Crown uitgebeeld word nie. Volgens Edwards was Charles lief vir Diana en is hy nie die hartelose man wat in The Crown se nuwe seisoen te sien is nie.

• Vrae oor prins Harry se samewerking met Netflix is ook in die Britse media gevra oor Harry en sy vrou, Meghan, se samewerking met die stromingsdiens. Die twee het ’n multimiljoenrand-kontrak met Netflix gesluit om onder meer dokumentêre programme te vervaardig.

Meer oor:  Prinses Van Wallis  |  Diana  |  Prins Charles  |  Fiksie  |  Feite  |  The Crown
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.