Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
KYK: Minireeks kyk uit 'n ander hoek na Mandela se lewe

“Dit is regtig nou eers dat ek die omvang van die ongelooflike gebeurtenis in my lewe begryp,” sê Zelda la Grange, voormalige assistent van oudpres. Nelson Mandela, oor die nuwe minireeks Madiba: ‘n Uitsonderlike roeping.

Oudpres. Nelson Mandela
Zelda la Grange

Die reeks, wat deur Carien Loubser vervaardig is, begin op 28 Julie op kykNET (DStv-kanaal 144).

“Ek wonder steeds in ongeloof of dit werklik ek is wat daardie voorreg gegun is,” sê La Grange, wat 19 jaar aan Madiba se sy was totdat hy in 2013 in die ouderdom van 95 dood is.

Hy was Suid-Afrika se eerste demokraties verkose president van 1994 tot 1999.

La Grange en Loubser het drie jaar gelede oor so ’n reeks begin praat. Daar is nog selde in Afrikaans so iets oor hom aangebied. Die reeks, wat vir haar ’n ontdekkingsreis en katarsis was, fokus onder meer op die jong lewe van Mandela.

Daar is nog min oor daardie tydperk in sy lewe ontgin, sê La Grange.

“Ons het gaan soek na die dinge waarvan ons min of meer altyd geweet het, maar waarvan die fynere besonderhede nooit bekend was nie.”

Dit word uit ’n ander hoek bekyk as waarop historici gewoonlik sal fokus.

“Ek wou spesifiek weet wat die omstandighede was rakende sy ma se dood. Wie die tannie was wat sy lewe in ’n ander wentelbaan gesit het toe hy weggehardloop het van die troue af wat die regent vir hom gereël het en wie die regter was wat sy lewe gespaar het, al het hy hom en ander tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

“Ek wou sien hoe die stasie in Bityi in die Oos-Kaap vandag lyk waar hy van die troue wou vlug. Hoe sy klaskamer, koshuis, die tuin waar hy op skool gewerk het, asook die hofsaal waar hy en ander gevonnis is nou lyk.”

La Grange, wat van 1992 tot 1994 by die departement van staatsbesteding gewerk het, se verhouding met Madiba het oor die jare gegroei.

“Geen mens bly dieselfde persoon oor 19 jaar nie. Jy verander en jy groei. Jou omstandighede, jou ondervindings en blootstelling verander jou. Ons het ’n wedersydse afhanklikheid gevorm soos die tyd gevorder het en op ’n tyd moes mev. Machel met hom raas omdat hy my telefonies te veel en gereeld gepla het, ná ure, soos sy gesê het. Hoewel ek dit natuurlik waardeer het, was dit nooit vir my ’n straf nie, maar eerder ’n roeping.”

Oudpres. Nelson Mandela
Oudpres. Nelson Mandela en Zelda la Grange. Foto: kykNET

Die reeks gaan egter nie daaroor nie. Daardie deel van La Grange se lewe en haar verhouding met Mandela is die fokuspunt van ’n rolprent wat saam met die regte van haar boek, Goeiemôre, mnr. Mandela, deur die Brit Trudie Styler bekom is. Dit word tans ontwikkel.

La Grange en Loubser het al twee jaar gelede aan Madiba: ‘n Uitsonderlike roeping begin werk.

“Dit is nie net nog ’n onderwerp waaroor ’n mens blasé kan wees nie. Jy praat van geskiedenis en Madiba se storie is nie ’n ligtelike een nie. Madiba is nie net tuis geliefd nie. Die wêreld het hom amper op ’n groter voetstuk geplaas as ons Suid-Afrikaners. Die internasionale mense se insae is belangrik om ons te herinner hoe die res van die wêreld sy impak beskou en hoe belangrik die beskerming van sy nalatenskap vir ons is.”

Mense soos Mandla Mandela, ’n kleinseun, Bill Clinton, oudpresident van die VSA, die sanger en aktivis Bono, die sakemagnaat Richard Branson, die akteur Morgan Freeman, emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu en adv. George Bizos verskyn in die reeks.

Die reeks sluit ook ’n onderhoud met Eddie Daniels in, wat saam met Mandela op Robbeneiland was. La Grange het hom in Helderberg, Somerset-Wes, besoek. Twee soorte kanker is by Daniels gediagnoseer.

“Ek wou net gaan hallo sê en liefde gee. Ek was altyd mal oor oom Eddie en kon so lekker vir hom lag. Madiba het om as een van sy beste vriende in die tronk beskryf, al was hulle nie van dieselfde politieke party nie.”

Daniels was betreklik sterk en La Grange het agterna vir Loubser laat weet dat hulle met hom op kamera moet praat. Hy het die jonger Madiba geken.

“Ons geskiedenis gaan stadig dood saam met hierdie ou mense en dit maak my angstig. Ons het oom Eddie ’n paar maande later op kamera gehad en op ’n windstil dag in die Kaap het ek hom gevra: ‘Oom Eddie, mis jy Madiba?’ Daar was ’n oomblik van stilte en in daardie oomblik het ’n ligte briesie die wind chimes laat sing wat in sy huisie se deur hang. Dit was ’n magiese oomblik. Ek hoop ons kan reg daaraan laat geskied op kamera, maar daardie dag het ek geweet ons doen die regte ding.”

La Grange sê dis moeilik om die lesse wat Madiba haar geleer het uit te sonder, maar respek is die een ding wat op al hierdie lesse van toepassing is.

“Daar is soveel meer nuanses tot sy karakter en nalatenskap. Dit is nie ’n politieke reeks nie en ons het die alledaagse goed gaan soek waaroor mense, en veral ek, al gewonder het.”

* Madiba: ‘n Uitsonderlike roeping begin op 28 Julie en word Sondae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.