Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
KYK: Oud-Egoli-ster jaag spoke in nuwe reeks

Kykers met ’n goeie geheue en ’n voorliefde vir dokumentêre programme oor legendes en mites, gaan in ’n nuwe Amerikaanse TV-reeks ’n bekende gesig sien.

Só lyk Cliff Simon vandag. Foto: cliffsimon.com

Cliff Simon, wat tussen 1992 en 1999 die rol van die sakeman Gregory “Mitch” Mitchell in Egoli: Plek van goud vertolk het, is die uitvoerende vervaardiger en aanbieder van Uncharted Mysteries wat vanaf 4 Junie in Suid-Afrika uitgesaai word.

Simon (57) ondersoek in elk van die reeks se ses episodes verskillende bonatuurlike verskynsels dwarsoor Amerika wat Jan en alleman behoorlik die skrik op die lyf jaag.

“Ek was werklik opgewonde om dié reeks aan te pak,” sê Simon aan Netwerk24 vanuit Los Angeles, waar hy hom sedert 2000 gevestig het.

“Ek wou nog altyd ’n avontuurprogram aanbied en net myself wees. Akteurspel is my werk en ek is mal daaroor, maar dit is nie wie ek is nie. Die fantastiese ding van dié reeks is dat dit net ek is, die ware Cliff, wat my ‘ding doen’.”

Die reeks, wat al vyf jaar aan die kom is, spruit gedeeltelik uit Simon se eie belangstelling in die bonatuurlike en paranormale.

“Ek het al my eie ervarings met geeste, spoke of wat jy dit ook al wil noem, gehad. Ek glo ek het ook al VVV’s gesien, maar ek praat nie eintlik daaroor nie want almal soek behoorlike bewyse – en dít is waaroor Uncharted Mysteries gaan.”

Die reeks was nie sommer maklik nie, sê hy, omdat dit op verafgeleë, afgesonderde en soms gevaarlike plekke opgeneem is.

“Elke episode en gebied het sy unieke uitdagings gehad. Dit was interessant toe ek en André, my kameraman, ’n rivier moes oorsteek en hy aan my vasgeklou het omdat hy bang was hy word meegesleur – ook toe ons in 43 °C ’n moeras in Louisiana moes aandurf met muskiete so groot soos vlermuise en slange wat langs ons swem.

“In die Mojave-woestyn het ratelslange in die hitte van 49 °C kop uitgesteek, en dit was ook nie maklik om die berg Shasta te klim terwyl jy heeltyd verwag iets bonatuurlik gaan op jou spring nie. So ja, dit was beslis fisiek en geestelik veeleisend.”

Die reeks is eintlik die soveelste op Simon se kerfstok sedert hy en sy vrou, Colette, Suid-Afrika verlaat en in 2005 Amerikaanse burgers geword het. Benewens stemwerk in die rolprent Avengers: Age of Ultron het hy talle gasverskynings in TV-reekse soos 24, Days of Our Lives, NCIS, Criminal Minds: Beyond Borders en The Americans gemaak. Hy het ook oor ’n tydperk van ses jaar die rol van Ba’al in die wetenskapsfiksiereeks Stargate SG-1 vertolk, maar hy sê dit was beslis nie kinderspeletjies om ’n loopbaan in Amerika na te jaag nie.

“Die eerste jaar hier was baie moeilik. Ná my sukses in Suid-Afrika het my ego en my beursie ’n kwaai klap gekry – maar dit is waarvoor ek gevra het, wat ek wou hê en wat ek gekry het: ’n nuwe uitdaging en om dit te oorkom.

“Maar ek gaan nie jok nie: Dit is baie, baie moeilik. Dit is ’n moeilike bedryf, ek moet nog daagliks swoeg, en ek sit nooit terug en sê vir myself: Oukei, ek het dit nou gemaak, ek is suksesvol nie. Ek vergelyk myself eintlik altyd met ’n haai: As dit ophou beweeg, hou dit op met asemhaal, en dit is hoe ek ook voel.”

Hy sê wanneer hy in Suid-Afrika kom, is dit vir hom ’n riem onder die hart dat hy steeds as die aantreklike sakeman in Egoli herken word.

“Ah, Mitch! Ek mis hom,” sê hy laggend. “Wanneer ek in Suid-Afrika kom, hoor ek gereeld: ‘Hei, Mitch, jou bliksem!’ Dit is werklik vir my ’n eer dat Suid-Afrikaners my steeds onthou.

Onthou jy? Só het die akteur Cliff Simon in die skoene van Gregory “Mitch” Mitchell in ‘Egoli’ gelyk. Foto: Twitter

“Ek sal nooit spyt wees oor enige ondervinding of rol, goed of sleg, wat ek ervaar het nie, want dit het my gehelp om as mens te groei – ook die rol van Mitch. Elke deur waardeur jy stap lei jou tot ’n nuwe geleentheid en elke rol gee vir jou nog ervaring wat jy in die toekoms kan gebruik.

“Ek het natuurlik goeie én slegte dae gehad, maar my herinneringe van Egoli is net goed, en elke liewe persoon wat daarop gewerk het, het hulle so fantasties van hul taak gekwyt. Ek mis hulle almal steeds – en as enige van hulle hierdie onderhoud lees, wil ek net vir hulle sê: Hoesit?!”

  • Uncharted Mysteries word tussen 4 Junie en 9 Julie elke Donderdag om 20:15 op History (DStv-kanaal 186) uitgesaai. Elke nuwe episode word op Vrydae om 09:55 en Saterdae om 14:00 herhaal.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.