Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
KYK: ‘Boereverneukers’ in SA

Selfs gedurende die onderhoude wat wel goed verloop het, was die RSG-omroeper en joernalis Izak du Plessis skrikkerig tydens die verfilming van die VIA-reeks Boereverneukers.

Die reeks van 13 episodes begin Dinsdag om 20:30 en vertel die stories van berugte Afrikaanse skelms en is gegrond op sy gelyknamige boek.

Boereverneukers
Izak du Plessis Foto: VIA

Dit sluit in mense soos die beesbaron-swendelaar Arno Smit en die Langkloof se Ruitertjie Ruiters.

“Ek het ondervinding van met mense werk, en natuurlik was nie almal ewe ontvanklik nie,” sê Du Plessis.

“Mense het nou nog verskillende, sterk emosies oor (die kubuskoning) Adriaan Nieuwoudt. Daar was vriendelikheid én vyandigheid. Daar was ’n vrou wat nogal aggressief teenoor ons was.”

In die boek Boereverneukers: Afrikaanse swendelaars, swierbolle en swerkaters wat in 2017 deur Penguin uitgegee is, skryf Du Plessis oor mense soos Nieuwoudt, Gervan Lubbe, die pynmasjienman, André Esterhuizen, die kamma-pediater, David Francis, die Hertzogville-profeet, en die Trustbank-rowers, Derek Whitehead en Antonie van der Merwe.

Izak du Plessis, aanbieder van die VIA-reeks ‘Boereverneukers’. Foto: VIA

“Die meeste van die karakters in die boek is in die reeks,” sê Du Plessis.

“Met die skryf van (my vorige boek), Ralph Haynes: Godfather van die Wes-Rand, was ek vir ’n jaar in kontak met baie van hierdie mense. Ek was uit my diepte. Ek is ’n emosionele mens. Ek kan dit nie keer nie. As iets vir my mooi is, huil ek, as iets my hartseer maak, huil ek.”

Du Plessis, onder meer joernalis by die RSG-joernaalprogramme Monitor en Spektrum, het ongeveer ses weke op die pad deurgebring.

“Ek het nog nooit so hard gewerk nie. Dit was nie speletjies nie. Gelukkig is ek uit die aard van my persoonlikheid opgewonde oor wat ek doen. Ek hoop dit skemer deur.”

Sekere onderhoude het hom emosioneel gemaak.

“Ek wens ons kon elkeen van die onderhoude net so uitsaai. Ek was baie op my senuwees voor die kamera. Ek is eintlik bang om dit te sien. Ek gaan glad nie soos ’n deurwinterde televisieaanbieder klink nie.”

* Boereverneukers word Dinsdae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

Meer oor:  Via  |  Izak Du Plessis  |  Televisie  |  Boereverneukers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.