Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Kyk: Verslawing is jou voorland met dié reeks
Reeks
’n Toneel uit 'His Dark Materials' wat binnekort op Showmax te sien is.

Die reeks His Dark Materials, wat binnekort op Showmax te sien is, behoort verslawend te wees, meen André-Pierre du Plessis.

Die jeugfiksie van Philip Pullman kry uiteindelik sy eie HBO-program met His Dark Materials, wat van 6 November op Showmax beskikbaar is regstreeks uit Amerika.

Die eerste boek in Pullman se literêre trilogie, The Golden Compass, is reeds in ’n fliek omskep, maar dié keer kry jy ’n ordentlike bekendstelling aan die parallelle wêrelde wat vir die eerste keer in 1995 aan die wêreld bekend gestel is.

Pullman se boeke is amper so gewild soos J.K. Rowling se Harry Potter-reeks in Brittanje, en daarom het die BBC in 2015 begin om werk daarvan te maak vir ’n televisiereeks. Pullman wou seker maak dis meer as net ’n gewone televisieprogram, wat deels die rede is hoekom dit vier jaar geneem het voordat ons dit kan sien.

Terselfdertyd het die Amerikaanse uitsaaier HBO besef dat sy grootste sukses, Game of Thrones, nie vir altyd op televisie sal wees nie. In die soeke na ’n soortgelyke mitiese storielyn is daar besluit om saam met die BBC te werk aan wat uiteindelik een van die duurste televisieproduksies in die Britse geskiedenis geword het.

Die resultaat is ’n komplekse televisiereeks wat ’n hele paar episodes neem voordat jy werklik verstaan wat aangaan. Maar met dié dat HBO ’n wêreldwye televisiegehoor geskep het wat belang stel in bonatuurlike wesens (te danke aan Game of Thrones), behoort dié reeks ’n gevestigde gehoor te vind.

His Dark Materials speel af in ’n wêreld waar elke persoon se siel verteenwoordig word deur ’n dier. Die protagonis, Lyra Belacqua (vertolk deur Dafne Keen), se siel verander byvoorbeeld in verskillende diere afhangend van die situasie waarin Lyra haarself bevind. Soms is dit ’n skoenlapper en soms ’n kat wat haar beskerm teen ander se sielsdiere. Saam probeer hulle om kinders te red wat glo deur ’n mistieke groep ontvoer word. Naas ’n verskeidenheid van diere is daar regte hekse en engele in dié program wat saam met ysbere veg teen goed én sleg.

Dis uiteindelik ’n storie oor die slaggate wat wag op jongmense wat nie altyd weet watter volwassenes ’n mens werklik kan vertrou nie.

Die grootmense in His Dark Materials sluit James McAvoy (van X-Men-faam), Ruth Wilson (Luther), Lin-Manuel Miranda (Mary Poppins Returns) en Helen McCrory (Narcissa Malfoy in van die Harry Potter-prente) in. Elkeen is op sy of haar eie missie om sin te maak van ’n misterieuse wêreld, terwyl hulle letterlik met hul eie persoonlike demone baklei.

Meer as dit mag ek nie eintlik sê nie uit vrees dat ek hopeloos te veel van die storielyn kan weggee. In die tweede episode gebeur daar iets wat jou laat besef daar steek veel meer in dié program as bloot ’n vreemde alternatiewe wêreld waarin lugskepe met vliegtuie vervang is.

Die 12-jarige meisie wat His Dark Materials se hoofkarakter is, herinner ’n mens veel meer aan Harry Potter. Dis ’n universele storie oor vriendskappe wat oor klas- en rasgrense strek en jou herinner dat water dikwels dikker is as bloed.

’n Mens kan waarskynlik verwag dat ouers hulle kinders sal verbied om hierdie reeks te kyk. Die Katolieke Kerk het voorheen sekere boeke van Pullman se reeks verbied. Dis daarom moontlik dat sommige lede van die NG Kerk ’n program soos His Dark Materials as onchristelik sal beskou. Tog hoop ek ouers gee hul kinders die geleentheid om self te besluit. Dis veel meer onskuldig en kom nie naby aan die volwasse temas wat Game of Thrones aanpak nie.

Die 12-jarige meisie wat His Dark Materials se hoofkarakter is, herinner ’n mens veel meer aan Harry Potter. Dis ’n universele storie oor vriendskappe wat oor klas- en rasgrense strek en jou herinner dat water dikwels dikker is as bloed.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.