Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Kykers gaande oor nuwe ‘Legacy’-karakter

Hoewel sy meisie se ma nie van hom hou nie, is kykers van die M-Net-telenovelle Legacy gaande oor die karakter Anthony, wat onlangs sy opwagting gemaak het.

Craig Hawks, wat die rol van Anthony vertolk, is net so bly om op stel te wees.

“Anthony het sy eie geskiedenis. Hy is ’n miljardêr. Hy het sy geld gemaak deur tegnologiemaatskappye te koop en verkoop. Hy beland by die Legacy-beleggingsmaatskappy met die doel om ’n onderrigprogram te begin, en daar ontmoet hy Elizabeth Price (Reandi Grey). Hulle begin saamwerk, want hulle albei het ’n passie vir onderrig.”

Maar hul ontmoeting in die Legacy-gebou voor ’n hysbak was ietwat ongemaklik. Altans, vir een van hulle.

Elizabeth is lomp en sê die verkeerde dinge, terwyl Anthony glad nie dink dit is ’n vreemde oomblik nie.

“Hulle neem dadelik van mekaar kennis. Hulle het nou ’n baie sterk band. En Anthony pas eintlik by die welgestelde Price-familie in.”

Elizabeth is een van die dogters van Sebastian Price, wat die maatskappy gestig het.

Volgens Hawks het hy al baie soortgelyke ontmoetings in sy eie lewe gehad.

Craig Hawks as Anthony Claasen in die M-Net-telenovelle ‘Legacy’. Foto: M-Net

“Maar ek geniet sulke ontmoetings eintlik, ek glimlag en maak ’n grap daaroor. Dis een van die redes waarom dit lekker is om iemand soos Anthony te speel. Hy is ontspanne oor sulke dinge. Hy het baie diepte.”

Die kykers is baie opgewonde oor die nuwe man in Elizabeth se lewe.

“Mense gebruik nou al die hutsmerk #Antebeth op sosiale media. Mense is vinnig met hul reaksies. Ek kry foto’s van mense wat hul televisieskerms afneem. Dis nogal pret dat die kykers dit saam met ons geniet.”

Terwyl Elizabeth se oë glinster, maak haar ma (Michelle Botes) geen geheim daarvan dat sy skepties is nie.

“Maar net die tyd sal leer of haar ma reg of verkeerd is,” sê Hawks.

Hy het die afgelope tyd min Suid-Afrikaanse televisiewerk gedoen, maar wel in internasionale reekse en flieks verskyn wat in Suid-Afrika verfilm is.

Reandi Grey en Craig Hawks in ‘Legacy’. Foto: M-Net

Daar was ook ’n rol in die HBO-minireeks Generation Kill.

Hy het voorheen in sepies soos Binnelanders verskyn en was die regisseur van drie kortflieks vir kykNET se Ons stories-fliekreeks.

Hy het in die musiekspel Priscilla, Queen of the Desert opgetree en verskyn in die fliek Black Beauty, wat onlangs uitgereik is.

“Dit is so lekker om op die stel van Legacy te wees. ’n Telenovelle verg baie tyd, dis besig, maar daar is tog ’n ontspanne atmosfeer op stel. Of Anthony gaan bly of nie . . . daar is so baie aspekte aan hom dat hy beslis kan terugkeer of net kan aanbly en ontwikkel.”

Legacy word Maandae tot Donderdae om 19:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.

Meer oor:  M-Net  |  Legacy  |  Telenovelle  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.