Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Kykers koer oor ‘Binnelanders’ se ‘warm’ Wessel

Die akteur Eric Bouwer sê laggend en ietwat beskeie hy voel “gevlei” deur Binnelanders-kykers wat nie ’n wag voor hul monde hou oor hoe aantreklik hy is nie.

Eric Bouwer vertolk die rol van Wessel Mouton in “Binnelanders”. Foto: kykNET

Aanhangers koer byna onophoudelik oor Bouwer nadat hy Woensdagaand heel onverwags sy verskyning in die gewilde kykNET-sepie gemaak het.

“Hulle (Binnelanders-kykers) het my duidelik nog nie in real life gesien nie. Ek dink net dadelik: Wow, ons het ’n great grimeerspan!” se hy spottend.

Hy het gesê hoewel hy die komplimente waardeer en gevlei voel, beskou hy dit as vlietend. “Ek neem dit daarom nie te ernstig op nie. Dit is wel gaaf. Ek is bly hulle sê ek is hot en beskryf my nie as ’n vuil asblik nie!”

Bouwer (38) vertolk die rol van Wessel Mouton, ’n kunstenaar wat uit Londen gekom het om Annelize (vertolk deur Cindy Swanepoel), sy halfsuster, vir die eerste keer te ontmoet. Wessel is ook Brett Adler (Anton Schmidt) se buite-egtelike kind.

Bouwer sê hy wil nie nou te veel verklap oor wat Wessel se storielyn behels nie.

“Hy verstaan beslis verwerping, want hy is deur die Adlers verwerp. Hy’s beslis in voeling met sy feminine en nurturing sy, en hy hunker na ’n familie – dis wat hom so aantrek. Ja, dis great om ’n suksesvolle kunstenaar in Londen te wees, maar die weer is depressing, en ek dink dit is wat hom laat besluit het om sy suster te gaan soek.

“Baie mense sal seker vra hoekom hy net so skielik opdaag. Ek het baie kunstenaars in my familie en ek weet hulle is baie ingedagte en neem op die ingewing van die oomblik besluite. So dit is vir my natuurlik dat hy net gedink het: Orraait, ek gaan nou net opdaag.”

Hy keer eintlik in dié rol terug na die sepies nadat hy 18 jaar gelede die rol van Eben in Egoli – Plek van goud vertolk het. Hy was ook in 7de Laan, die eerste drie reekse van Getroud met rugby én in die eerste reeks van Spoorloos te sien.

Eric Bouwer Foto: kykNET

Hoewel hy ’n sagte plekkie het vir sepies en baie jare se ervaring het, sê hy dit bly steeds ’n uitdagende ervaring.

“Sepies is vreeslik tegnies en eintlik baie moeilik. Toe ek Spoorloos gedoen het, kon ek in terme van my spel dieper delf om die karakter te verken, so ek verkies eintlik reekse. Sepie-werk is vinnige werk, ’n mens moet omtrent kophou om by te hou – en tydens die pandemie is die pas nog vinniger omdat ’n mens heeltyd met nuwe episodes en inhoud wil voorbly.”

Bouwer het ook sy vaardighede geslyp as dialoog- en storielynskrywer by die kykNET-sepie Villa Rosa – ook dit was uitdagend.

“Om ’n sepie te skryf is ook regtig moeilik, juis omdat jy daagliks met nuwe idees vorendag moet kom. Dit was eintlik vreesaanjaend, natuurlik ook ’n groot voorreg, maar dit is ’n moeilike jop.”

Hy sê hy is bly om nou weer voor die kamera te wees – en dít op kykNET se vlagskipsepie.

“Ek was as skrywer by Villa Rosa in die bevoorregte posisie om insig te kry oor kykertalle, so ek weet Binnelanders is tops. Dit is daarom natuurlik ’n moerse voorreg om deel van so ’n program te wees.”

Hy gaan egter nie sy skryfpen neersit nie, sê hy.

“Ek is op die oomblik besig om ’n draaiboek te skryf oor Arnold Taylor – hy was in 1972 ons kapokgewig bokskampioen. Dit is ’n rolprent oor sy lewe. Om te skryf maak my baie opgewonde, hierdie fliek is werklik ’n hartstaak.

“Ek het by ’n vriend van my van hom gehoor. Sekere boksers, soos Corrie Sanders en ander groot name, weet ’n mens baie van – nie van Arnold Taylor nie. Hy was een van ons eerste wêreldbokskampioene.

“Hierdie ouens (boksers) is nie noodwendig gewelddadige mense nie, en hy’t ’n baie interessante en tawwe lewe gehad, wat my altyd na ’n storie aantrek. Ek het uit my navorsing al baie oor hom geleer en ek kan nie wag om mense meer van sy boeiende verhaal te vertel nie.”

Meer oor:  Boks  |  Sport  |  Corrie Sanders  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  7De Laan  |  Covid-19  |  Covid  |  Egoli  |  Koronavirus  |  Spoorloos  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Getroud Met Rugby  |  Staat Van Inperking  |  Kyknet  |  Binnelanders  |  Tv  |  Cindy Swanepoel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.