Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Laat die potte prut’ terug in nuwe tydgleuf

Via (DStv-kanaal 147) se supergewilde kosprogram Laat die potte prut is terug op die TV met ’n nuwe seisoen en dié keer is die reeks in ’n nuwe tydgleuf.

Rusbankboere kan nou Laat die potte prut kyk net ná Landbouweekliks. Nuwe episodes van dié potjiekosprogram wys nou Dinsdae om 20:30.

Ons het ingeloer by die aanbieders, Piet Marais en Frik Oosthuizen, om te gesels oor hul liefde vir Mexikaanse kos, en hoe dit by potjiekos aansluit.

Piet Marais en Frik Oosthuizen.

As julle ’n Mexikaanse potjie moes maak, wat sou alles daarin wees?

Piet: Die beste kos is eenvoudige kos. Ons gunsteling-pot is ’n rissie-pot. Net vleis van baie goeie gehalte, ’n verskeidenheid gedroogde rissies (onder meer chipotle), ’n bietjie uie, knoffel, komyn, gedroogde koljander en origanum. Dit word gewoonlik met dubbelgebraaide bone, mielie-tortillas en Mexikaanse suurroom voorgesit.

Frik: Ek sal chipotle- of ancho-rissie ingooi. Ek is mal oor die rokerige geur en effense branderigheid van die gerookte jalapeño. Die ancho-rissie is baie algemeen in Mexikaanse kos.

Enige ander eksotiese potjiekos-idees wat julle nog graag sou wou uitvoer?

Frik: ’n Bokpotjie.

Piet: Ons is weekliks besig met nuwe idees en baie daarvan vind plaas in swart potte. My gunsteling-pot die laaste paar weke was ’n gerookte-pynappel-habanero-en-varkpot.

Wat is die drie belangrikste elemente van ’n goeie potjie?

Frik: Die regte vleissnit, beheer van jou vuur en hitte, en moet dit nie te veel kompliseer nie, want dan komplementeer die geure nie meer mekaar nie.

Piet : ’n Potjie kan nie net ’n bredie op kole wees nie. Justin Bonello sê altyd jy moet die vuur in die potjie proe en ek stem nogal saam met hom. Braai die vleis bruin op die kole of rook iets liggies aan die kant om die gees van die hout in die gereg in te bring. Smaakkombinasies en die regte tyd om ’n bestanddeel by te voeg is belangrik. Sekere speserye moet gebraai of gebrand word om die beste geure vry te stel, ander bestanddele soos suurlemoensap en vars kruie verloor vinnig smaak en is beter om net voor opdiening bygevoeg te word. Groente moet die regte tekstuur hê – sag, murgsag of al dente afhangende van wat dit is. Ons hou van tradisioneel Suid-Afrikaans, maar onthou, potjies word reg oor die wêreld gemaak. Ons sien uit om te sien wat vanjaar in die potte gaan prut.

Wat is jou een koswenk vir ’n enkellopende man wat skaars ’n eier kan kook?

Frik: Trou met ’n vrou wat kan kook en leer by haar.

Piet: Maak ’n plan. Almal moet minstens een goeie gereg kan berei. Daar is heelwat goeie kort kursusse beskikbaar.

Behalwe vir die eindproduk, hoekom sou julle mense aanraai om meer tyd in die kombuis of langs die kole deur te bring?

Frik: Daar is min dinge lekkerder as om te sien mense geniet jou kos. Die lekker kuier om die vuur en in die kombuis is hoe ek die meeste van my tyd deurbring.

Piet: Mense stres te veel. Almal werk langer ure en verstedeliking en tegnologie, tesame met kitskos en voorafgemaakte maaltye is ’n bose kringloop. Breek dit met ’n oop vuur, goeie drinkgoed en goeie geselskap. Dit sal jou ’n langer, lekkerder lewe gee.

  • Nuwe episodes van Laat die potte prut word elke Dinsdag om 20:30 op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Saterdae om 20:30.
Meer oor:  Via  |  Laat Die Potte Prut  |  Realiteitsreeks  |  Tv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.