Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Leandie 'wou Jesus se lig ook op TV-reeks laat skyn'
Leandie du Randt in die ‘Love Island’-villa. Foto: Verskaf

Leandie du Randt "wil Jesus se lig sonder voorwaardes in die wêreld laat skyn" en ’n verandering wees eerder as om toe te laat dat die omgewings waarin sy haar bevind, haar verander.

Dit is dié geloofsoortuiging wat verseker het dat die sakevrou en aktrise vrese oorkom het van kritiek oor haar rol as aanbieder van die omstrede maatsoek-werklikheidsreeks Love Island.

Du Randt sê sy was aanvanklik bekommerd oor die kritiek wat sy veral van ’n meer konserwatiewe mark sou kry.

Die TV-program, waar jong enkellopendes heeldag in skrapse uitrustings rondloop, het uit die staanspoor kritiek gekry oor produksiegehalte en die waardes wat die program uitbeeld.

“Maar sedert ek dié bedryf gekies het, sê ek al vir myself as ek nie die Here se lig oral kan laat skyn nie, wat help dit?” sê sy oor haar besluit om haar Christenskap juis in dié omstandighede uit te leef.

“Jesus het juis saam met sondaars gekuier en hulle liefgehad. So, ek voel nog altyd dis waar ek ’n verskil kan maak – waar dit die nodigste en skaarsste is. Ek is ook ’n sondaar en die Here het my lief, so ek aanvaar ander mense ook en het hulle ook lief sover ek menslik kan. Die passie wat die Here in my hart gesit het, wil ek uitleef waarheen ook al Hy my lei,” sê sy.

“Dit was een van my grootste drome en voorregte om as die gesig en aanbieder van Love Island voorgestel te word.

Jesus het juis saam met sondaars gekuier en hulle liefgehad. So, ek voel nog altyd dis waar ek ’n verskil kan maak.

“En toe was die program, ondanks ’n hakerige begin, uiteindelik ’n groot sukses,” sê sy.

“Ek haal my hoed af vir elke liewe persoon wat ’n aandeel gehad het aan die Love Island-reis,” sê Du Randt oor dié program wat agt weke lank in ’n villa opgeneem is.

“Daar het ’n span van sowat tien mense permanent in die villa saam met die deelnemers gelewe. Hulle het agt weke lank nie hul familie of vriende gesien nie. Dié handjievol mense moes op die stel die werk doen van 43 mense wat ons nie in die bioborrel kon toelaat nie weens Covid-19-regulasies.”

Leandie du Randt as aanbieder van die werklikheidsreeks ‘Love Island’. Hier is sy saam met die regisseur, Nadia White. Foto: Verskaf

Du Randt sê sy dink min mense daarbuite verstaan onder watter ongelooflike uitdagende omstandighede hulle moes werk om van die program ’n sukses te maak.

“Die produksiespan het dit reggekry om te midde van ’n hakerige begin, ’n beperkte begroting en onder ongewone omstandighede ’n groot sukses van die program te maak. Ons het ná daardie eerste week besluit ons gaan almal wys en doen wat ons kan met wat ons het. En almal het saamgewerk en dinge maak werk!”

Du Randt sê sy droom oor ’n moontlike tweede seisoen van Love Island.

“Dink net hoe amazing dit dan kan wees ná alles wat ons geleer het. Hopelik hoef ons dan ook nie meer in die bioborrel te wees nie,” sê sy.

En oor of sy dan weer as gesig van die program sal wil verskyn, is sy baie seker.

“Ja, wat ’n voorreg! Ek sal aanbieder wil wees vir so lank as wat ek kan en so lank as wat hulle my kies.”

Tot dan hou dié entrepreneur haar doenig met haar en haar skoonsuster se aanlyn onderneming, To Be Gift Boxes, motiveringspraatjies en die verfilming van ’n splinternuwe seisoen van die kykNET-reeks Slank.

“Wie weet wat nog alles om die draai lê? Ek sal sien wat die Here vir my beplan. Hy hou altyd sy hand oor my.”

Leandie du Randt Foto: Verskaf

Meer oor:  Leandie Du Randt  |  Jesus  |  Love Island  |  Christenskap  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.