Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Leon van Nierop: Bravo aan span van nuwe SA dokkie

Devilsdorp. Met Jana Marx en Marizka Coetzer. Regisseur: David Enright ***** Op Showmax. Beperking 16.

Devilsdorp
Devilsdorp

Die duiwel is in flarde los op Krugersdorp met sy vyf ingange wat glo die vyf hoeke van boosheid simboliseer. Ses mense beplan talle moorde, waaronder op tien (of meer?) onskuldige mense, terwyl ander, wat die moordenaars ken, vir hul lewens vlug. Maar dit is die vermetelheid waarmee die moorde gepleeg word, en die meesterbrein, Cecilia Steyn, se nonchalante hantering van die feit dat sy eintlik agter die moorde sit, wat ’n mens oorbluf.

Hierdie moordreeks is gruwelik ontstellend, en sensitiewe kykers word daarop gewys. Die regisseur David Enright en sy span het honderde ure se materiaal so vaardig aanmekaargelas dat dit voel of hierdie boosaardige individue by jou in jou huis hul moorde beplan en uitvoer, want hulle verduidelik noukeurig hoe dit uitgevoer gaan word. Nie alleen vlek dit die sosio-ekonomiese probleme van die dorp oop sonder om dit sensasiewekkend te maak nie, dit gee ook ’n blik op twee vroue wat ’n gesin hipnotiseer en aanmoedig om wandade te pleeg onder die dekmantel van satansaanbidding.

’n Ewewig word bekwaam gevind met die joernalis Jana Marx wat die feite uiteensit, maar ook met die uitbundige en vrolike joernalis Marizka Coetzer wat haar weergawe van die gebeure gee met ’n donker humorsin wat ’n mens verbaas laat.

Hierdie ewewig sorg vir die reeks se vyfde ster, want net so boosaardig as die moordenaars was, net so absurd is sommige lede van die pers se hantering daarvan. (Marizka het ’n verhouding met een van die moordenaars, Le Roux Steyn, in die tronk begin.)

Voeg hierby die wegsnyskote na die verskrompelde dele van die dorp, simbolies van die geestelike verval en verleiding van die hegte groepie moordenaars, en jy sien ’n reeks wat jou maag tegelyk laat klont en jou drome teister. Jy is, wat die visuele betref, ’n aktiewe waarnemer, maar ook indirek ’n gedwonge deelnemer aan gruwelmoorde op pastore, huisagente en andere (die sogenaamde afspraakmoorde) in ’n middelklaswoonstel wat die poorte na die hel vorm.

Dis ook skokkend om te sien hoe die skuldiges hulleself slinks uit die moordkomplotte probeer wikkel met ’n verwaandheid en psigopatiese antipatie wat vir weke by jou spook – tot gewetes begin praat.

‘Devilsdorp’ se produksie-ontwerp is voortreflik. Foto: Showmax

Bravo aan die produksiemaatskappy Idea Candy, die brein agter die reeks, Nicola van Niekerk, Kristen Broberg asook Wim Steyn wat die leisels vashou met kneukels wat wit span onder die mynhoop, wat soos ’n sandgrafsteen oor die dorp troon waarin onheil op plekke soos uit ’n perdebynes broei. Dit is bepaald een van die mees vernuwende, maar ook briljant gekonstrueerde dokumentêre wat nog in Suid-Afrika gemaak is en sal jou so gru en ontsenu dat dit moeilik is om te vraatkyk. Jy moet asem skep!

Realisties, intelligent gemaak, heg en seepglad gekonstrueer en duidelik uiteengesit, verdien dit om ’n klein meesterstuk genoem te word. Hier seëvier die krag van die dokumentêre film (’n onderskatte genre) sonder ’n inligting-voerende stem as verteller en kan dit sy plek trots inneem as ’n uitsonderlike Suid-Afrikaanse produk. Dit is vernuftig en teisterend treffend. Jy is gewaarsku. Dis ’n oop-oë-gruwel-nagmerrie.

Ginny & Georgia. Met Brianne Howey en Antonia Gentry. Regisseur: Anya Adams. Op Netflix ,,, Beperking 16.

Dié reeks is soos Urbanol nadat jy deur die skitterende Devilsdorp omgeklits is. Dis soos ’n anti-teensuurtablet teen die sooibrand wat die Krugersdorpse moordreeks in jou gemoed laat.

Dit is glans-ontsnappingsvermaak, so glad soos kookolie wat op teëls gemors is, om jou oor die slegte nuus van die week te laat gly. ’n Byderwetse, wulpse ma (Brianne Howey), wat haar dogter (Antonia Gentry as Georgia) reeds op 15 gehad het, draai ’n konserwatiewe dorp op sy kop en dartel deur slaggate asof die duike blote molsgate is om mis te trap.

Nie alleen sê sy haar neurotiese dogter aan hoe om haar lewe te bestuur nie (met woepsie-dollies met grimering wat seker met ’n skopgraaf aangesit is), maar vertel haar ook om nie dieselfde foute as sy te maak nie. Dit gebeur op die maat van ritteltit-vrolike musiek en kwinkslae.

Normaalweg sou ’n mens die soort reeks uitmekaargeskeur het as gevolg van die clichés en manipulasie, maar ná alles wat die afgelope twee weke plaaslik gebeur het, is dit soos om ’n botteltjie reukwater oor jouself te spuit.

Soetsappig en voorspelbaar, maar dit laat jou ontsnap.

Meer oor:  Leon Van Nierop  |  Devilsdorp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.