Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Leon van Nierop: Kykvrate sal reeks heerlik verslind

The Hater met Maciej Musialowski en Vanessa Aleksander. Regisseur: Jan Komasa. Op Netflix. ****

Hoe maklik flankeer skrywers tog nie met daardie liefling-held van moderne films, sosiopate, nie. Hy/sy is net een trappie bokant ’n psigopaat. Daar is enkeles wat ysingwekkend doeltreffend met jou kop smokkel. Nurse Ratched in One Flew Over the Cuckoo’s Nest (1975), die blokkiesmaag Patrick Bateman in American Psycho (2000), fava-boontjies se moses – Hannibal Lecter, Anton Chigurh met die toiletborselkuif in No Country for Old Men (2007), die dansende kaartmannetjie in Joker (2019), en Alex in A Clockwork Orange (1971).

Hierdie skapies uit Lucifer se kudde het nou ’n maatjie gekry. Tomasz Giemza (fenomenaal vertolk deur Maciej Musialowski) in Jan Komasa se The Hater.

Dit het die internet en sosiale media gekaap tot ’n soort verwronge verheffing van die sosiopaat wat filmies oopgespalk word totdat jy sy filmderms kan dissekteer.

’n Poolse genie wat deur die gemeenskap verwerp is, gebruik dom, menslike haat (emosies moet altyd getemper word!), asook nyd, kompetisie en ambisie tot sy eie duiwelskantoor se voordeel. Sosiale media word in dié gloeiende kantoor ingespan om politieke veldtogte te ontspoor, ideologieë te verwring en mense te verkleineer en hul persoonlike lewens te vervlak tot sensasie. Maar dit word so slinks en slu gemanipuleer dat die slagoffers verbysterd langs die grootpad van die lewe emosioneel lê en doodbloei.

Beskou ’n mens dit in 2020, raak jy opnuut bewus van die beskuldigings dat die sosiale media glo ’n bepalende rol gespeel het in Donald Trump se verkiesingsveldtog asook die uitslag van die Brexit-referendum, veral as ’n mens dié Poolse sosiopaat se modus operandi ontleed.

’n Koekroller het meer emosie as hy. Hy hou sy slagoffers apaties dop, verniel hulle, bevorder sy eie agenda soos om ’n burgemeester se verkiesingsveldtog in ’n bloedbad te omskep, net om later met ’n klipgesig te besef hy is nou die nuwe glinsterpresident van sosiale media. Want soos Alex in A Clockwork Orange, begryp hy hoe weerloos en manipuleerbaar die gemeenskap kan wees indien jy hulle psige goed genoeg ken. Hipnotiseer hy doodgewone mense en oorrompel hulle. Sy verleidelike sexy kyk is ’n Urbanol-kalmeermiddel vir weerlose slagoffers, en sy skeermesglimlaggie sy terapie vir ’n eensame gemoed. As daar ’n duik in jou siel is, sal hy dit prik.

Pasop! Dis ontgogelend, skrynend en briljant, behalwe vir die langdradige videospeletjie-tegniek wat gebruik word. Jou breinselle sal soos sterre deur die Melkweg spat. Dis swak in Engels oorgeklank en het nie byskrifte nie. Maar wat ’n fliek! Sosiale media kry ’n nuwe betekenis wat hiermee vinnig TikTok na ’n apokalips.

Vir gesofistikeerdes wat nie melkskommels vir vermaak soek nie.

  • BEPERKING: 16 (taalgebruik, geweld, seks).

    Schitt’s Creek met Eugene Levy en Catherine O’Hara. Op Netflix. ****

    Niks verkeerd met ’n brein-melkskommel nie. Schitt’s Creek, tans in sy sesde seisoen, het al skuimend meer pryse verower as wat jy die drankverbod verwens het.

    Dit het ’n skeutjie Modern Family, Ozark asook Will and Grace se kamp onstuimigheid in. Hier word kykers, soos miere wat op ’n strepie suiker afpeil, gelok na wilde kwinkslae.

    ’n Superryk gesin speel bankrot. ’n Uitkoms is ’n ingat-dorpie wat hulle destyds gekoop het, Schitt’s Creek. Hulle wil dit verkwansel, maar ’n bleeksiel, wat so slordig slurp, die enemmel val van sy tande af, weier.

    Verveelde rykes met borsspelde so groot soos Tretchikoff se orgideë bondel nou in ’n motel saam en moet oorlewingstrategieë toepas. Maar hoe groter die gemakshuisie se put, hoe dieper val die karakters daarin!

    Jy sal lag dat jou kleintongetjie sielkundige behandeling nodig het.

    Indien jy die reeks misgekyk het of reeds tot by reeks ses gevorder het: Dit is tans die beste teenmiddel teen die grendelgreep, en jy kan nie ophou kyk nie. Jy maak ’n kykvraat van jouself!

    Om arrogansie van die kitsch kaggelrak te sien aftuimel en bleeksiele se gedagtes soos ’n toiletrol te sien afrol, kan jou depressie onder uit jou leë whiskyglas laat opstyg.

    Schitt’s Creek is vaartbelynde pret. Al ses reekse is nou te sien. Dis soos om ’n stok vir ’n brak te gooi, maar jy hoop hy gaan dit telkens terugbring sodat jy verder kan skater-snater. Mens lag later so luid, jy moet die pouseerknoppie op die afstandbeheerder druk om jou asem terug te kry.

    • BEPERKING: 13 (taalgebruik).
    Meer oor:  Tv-Reekse  |  Netflix  |  Leon Van Nierop
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.