Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Leon van Nierop: Vriendinne nog nooit so boeiend

My Brilliant Friend
met Gaia Girace en Margherita Mazzucco. Skepper: Saverio Costanzo
 *****

Trap fyn tussen die suurlemoendorings en oppas vir te veel Limoncello. ’n Mens kan so ekstaties oor dié reeks raak dat jy in die skone lekkerte van die Suid-Italiaanse suurlemoendoepa verdrink.

Trap fyn tussen die suurlemoendorings en oppas vir te veel Limoncello. ’n Mens kan so ekstaties oor dié reeks raak dat jy in die skone lekkerte van die Suid-Italiaanse suurlemoendoepa verdrink.

Lesers loop gewoonlik katvoet wanneer ’n resensent popel met clichés soos “briljant”, “onmisbaar” en “fantasties”, maar dié slag kan jy jou oorgee daaraan, al is die reeks in Italiaans met Engelse byskrifte. En voordat jy al gillende op die vlug slaan: So min as wat jy na Fiela se kind in Grieks kan kyk, so min kan hierdie reeks oorgeklank word. Jy moet opgaan in die suiwer prag van die melodieuse Italiaanse taal. Praat van pragstorie!

Waar ander lang reekse ooglopend aangevul word deur met B- en C-storielyne, wat die hoofstorielyn kans gee om asem te skep, gaan hierdie hele reeks oor die hoofstorie. Met ander woorde, ons bly hoofsaaklik by die hoofkarakters. Twee sulke uiteenlopende en sjarmante dog gevaarlike jong meisies keer dat jou aandag selfs vir ’n asemteugie dwaal. Albei seisoene is nou op Showmax te sien en jy sal ná episode 1 reeds so verslaaf wees daaraan dat jy dae lank na niks anders sal kyk nie.

Wees bewus daarvan niks kan ’n verterende, boeiende, blinkslim storie vervang nie, en hierdie bogemiddelde verhaal van twee beste vriendinne in die onrustige, laat 1950’s in die suide van Italië – toe baie werkloses hulle tot sosialisme wou wend – val in dié kategorie.

Wat in die reeks se guns tel is die onortodokse liefde-haat-verhouding tussen Elena (’n fenomenale Margherita Mazzucco) en die betowerende, weergalose Gaia Girace as Lila. Die verhaal begin wanneer die bejaarde Elena terugkyk oor die politieke en romantiese onderstromings van daardie tyd, maar dan treur oor haar enigmatiese, selfvernietigende vriendin wat verdwyn het.

Jy het selde tevore so ’n lewensblye en terselfdertyd vernietigende vriendskap tussen twee meisies gesien, aangevuur deur vurige Italiaanse sakemanne en werkers wat hul lewe met werkershande uitmekaarkrap. (Dis onlangs aangewys as die beste reeks oor ’n vriendskap tot nog toe.)

Boonop speel die verhaal in die prentjiemooie Italië af. Eers in Napels en dan in die onvergelyklike mooi kusstreke. Langs die see vind verraad in sy ergste vorm plaas en romanse borrel oor tot kookwarm haat.

Selfs die meisies se verhouding met hul ouers word met soveel realisme, piëteit en wreedheid uitgebeeld dat mens emosioneel wipplank ry tussen die twee uiterstes.

Voeg daarby die filosofieë van ’n wyse ouer verteller wat die lewe in al sy fasette ervaar het en jou kop duisel. Dit is die een reeks (elke episode is ’n uur lank) wat jou sal laat vraatkyk totdat jy bly lê.

Skakel af jou gebreinspoelde gemoed besmet deur minderwaardige reekse waarin dieselfde tam storie herhaaldelik aan jou opgedis word. Hierdie een is uniek en kan jou hart vir ’n uur per episode koester, vasdruk en ontstel.

Gee dit ’n kans op Showmax.

Dit is ’n weergalose reeks. Jy kry nie beter televisie nie.

  • Ouderdomsperk 16(SV)LNSV – seksuele geweld, taal, naaktheid, seks, geweld.

Young Wallander met Adam Pålsson en Leanne Best. Skepper: Ben Harris. ***

Lesers wat gespeen is op Nordiese noir met Kenneth Branagh se weergalose Wallander kan hierdie een bietjie lig in die broek vind, hoewel Kurt reeds hier bewys dat hy murg in sy geniale pype het.

Adam Pålsson is dan ook een van die aantreklikste akteurs in Swede vandag en bring ’n gesag en sjarme na die rol wat sy naaste kompetisie, die Skot Richard Madden in The Bodyguard, in die skadu stel.

Al probleem is Pålsson se toonlose, hees stem wat so bietjie aan sy gesag krap en irriteer. Maar as jy eers daaraan gewoond is, sal jy die reeks verslind.

Soos gewoonlik in noir-reekse gebeur dinge maar stadig. Dit beteken nie noodwendig vervelig nie; dit suggereer slegs dat temas deegliker en met meer aandag ontleed word, maar soms draal enkele tonele net te selfvertroetelend rond.

Wanneer rassisme, spesifiek teenoor onwettige immigrante in Swede, onder die loep kom, rondomtalie hierdie reeks na iets meer onthutsend as wat jy dalk verwag het. Dit is treiterend, sinister, soms ysingwekkend en opspraakwekkend, veral met die openingstoneel by ’n draad, maar dit wemel van politieke subteks.

  • Dis nie ’n suiglekkertjiereeks nie. Jy moet hard werk om dit te geniet! Op Netflix. Ouderdomsperk: 16.
Meer oor:  Young Wallander  |  My Brilliant Friend  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.