Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Liefdespad skei vir dié ‘Boer soek ’n vrou’-gunstelinge

Al het dinge nie uitgewerk tussen hulle nie, sê Graham Lombard, ’n melk- en beesboer van Cradock in die Oos-Kaap, hy sal weer inskryf vir Boer soek ’n vrou en hy sal weer vir Ilne Prinsloo kies.

“Dit is nou ongelukkig so dat ons verhouding verby is,” het Graham Woensdag gesê. “Ek is steeds baie hartseer daaroor, maar ek het net goeie goed om te sê oor haar en ek wens haar net die beste toe.”

Graham sê dit was ’n gesamentlike besluit, reeds sowat twee weke gelede, om vir eers dinge tussen hom en Ilne halt te roep.

Ilne sê sy sou vir twee weke by Graham gaan kuier het op Cradock, maar ná een naweek het sy ’n gesprek begin waar hulle albei gesê het wat hulle pla.

“Ons het toe maar besluit dit is die beste om nie meer saam te wees nie. Ek het nog een aand gebly en toe neem hy my die volgende dag Bloemfontein toe. Daarna is ek terug Potchefstroom toe.”

Ilne en Graham. Foto: Instagram

Ilne sê voor die gesprek het sy oorweeg om Cradock toe te trek, en het selfs werk gesoek in die dorp. Sy sê sy is hartseer oor hulle uitmekaar is. “My hart is seer, maar my vreugde is nie weg nie.”

Graham sê hulle het vir dié naby aan hulle vertel as hulle gevra het. “Ons het dit nie probeer wegsteek nie. Dit is ongelukkig so dat mense lief is vir ’n goeie liefdesverhaal, en ons s’n het nou net nie gehou nie.”

Die laaste keer dat Ilne ’n foto van hulle op Instagram geplaas het, was twee weke gelede, oënskynlik in ’n kwekery. Graham het onlangs sy Instagram-rekening heraktiveer.

Graham sê hy twyfel of hy ooit weer kontak sal maak met die ander vroue wat hy op die program ontmoet het. “Ek sal die proses môre weer oordoen as jy my die kans gee, en ek sal weer vir Ilne kies. Dit was die beste ervaring van my lewe.”

Ilne by ’n fotosessie. Foto: Instagram

Ilne was baie gewild onder kykers en het meer as 25 000 volgelinge op Instagram. “My lewe het nogal verander, maar ek het van die begin af geweet dit gaan gebeur. Mense wil graag sien hoe ’n mooi liefdesverhaal ontvou.

“Maar my identiteit gaan nie verander weens al die belangstelling nie. My drome en visie bly dieselfde. Ek het net nou ’n nuwe platform en meer geleenthede gekry.”

Ilne sê sy is nie nou op die uitkyk vir enige ander verhoudings nie, en as dit sou gebeur, die man na haar toe sal moet uitreik.

Inskrywings vir die 13de reeks met Marciel Hopkins as aanbieder is nou oop, en boere van albei geslagte, alle ouderdomme en seksuele oriëntasie kan inskryf om die liefde van hul lewe te soek.

Boere kan op die volgende maniere inskryf:

  • Besoek www.kyknet.tv of http://bit.ly/Boere2020 waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai;
  • Bel Marche Media by 079 335 5137; en
  • Stuur ’n e-pos na boer@marche.media (let op dat daar geen .com of .co.za is nie)

Belangrike inligting:

  • Foto’s en afskrifte van identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel.
  • Diegene wat wil deelneem, moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.
  • Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 21 Maart bereik.
  • Die tien gekose boere sal teen 19 April in kennis gestel word.
  • Hou kykNET se sosiale media of Netwerk24 dop vir die aankondiging oor 2020 se toptien boere. Moontlike pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.
  • Die 13de reeks sal van Oktober op kykNET uitgesaai word.
Meer oor:  Boer Soek 'N Vrou  |  Boer Graham
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.