Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Lindsey tel haar seëninge

Sy was ’n skaam kind en is op skool erg geboelie, maar Lindsey Abrahams het altyd geglo dat niks onmoontlik is nie en vandag leef sy haar droom. Maretta Bellingan het met haar gesels.

Lindsey Abrahams, die aktrise met die ondeunde glimlag. Foto: SEAN BRAND

Sy is die eerste gesig wat jy wil sien wanneer jy in ’n hospitaalbed wakker word. Altyd vriendelik, positief en innemend.

Dis sekerlik nie vreemd dat verpleegster Chanel Samuels een van die gewildste karakters in die kyk­NET-sepie Binnelanders is nie.

“Ek hoor altyd ek lyk so sweet en innocent,” sê sy laggend. “Ek verkies ondeund en stout. Toe ek ’n baba was, het ek soos ’n klein Chinesie gelyk met my kuifie en skrefiesoë, my oupa Peter het my sy ‘Chinese Girl’ genoem,” vertel sy. “Die klomp by die werk is net so moedswillig. Hulle sê ek lyk soos ’n Thaise meisie en sê altyd ek moet sê: ‘You want a mas­sage?’

“My voorkoms het my nog nooit gepla nie, eintlik het dit my nogal spesiaal laat voel. Ek het ook mettertyd uitgevind dat my glimlag en kuiltjies heel effektief is wanneer ek in die moeilikheid is. Die wiskunde-onnie, Mrs. Dhont, het met almal geraas, maar my blykbaar geglo wanneer ek menigte kere vir haar gesê het ek het my boek by die huis vergeet.”

Maar daai tegniek het nie met Ma en Pa gewerk nie. “Ek het nooit my luck getry met my ouers nie, ek was heeltemal te bang vir hulle,” bieg Abrahams, wie se pa André ’n pastoor is. Haar ma Samantha werk by die Universiteit Stellenbosch se sakeskool.

Die dinge van ’n kind

Verpleegster Samuels het meer as twee jaar gelede haar opwagting in Binnelanders se gange gemaak.

“Dit klink dalk na ’n cliché, maar dit was regtig ’n droom wat waar geword het. Toe ek klein was, het ons almal altyd 7de Laan gekyk en ek het vir hulle gesê ek gaan eendag daarin speel.”

Abrahams het in Atlantis, ’n entjie buite Kaapstad, grootgeword. “Dis ’n dorpie waar almal mekaar ken. Daar is wel ’n midadige element, maar dit bly my huis waar ek wonderlike tye beleef het. Daar was egter ’n tyd toe dinge nie so lekker was nie.”

Abrahams was in die Laerskool Darling waar sy erg geboelie is. “Daar was een meisie wat aaklig teenoor my was. Dit het so erg geraak, ons het fisiek baklei. My pa, wat nooit ooit geweld sal aanmoedig nie, het so keelvol geraak, hy het eendag vir my gesê: ‘Slaan terug, Lindsey!’

“Ek dink nie ek het dit al heeltemal verwerk nie en besef dit nou eers. Ek verbeel my altyd mense hou nie van my nie, want sy’t destyds daai saadjie geplant.

“Ek leer nou stadig maar seker ’n mens mag in ’n vriendskap belê en dat nie almal jou gaan verwerp nie.”

Haar heel eerste rol was in ’n skoolkonsert. “Ek het die rol van ’n Chinese meisie vertolk, hoe dan anders? My ma was ook in beheer van groot produksies by die kerk en ek was van jongs af betrokke. Dit maak seker nie heeltemal sin nie, want ek was ’n skaam kind, maar wanneer ek op die verhoog klim, is ek kaatjie van die baan.

“My jare by die Hoërskool Milnerton was wonderlik. Ek was baie gelukkig daar, want jy kon drama as ’n vak neem. Ek was elke jaar in die produksies en onthou veral my rol as Mary in District Six.”

Die Here se plan werk altyd uit

In 2013 het sy haar dramastudie by Universiteit Stellenbosch begin en drie jaar later as ’n vryskutaktrise begin werk. “Ek was so naïef en dom soos ’n tafelpoot, ek het nie eens geweet ’n mens moet ’n agent kry nie. Maar die Here se plan werk altyd uit.”

Werkloos en moedeloos het sy by ’n inbelsentrum gaan werk en ná ’n paar weke die mees rebelse ding ooit in haar lewe gedoen.

“Ek het net een oggend nie werk toe gegaan nie, want ek het besef ek versmoor my siel.

“My neef het langs een van die regisseurs van die sepie, Suidooster gewoon en ek het hom ontmoet. Lang storie kort, ek het vir ’n oudisie gegaan en my eerste rol gekry. Ek het vir twee maande in Suidooster gespeel.

“Ek was vrek nervous aan die begin, maar gelukkig is die lekker groter as die vrees vir mislukking.”

Abrahams het later vir ’n ruk by Cape Heart Community & Educational Theatre Company gewerk en was betrokke by verskeie produksies. “Ek geniet teater baie. Dit kan egter baie senutergend wees. Ek was een keer in ’n stuk van Hennie van Greunen en het my woorde vergeet, toe ontwikkel ek maar ’n erge hoesbui.”

Van die een rol na die ander

Sy het haar rol in die TV-reeks Knapsekêrels baie geniet. “Human Stark was die regisseur en het my genooi vir ’n oudisie by Binnelanders. Ek’s baie mal oor Chanel. Sy’s ’n naïewe romantikus, ’n bietjie van ’n skinderbek en wil die wêreld red. Sy druk haar neus in almal se sake.

“Ek sien ’n bietjie van myself in Chanel. Ek is hardwerkend, gee om vir ander en is ook versot op romanse. Maar ek hou nié van skinder nie. Chanel is soms ’n bietjie kinderagtig en sy’t die lelikste handsak op aarde,” se Abrahams laggend.

“En ek is nie mal oor Chanel se kuif nie. Naweke kam ek my hare terug.”

Maar sy tel elke dag haar seëninge.

“Ek’s relatief onervare en hier speel ek in ’n topsepie. En dis heerlik om hier te werk. Ons is ’n baie hegte span. Ek en Bradley Olivier (Danny) het onmiddellik gekliek en Simoné Nortmann (wat die rol van René vertolk het) is een van my gunsteling mense. Clint Brink (Steve) is soos ’n mentor vir my.

“Ja, ek verlang beslis Kaap toe, maar Binnelanders se mense is my familie weg van die huis af.”

Ma en pa se trots

“Almal by die huis is baie trots op my. Ek kry gereeld boodskappe van mense in Atlantis. Dis lekker as jy vir mense kan wys dat drome wel kan waar word. My werk het beslis my 14-jarige boetie geïnspireer. Hy bel nou die dag en sê baie ernstig: ‘Lindsey, ek het besluit ek gaan drama studeer.

“My ma is my grootste fan én kritikus. Sy bel gereeld en gee baie eerlike terugvoering.”

Abrahams geniet dit ook baie om in Johannesburg te woon. “Ek het een aand vir die Here gesê ek wil graag binne ’n jaar ’n werk in Johannesburg hê en my eie motor besit en dit het waar geword,” sê sy vol dankbaarheid.

“Die mense is vriendeliker hier en die plek hou jou op jou tone. In die Kaap het ek baie later geslaap,” se sy laggend.

In die toekoms sal Abrahams ook graag by gospelmusiek betrokke wil raak. “Ek is tans ’n sangleier in my kerk. My groot droom is om eendag saam met ’n orkes ’n gospel-CD te maak en wêreldwyd te toer. Maar die Here is in beheer, Hy sal weet wanneer die tyd reg is.”

Meer oor:  Binnelanders  |  Televisie  |  Vrydag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.