Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Love Island SA’ sit ‘Boer soek ’n vrou’ ore aan

Die omstrede maatsoek-werkliheidsreeks Love Island SA op M-Net, wat veroordeel is vir die swak gehalte van die produksie en gebrek aan diversiteit, was op die ou end baie gewild.

Leandie du Randt, aktrise en entrepreneur, is die aanbieder van ‘Love Island SA.’ Foto: Instagram


Volgens M-Net het Love Island SA die uiters gewilde Boer soek ’n vrou en Grey’s Anatomy geklop as die reeks wat die beste gevaar het op die DStv se Video On Demand-app vir Premium-intekenare.

Die reeks is al ongeveer ’n miljoen keer op die DStv-app gekyk, sê M-Net in ’n verklaring. “Love Island SA is ’n sukses wat Suid-Afrikaners landwyd boei.”

Die reeks, wat Sondagaand die wenners aankondig, het op 28 Februarie begin en Leandie du Randt, aktrise en entrepreneur, is die aanbieder.

Ross en Tania. Foto: Verskaf

Maar nadat die eerste episode uitgesaai is, het kykers gesê dit lyk asof dit met ’n swak selfoonkamera opgeneem is. Hulle het ook gekla omdat die klank plek-plek heeltemal af was en sê hulle kon selfs in ’n stadium die produksiespan in die agtergrond hoor praat. Kykers het die reeks Pain Island gedoop.

M-Net het om verskoning gevra vir die “tegniese probleme wat ondervind is” en gesê hulle “werk regtig hard daaraan om dit op te los”.

Nadat die tweede episode uitgesaai is het die hoofborg, LottoStar, hom onverwags onttrek sonder om uit te wei oor die rede daarvoor.

Die doelstelling van Love Island SA is dat elke deelnemer ’n maat vind in die luukse huis waar die groep saam woon sonder kontak met die buitewêreld. Die deelnemers is gewoonlik aantreklike, slanke of gespierde enkellopendes wat die grootste deel van die dag in hul baaibroeke rondloop.

Gedurende die reeks word nuwe deelnemers bygevoeg en sommige uitgeskakel. Die paartjie wat aan die einde van die reeks die publiek se gunsteling is, wen R1 miljoen.

Die soortgelyke reeks het enorme sukses in veral Brittanje behaal en deelnemers daaraan vestig hulself daardeur as bekendes op die internasionale verhoog.

M-Net sê: “Nog ’n noemenswaardige prestasie vir Love Island SA is dat die aantal regstreekse kykers op die app met 21% toegeneem het nadat Love Island SA in Februarie begin het.

Die TV-program is ook baie gewild op sosiale media. Die amptelike Instagram-rekening vir die program, waar inligting oor die deelnemers en kompetisie gedeel word, het tot 23 000 volgelinge gestyg.

M-Net sê hulle was ook beïndruk dat 6 000 mense ingeskryf het vir ’n kompetisie waar kykers ’n vakansie in die luukse huis, waar die reeks verfilm is, kan wen.

“Die wenner van die kompetisie word Sondagaand aangekondig. Die Love Island SA-produksie het ook met trots meer as 200 werkgeleenthede in die ses weke geskep.”

Mischka en Xavier. Foto: Verskaf
Millie en Asad. Foto: Verskaf

Die wenners van die reeks word ook Sondagaand aangekondig. Daar is vier paartjies wat ’n kans staan om die prysgeld te wen, en dit is in die kykers se hande wie met die louere gaan wegstap.

Hulle is Mischka en Xavier; Thimna en Libho; Tania en Ross; en Millie en Asad. Laasgenoemde paartjie blyk die gunstelinge te wees onder die kykers.

Wanneer die wenners aangekondig word sal hulle elkeen ’n koevert kry. Een van hulle se koevert bevat ’n kaartjie met R0, die ander R1 miljoen.

Elkeen maak dan hul koevert oop en die een wie se koevert R1 miljoen bevat, kan dan kies of hulle al die geld vir hulself wil hou, en of hulle dit met hul pasmaat wil deel.

Die program word Sondag om 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.