Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Lui maar op, Belinda’ terug vir nog lag-lekkerte

Die gewilde kykNET-komedie Lui maar op, Belinda is binnekort terug vir ’n volgende seisoen met ’n nuwe regisseur.

Corné van Rooyen, wat voorheen die regie behartig het, het hom nou by die skryfspan aangesluit wat bestaan uit die skrywer Marcel Spaumer en aktrise Desiré Gardner wat tot onlangs in die kykNET-sepie Suidooster te sien was.

Ben Heyns is die nuwe regisseur. Benewens dié verandering sal die geliefde groep akteurs wat in die eerste seisoen te sien was, terugkeer vir nog hope pret.

Brümilda van Rensburg en Annelisa Weiland is in die tweede seisoen van “Lui maar op, Belinda” te sien. Foto: Verskaf

Van Maandag 5 Julie gaan Belinda saam met Annetjie, Ian, Frans, Dirkie en Maggie weer kykNET-kykers se lagspiere kielie.

Die eerste seisoen van dié gewilde komedie is in 2019 op kykNET uitgesaai en die oorspronklike rolverdeling herenig vir die nuwe reeks van 13 episodes.

Brümilda van Rensburg speel weer die naamrol teenoor Annelisa Weiland (Annetjie), Eric Nobbs (Frans), Duncan Johnson (Ian), Wian Taljaard (Dirkie) en Carmen Maarman (Maggie).

Soos tevore speel die wel en weë van dié groepie aweregse karakters in Ian se hardewarewinkel in George af.

Verskeie ander bekendes soos June van Merch, Hannes van Wyk, Marco Spaumer, André Roothman, Melt Sieberhagen en Craig Adriaanse maak ook hul verskyning.

Volgens Van Rensburg is die nuwe reeks weer ’n toonbeeld van vars komedie.

Lui maar op, Belinda is genotvol en die humor is baie skerp,” sê sy. “Belinda is ’n dame met flair, maar sy hanteer verandering nie eintlik baie goed nie. Om ouer te word is nie vir haar maklik nie, en ’n plooi op die bolip herinner haar gereeld aan dié lot.

“Tog het sy steeds drome en gee sy nogal om vir haar vriende en medemens.”

Weiland, ook bekend vir haar rol as Hilda in die sepie 7de Laan en haar Suidooster-sepiekarakter, Kate, sê daar is hope pret agter die skerms.

“Ons akteurs het regtig goed teenoor mekaar gespeel, wat baie belangrik is as ’n mens komedie doen,” sê sy.

“Ek geniet my karakter vreeslik baie, want sy is eintlik heeltemal die teenoorgestelde van my. Sy is preuts, ouderwets en ’n bietjie konserwatief, maar ek en Annetjie kan albei tog te lekker lag.”

Dit kan jy verwag van nuwe seisoen

Hierdie seisoen op Lui maar op, Belinda is dit al ’n paar jaar sedert Annetjie haar gevoelens vir Frans diep in haar sak begrawe het en die hasepad gekies het.

Ian verwerk nog die skok van sy huwelik wat op die rotse is, terwyl Frans, Belinda en Dirkie ’n eenvoudige, maar vervelige bestaan in die ou winkeltjie probeer lei.

Annetjie word gemis en die spannetjie besluit om iets omtrent haar afwesigheid te doen en wanneer sy terug is, begin die oues se ondeundheid van vooraf.

Ian moet meeding met sy eksvrou wat uit die bloute ’n winkel oorkant syne oopmaak. Belinda is weer op die kassie te sien, maar sy steek haar haweloosheid van almal af weg. Frans en Annetjie versoen, en Belinda besluit sy wil ook weer op afsprake begin gaan.

Dirkie begin die soektog na sy biologiese ouers. Daar is ’n groot troue, maar die wittebrood moet dalk uitgestel word wanneer die mees uitdagende rol van haar lewe Belinda in die gesig staar.

Meer oor:  Brümilda Van Rensburg  |  Tv-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.