Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Lupita, Zac wen Daytime Emmys

Die akteurs Lupita Nyong’o en Zac Efron is in die wolke nadat hulle die afgelope naweek elk hul eerste Emmy-prys gewen het.

Lupita Nyong’o Foto: Getty Images

Nyong’o, wat in 2014 met ’n Oscar bekroon is vir haar ondersteunende rol in 12 Years a Slave, het die Emmy vir die voorlesing van haar kinderboek, Sulwe, in die Netflix-reeks Bookmarks: Celebrating Black Voices gewen.

Efron, op wie veral tieners van 2006 tot 2008 hul harte verloor het in die High School Musical-reeks, het sy Emmy as aanbieder van Down to Earth with Zac Efron ontvang. Dié reisreeks is ook op Netflix beskikbaar.

“Wow! Ek het dit nooit verwag nie en is so dankbaar,” het Efron getwiet.

“ ’n Groot dankie aan die Emmys, Netflix en ons klein dog kranige tegniese span wat #DownToEarth maak wat dit is.”

Hy het ook die aanhangers van die reeks bedank en die prys aan hulle opgedra.

Die Daytime Emmy-pryse, wat vir die 48ste keer deur die National Academy of Television Arts and Sciences (Natas) uitgedeel is, is vanjaar weens die Covid-19-pandemie oor drie dae uitgedeel – 25 Junie en die afgelope naweek.

TV-inhoud wat in Amerika tussen 02:00 en 18:00 gebeeldsend is, het weer daarvoor in aanmerking gekom. Die Primetime Emmy-pryse, wat in September uitgedeel word, fokus op TV-programme tussen 18:00 en 02:00.

Van die ander groot Daytime Emmy-wenners sluit in Andy Serkis, bekend om sy rol as Gollum in die The Lord of the Rings-trilogie, wat die Emmy vir sy gasrol as Mayor of Mistrinaut in The Letter for the King gewen het.

Die veteraan Mark Hamill, ná dekades steeds bekend as Luke Skywalker in die Star Wars-rolprentreeks, is bekroon vir sy rol as Vuli in die voorskoolse animasieprogram Elena of Avalor.

Die sangeres en American Idol-wenner Kelly Clarkson is vir die tweede opeenvolgende jaar aangewys as die beste aanbieder van ’n geselsprogram, in haar geval vir The Kelly Clarkson Show. Dit is vanjaar ook as die beste geselsprogram aangewys.

Die TV-aanbieders Alex Trebek en Larry King, wat in onderskeidelik November verlede jaar en Januarie vanjaar dood is, is albei postuum vereer.

Luidens ’n mediaverklaring is 3 000 inskrywings vir vanjaar se Daytime Emmys ontvang. Sowat 1 000 kenners in die TV-bedryf het die inskrywings beoordeel.

Besoek https://theemmys.tv/daytime/ vir die volledige wennerslys.

  • Saamgestel deur Christiaan Boonzaier met ’n bykomende bron: hollywoodreporter.com
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.