Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Ma 'n 'koningin, nie 'n prinses' ná mooimaak-sessie
Suzette Nieuwenhuizen (44) voor en ná haar mooimaaksessie.Foto: Verskaf

’n Vrou van die Strand in die Wes-Kaap se drie dogters was stom van verbasing toe hulle sien hoe mooi hul ma gemaak is op die kykNET-program Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel.

“Sy is ’n koningin, nie ’n prinses nie,” sê Anuchke, Suzette Nieuwenhuizen (44) se jongste dogter in Donderdagaand se episode toe sy haar ma vir die eerste keer gesien het met haar nuwe voorkoms.

“Ek het haar byna nie herken nie. Ek kan dit amper nie beskryf nie, dis so mooi.” Haar ander dogter, Lianca, sê sy het “onmenslik mooi gelyk”.

Suzette het met behulp van die Mooimaak-span ’n nuwe voorkoms met ’n gladde vel, blinkbruin hare, ’n spierwit glimlag en boonop is sy meer as 9 kg ligter.

Suzette sê haar nuwe voorkoms het haar gehelp om tevrede te wees met haarself. “Ek kan alles nou agter my sit. Dit is ’n nuwe ek, ’n nuwe Suzette wat vorentoe moet beweeg.”

Suzette het in verlede week se episode vertel van die pad wat sy gestap het met haar oorlede man, wat volgens haar ’n alkoholis en narcis was.

Hy is in 2017 van hul huis in die Kaap weg na Pretoria waar hy twee weke later skielik siek geword het. Sy kon hom nog in die hospitaal besoek, maar hulle kon nie finaal vrede maak voordat hy dood is nie.

“Hy moes gesê het hy is jammer vir dit wat hy gedoen het,” sê sy. Sy sê hul huwelik was vir ’n tyd baie stabiel en dit het goed gegaan, maar sy is later emosioneel gemanipuleer om te glo dat sy nie sonder hom sou kon klaarkom of sonder hom ’n nuwe lewe sou kon bou nie. Daarom het sy nie van hom geskei nie.

Ná sy dood het haar ouers weer by haar in haar woonstel ingetrek, en sy het ’n kamer gedeel met haar twee skoolgaande dogters.

Kort voor die Mooimaak-proses begin het, het haar ouers weer uitgetrek en sy kon ’n kamer en badkamer vir haarself hê.

Wiese-Wentzel het vir haar nuwe beddegoed en badkamer-bykomstighede gegee om die plek haar eie te maak, en selfs haar laaie vir haar reggepak.

Suzette was in trane oor dié geskenk, en ook oor hoe sy gelyk het na Botox-inspuitings, lip-vullers, fineer-tande, verskeie velbehandelings, ’n dieet en permanente grimering.

“Vandag weet ek, ek is genoeg. Ek kan sien dat ek pragtig is.”

Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel word elke Donderdag om 21:00 op kykNET uitgesaai en volg die mooimaak-reis van 14 Suid-Afrikaners wat nuwe hoop vind.

Wiese-Wentzel wys vir Suzette haar nuwe badkamer.
Die proses van Suzette se gewigsverlies en haar gedaanteverwisseling.

Meer oor:  Clare Wiese-Wentzel  |  Mooimaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.