Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Maak reg vir nóg baie ‘Greased lightning’ in TV-reeks
Olivia Newton John en John Travolta in ‘Grease’.

’n Reeks van tien episodes wat afspeel vóór die tydperk in die gewilde eendstert-rolprent Grease, wat in 1978 uitgereik is, word ontwikkel.

Rise of the Pink Ladies gaan volgens berigte in Variety en Hollywood Reporter ’n musiekreeks wees vir televisie en dit word deur Paramount+ ontwikkel.

Dit speel af vier jaar voordat Danny (John Travolta) met die wangwolle en Sandy (Olivia Newton-John) met die pastel-opskoprokkies hul harte so onherroeplik op mekaar verloor het in die gewilde romantiese musiekrolprent.

Dié rolprent is in 2020 ingesluit in die nasionale rolprentregister van die VSA-kongres se biblioteek omdat dit “kultureel, geskiedkundig en esteties belangrik is”. Die klankbaan het ook destyds groot aftrek gekry met immergroen liedjies soos “You’re the One That I Want”, “We Go Together”, “Greased Lightning’ ” en “Hopelessly Devoted to You”. Die album was die topverkoper in 1978 in Amerika.

Die oorspronklike Pink Ladies met Stockard Channing as Rizzo (voor) en Didi Conn (links) as Frenchy in ‘Grease’.

Waar die oorspronklike rolprent die liefdespaadjie van die koel eendstert Danny Zuko van die T-Birds en die onskuldige Australiese uitruilstudent Sandy Olsson by Rydell High gevolg het, speel Rise of the Pink Ladies ongeveer vier jaar voor dit af by dieselfde skool.

Die “berugte” bende bekend as die Pink Ladies – Rizzo, Jan, Frenchy en Marty – se beginjare is die fokus van die reeks. Dit gaan wys hoekom hulle so “weerbarstig en rebels” geraak het. Destyds het hulle gerook en gedrink en die gevare van ’n tienerswangerskap was ook dreigend teenwoordig. Stockard Channing was die enigmatiese dog tragiese Rizzo en Didi Conn was Frenchy. Die twee was die bekendstes van die vier vriendinne, wat hul randeier-status by die skool tot hul voordeel gebruik het.

Die draaiboekskrywer van die komende reeks is Annabel Oakes, wat die reeks Atypical, wat op Netflix te sien is, geskryf het. Brett Haley is die regisseur. Hy is bekend vir die musiekrolprent Hearts Beat Loud, wat ’n groot treffer was op die Sundance-rolprentfees in 2018. – Saamgestel deur Laetitia Pople

Meer oor:  Televisie  |  Pink Ladies  |  Grease
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.