Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Marc en Marisia laat ons in sprokies glo

Vir amper ses maande lank moes ons land se uiteindelike paartjie van The Bachelor, Marc Buchner (37) en Marisia van Wyk (24), die geheim van hul verhouding stil hou en uit die publieke oog bly om nie die verrassing en spanning vir M-Net-kykers te bederf nie.

Marisia van Wyk, oomblikke nadat Suid-Afrika se tweede ‘Bachelor’ haar as sy droomvrou aangewys het. Foto: M-Net

Eenvoudige goed soos om vinnig saam winkel toe te gaan was vir die paartjie taboe en hulle moes wag tot gisteraand kort voor agt toe die laaste episode op M-Net (101) uitgesaai is voordat hulle self ook die aap uit die mou kon laat.

“Gelukkig is ons albei nogal privaat en ek dink dit was dalk vir Marc moeiliker as vir my om ons verhouding ’n geheim te hou,” sê Marisia vanuit hul woonstel in Kaapstad waar dié kitspaartjie deesdae saam bly.

Die tweede The Bachelor SA-reeks is verlede jaar al opgeneem en kort nadat Marc vir Marisia as die wenner gekies het, het sy Kaap toe getrek om nader aan hom te wees. Dit is straks ware liefde, want die aantrekkingskrag tussen hulle is byna tasbaar.

“Daar was ook ’n geleentheid vir my om Londen toe te gaan en as Marc my nie gekies het nie, sou dit my plan wees,” sê Marisia opgewek.

Marc Buckner en Marisia van Wyk se inperking-selfie.

Sy vertel sy het aan The Bachelor SA deelgeneem met die hoop om haar trouman te ontmoet. Hoewel sy eintlik van nature skaam is, was sy van die eerste oomblik toe sy die advertensie met Marc daarin sien, deur hom gefassineer.

“Ek is glad nie mededingend nie en om met al die ander vroue in kompetisie te wees om Marc se aandag was vir my moeilik. My ma het my geleer as iets vir jou bedoel is, sal dit na jou kant toe kom. Jy hoef nie daarvoor te baklei of mee te ding nie. Daarom het ek met die doel gegaan om Marc beter te leer ken en om te sien of hy dalk die een vir my is. Selfs nog voor die opname het ek geweet as hierdie verhouding vir my bedoel is, sal alles natuurlik in plek val,” sê Marisia.

Noodwendig het dié paartjie wat oornag sterstatus bereik het, glad nie die inperking verwag toe Marisia sak en pak Kaap toe trek nie, maar dit was ’n maklike besluit om eerder vir die tyd saam in te trek terwyl die land vlak 5 van die inperking beleef het.

“Die keuse om saam in sy woonstel te bly was maklik, want hy het ’n vier-been-kind Luna, beter Wi-Fi as ek en ’n televisie,” lag Marisia.

Die ‘wenpaartjie’ van ‘The Bachelor’ is duidelik verlief.
Eindelik mag Marc en Marisia nou die geheim van hul blommende verhouding verklap.

“Ek dink regtig hierdie tyd was baie goed vir ons verhouding en daar is geen beter manier om mekaar te leer ken nie. Ons het die afgelope weke saam na die uitsendings van The Bachelor gekyk en ek het Marc se siel uitgetrek omdat hy so vryerig op nasionale televisie was!”

Die twee se verhouding het sedertdien die groot toets van inperking deurstaan en die liefde blom.

“Dit gaan regtig goed met ons, ja!” sê albei van hulle.

Of daar binnekort trouklokke gaan lui, swyg hulle egter nog en vertel dat hulle vir eers net nog ’n baba gaan by kry – ’n Schnauzer-brakkie wat hulle by ’n hondehawe gaan aanneem.

Die twee praat Engels met mekaar, hoewel Marisia se huistaal Afrikaans is.

“Ek verstaan darem ’n bietjie Afrikaans, maar my plan is vir seker om die taal te leer praat,” sê Marc.

Marisia sê sy het sleg gevoel teenoor Bridgitte, veral toe sy na die televisie-uitsendings gekyk het, maar sy glo regtig sy en Marc is vir mekaar bedoel.

“Op die ou end gebeur dinge soos dit moet,” sê sy.

“Ek glo dit met my hele hart.”

Meer oor:  Televisiereeks  |  Marisia Van Wyk  |  Verhouding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.