Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Margit in trane oor haar ‘koevert’
Margit Meyer-Rödenbeck

Jy moet ’n hart van klip hê as jy nie saam met Margit Meyer-Rödenbeck trane afvee wanneer “die koevert”haar voete onder haar uitslaan en emosies oorneem nie.

Die koevert is ’n TV-reeks van 13 episodes wat op die “pay it forward”-konsep geskoei is en elke ontvanger uit die bloute verras. “Ek het regtig nie geweet waarom Hugo (Theart, KKNK-hoof) my kom besoek nie,” het Meyer-Rödenbeck gesê.

Die trane het reeds geloop toe hy haar bedank vir wat sy vir ander kunstenaars in die inperkingstyd doen. Maar die trane van ongeloof toe sy die swart koevert oopmaak en die bedrag van R10 000 sien, sal kykers nie maklik vergeet nie. Toe sy die tweede koevert ontvang om daarmee dankbaarheid teenoor ’n volgende persoon te toon, het ekstase oorgeneem. “Dis die lekkerste lekker om te kan gee, lekkerder as om te ontvang,” sê sy.

Episode vier se dankbaarheidsketting begin by die aktrise Cintaine Schutte. Haar keuse van ’n verdienstelike ontvanger was Theart, wat by die Teaterbystandsfonds betrokke is. Dié fonds is feitlik leeg weens die inperkingsmaatreëls wat alle teateroptredes verbied. Geen optredes, geen geld, terwyl verskeie ouer mense uit die vermaakbedryf van die Teaterbystandsfonds afhanklik is.

Eleanor de Klerk

Toe Meyer-Rödenbeck met die tweede R10 000 van Theart in haar hand sit, het een naam onmiddellik deur haar kop geflits: haar pa se versorger, Eleanor de Klerk.

Sy vertel hulle het haar pa, Albrecht Meyer-Rödenbeck, vroeër vanjaar na ’n aftreeoord in Durbanville geskuif en drie weke daarna het die staat van inperking ingetree. Besoeke van kinders en familie is nou nog verbode. Maar gelukkig was Eleanor daar. Sy was een van haar pa se versorgers in sy eie tuiste en is behou “omdat hulle twee so ’n besonderse band het.

“Eleanor is sy versorger, sielkundige, telefoniste, op slegte dae beur sy hom op en op háár slegte dae vra sy hom raad. En sy gee hom menswaardigheid; dis so belangrik. Die Duitser se kop makeer niks, maar sy immuniteit is laag. Partykeer kan hy ’n ent stap, ander kere kan hy nie eens self eet nie. Dan dink ons dit is tyd om hom te groet. Ons het al baie kere van hom afskeid geneem, maar sover het hy nog elke terugslag getroef.

“Twee weke gelede was hy ná ’n val in die hospitaal. Hy het ’n abses gekry, is geopereer en nou stap hy weer. Ek het eenkeer amper al my Innibos-optredes afgestel omdat ons gedink het hy gaan dit maak nie. Toe ek terugkeer, was hy al weer aan die gang.”

Meyer-Rödenbeck se hart breek vir al die ou mense en hul verlange, maar loop oor van dankbaarheid teenoor De Klerk. “Sy het soveel deernis. Dis nie ’n werk wat enige mens kan doen nie. Jy moet ’n passie daarvoor hê; en begrip en sakke vol geduld.”

Met die oorhandiging van daardie laaste koevertjie, van Meyer-Rödenbeck aan De Klerk, was daar nie keer aan die stortvloed trane nie. Kykers moet maar voorsorg tref.

• Episode vier van Die koevert is Dinsdagaand op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met verskeie herhalings daarna. Dit word in samewerking met Netwerk24 aangebied. Benoem in die kommentaarafdeling by die berig ’n persoon of organisasie wat ’n verskil in die gemeenskap maak. So staan jy ’n kans om R2 000 aan hulle te oorhandig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.