Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Ma’s boei in vurige reeks

Moederskap, rasseverhoudinge en vertroue tussen gesinslede is die oorhoofse temas wat die TV-reeks Little Fires Everywhere een van die boeiendste programme maak wat hy tot nog toe gesien het, skryf André-Pierre du Plessis.

Hoewel Celeste Ng se roman Little Fires Everywhere nie ’n noemenswaardige literêre prys losgeslaan het nadat dit in 2017 verskyn het nie, het ma’s oor die wêreld heen die boek verslind. Reese Witherspoon was een van hulle en het so baie daarvan gehou dat sy besluit het om dit as ’n reeks van agt episodes vir televisie aan te pas.

Witherspoon is nie net ’n vervaardiger van die televisiereeks nie, maar sy vertolk ook die hoofrol wat deels herinner aan haar rol as Madeline in Big Little Lies. Sy is hierdie keer in die 1990’s waar haar karakter, Elena, die dekade van musiekkassette en die pêrelhalssnoer verpersoonlik. Om in Elena se klerekas te kyk is soos om Maryna in Sonkring weer voor jou te sien.

Op familiefoto’s langs haar man, Bill (vertolk deur Joshua Jackson van Dawson’s Creek-faam), lyk sy soos ’n tipiese gelukkige ma wat met vier kinders min tyd vir haar eie aspirasies het. Sy probeer wel om haar droom van ’n loopbaan in die joernalistiek by ’n klein, plaaslike koerant na te jaag. Dit ondanks vele ander verantwoordelikhede wat onder meer dié van ’n eiendomsagent insluit.

Wat sy egter nie besef nie, is dat haar jongste huurders, Mia en Pearl (Kerry Washington en Lexi Underwood), haar en haar gesin se lewe gaan verander. Hoewel Mia nie eintlik genoeg geld verdien om die huur te betaal nie, glo Elena dit sal ’n goeie daad wees om haar vertroue in ’n swart enkelma te plaas vir wie sy ook later ’n werk in haar huis aanbied.

Ná die eerste episode voel Little Fires Everywhere (beskikbaar op Showmax) soos enige ander dramareeks. Maar gee die reeks net nog één episode kans en jy kry ’n indruk oor hoe diep geheime verweef word. Ma’s jok vir pa’s, dogters jok vir ma’s en meisies jok vir boeties. Wat die reeks interessant hou, is nie net hoe geheime die vermoë het om ’n gesin totaal en al uitmekaar te skeur nie, maar eerder hoe een familielid se geheime drie gesinne tegelykertyd kan opfoeter.

Die eerste episode begin met ’n luukse huis wat afbrand. Daarna word die horlosie teruggedraai en ná elke episode probeer jy tevergeefs raai wie in daardie familie vir die brandstigting verantwoordelik is. Was dit die huishulp (vertolk deur Washington) wat haar vir Elena vererg het? Dié twee ma’s ding mee om hul kinders se liefde en geheime. Uiteindelik kom dit neer op ’n kompetisie tussen twee sterk vroue wat meer aan mekaar as enigiemand anders probeer bewys dat hulle ’n beter ma is.

Reese Witherspoon (links) en Kerry Washington gaan kykers in ‘Little Fires Everywhere” aan die raai hou. Foto: Showmax

As vervaardiger was dit belangrik vir Witherspoon om met Little Fires Everywhere die spektrum van moederskap ten toon te stel. Die reeks bevraagteken die eienskappe wat ons veels te maklik aan dié van ’n goeie moeder toedig. Volgens Witherspoon is daar “verskillende soorte ma’s, maar ons sien hulle nie dikwels genoeg op die skerm nie”.

Witherspoon hoop kykers identifiseer met skoonma’s en hul eie en ander families se ma’s deur die loop van die program.

“Dis die ideale program vir mense wat iets wil saamkyk en daaroor gesels,” sê sy.

Ná elke episode het ek bykans ’n uur op die foon deurgebring juis om met ’n vriendin oor die program te gesels. Moederskap, rasseverhoudinge en vertroue tussen gesinslede is die oorhoofse temas wat van Little Fires Everywhere een van die boeiendste programme maak wat ek tot nog toe gesien het. Wat dit egter bittersoet maak, is dat die regisseur van hierdie meesterlike televisiereeks, Lynn Shelton, onverwags in Mei dood is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.