Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Meyer se ‘Trackers’ vind sy spoor na televisie

Deon Meyer se riller-roman Trackers, wat oorspronklik in 2010 in Afrikaans as Spoor uitgereik is, word eersdaags as ’n minireeks in Kaapstad verfilm.

Dié reeks, wat na verwagting later vanjaar op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai word, is M-Net se eerste samewerking met die Duitse uitsaaier ZDF.

Deon Meyer

Verskeie produksiemaatskappye is by die vervaardiging van die reeks betrokke: SCENE23, ’n produksiemaatskappy van Meyer, Tim Theron en Cobus van den Berg, die Londen-gesetelde produksiemaatskappy Three River Fiction en Rebecca Fuller-Campbell van Oxyg3n Media.

Die regisseur is Jyri Kähönen wat in Helsinki, Finland, gesetel is.

Ongeveer 70% van die reeks sal in Engels wees en die res Suid-Afrikaanse of Afrika-tale. Afrikaanse karakters sal Afrikaans met mekaar praat.

Hoewel M-Net nog nie die rolverdeling bekend kan maak nie, bestaan dit meestal uit Suid-Afrikaanse akteurs. Net een van die hoofrolle en een kleiner ondersteunende rol word deur buitelandse spelers vertolk omdat die karakters buitelands is.

Trackers bestaan uit verskillende storielyne wat onder meer fokus op swart renosters, georganiseerde misdaad, diamantsmokkelary en terrorisme.

Volgens Yolisa Phahle, bestuurshoof van algemene vermaak by MultiChoice, was die tyd ryp om plaaslike stories verder as die grense van Afrika te neem.

“Daar is ’n toenemende belangstelling in storiegenres uit verskillende streke,” het Phahle op ’n mediakonferensie van M-Net in Johannesburg gesê.

“Ons het besluit om die ryk tapisserie van stories in Suid-Afrika te gebruik. Toe besef ons ook dat baie van die gewildste televisieprogramme tans verwerkings van groot literêre werke is. Ons het gaan kyk na die beste skrywers in Suid-Afrika wat ook in die buiteland hoog aangeskryf word.”

Trackers deur Deon Meyer.

Phahle het in 2018 die C21-konferensie in Londen bygewoon waar Netflix genoem het dat 50% van die wêreld se beste drama binne die volgende drie tot vyf jaar nie uit Brittanje of Amerika sal kom nie.

“Dus is daar ’n groot geleentheid vir dramas in buitelandse tale en vir drama uit Afrika. Ons glo dat ons stories met die buiteland kan resoneer en ons wil ons bedryf verder ontwikkel. Ons wil met ons plaaslike talent werk en dan ook die bestes van die wêreld hierheen bring om ook by ons te kan leer.”

Tim Theron, ook ’n akteur, het op die konferensie die belangrikheid van die skep van oorspronklike Suid-Afrikaanse materiaal beklemtoon.

“Maar ook wat internasionaal aanklank vind. Die fokus moet reg wees. Ons het na Los Angeles en Londen gegaan om vervaardigers te ontmoet. Ons het voorheen saam met Deon gewerk aan die fliek Jagveld, wat hy geskryf en vervaardig het. Ons het met hom gepraat en besluit om saam te werk. Met die bestudering van sy boeke was dit duidelik dat Trackers ’n reeks moet wees.”

Meyer was self by die draaiboekverwerking betrokke.

“Hy was betrokke waar sekere aanpassings vir die skerm gemaak moes word om te verseker dat die kern en hart van die storie behou word. Hy het ook sy insigte gedeel. Hy was van dag een af betrokke.”

Die skrywers Amy Jeptha, Jozua Malherbe, Rene van Rooyen (vir een episode en storielyne) en Kelsey Egan is deel van die Suid-Afrikaanse span. Egan is ’n Amerikaanse skrywer wat deesdae in Suid-Afrika woon.

“Ek is mal oor die Suid-Afrikaanse agtergrond,” sê Phahle. “Wanneer die storie begin, is ’n mens dadelik bewus van die verskeidenheid en veelsydigheid van Suid-Afrika. Die karakters sal in die buiteland herkenbaar wees. Hulle is karakters met universele emosies en uitdagings. Ons het hard hieraan gewerk om te verseker dat ons reg laat geskied aan ’n baie goeie roman.”

Meer oor:  M-Net  |  Tim Theron  |  Deon Meyer  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.