Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Minnaar wys sagte vlees onder harde dop in ‘Fynskrif’

’n Wewenaar, wat in sy middeljare nuwe liefde vind, al is hy nog verknog aan sy herinneringe van sy gestorwe vrou, en wat steeds liefderyk om sy reeds volwasse dogter kloek. Dit was van die uitdagings wat sy rol in die bekroonde televisiereeks Fynskrif vir die akteur Dawid Minnaar ingehou het. Hy het met Laetitia Pople gesels.

Die sosiaal onbeholpe Pieter, wewenaarkêrel van Jana (Hélène Truter) in die gewilde televisiereeks Fynskrif, is nie ’n rol wat ’n mens maklik plaas by die akteur Dawid Minnaar nie.

Dawid Minnaar en Hélène Truter in ’n toneel uit ‘Fynskrif 3’, wat Dinsdae op kykNET te sien is.

Sake raak ook hier in die laaste aflewering van die reeks verwikkeld omdat hy ook die pa is van Christelle (Rolanda Marais), Corné Hanekom (Beer Adriaanse) se vriendin – Corné is dan ook boonop Jana se seun. En Dinsdagaand het Pieter boonop in sy dogter se klere voor Corné verskyn.

Minnaar het eers die rol van Pieter aanvaar en toe besluit wat hom tot die rol aantrek. “Ek is ongelukkig nie in die kategorie van akteurs wat hulle rolle kan uitkies na gelang van wat hulle daartoe aantrek, al dan nie.”

Minnaar was meer onlangs in die toneelstuk Wildeals op Aardklop te sien, wat vanjaar by die KKNK opgevoer sou word, maar weens Covid-19 afgestel is.

Elke karakter het sy eie uitdaging

Hy het die karakter Pieter met sy “oënskynlike onsimpatieke aard en karaktertrekke” interessant gevind. “Elke mens het sy weerlose en kwesbare kant, party steek dit net beter weg as ander. Hoe harder die dop, hoe sagter die vlees wat dit omvou.”

Dit is egter moeilik met rolle wat beperkte blootstelling het in ’n reeks, omdat die kyker nie die geleentheid het om die karakter oor ’n lang tydperk te leer ken nie, glo hy. “Dit is jou taak as speler om ’n veelvlakkige, driedimensionele en geloofwaardige persoonlikheid te skep in die paar tonele tot jou beskikking. Ek dink nie Pieter steur hom aan sosiale etiket nie en ek dink hy is baie reguit en op die man af, met die gevolg dat hy soms oorkom as ontaktvol, selfs bruusk. Verder is hy baie lief vir sy dogter en sal hy haar ten alle koste beskerm, met die gevolg dat enige man wat die minste belangstelling in haar toon, deeglik deur hom getakseer sal word.”

“Ek voel vir die mense wat in beperkte ruimtes vasgekeer sit, soms met nie eens ’n balkon waar jy af en toe kan gaan asem skep nie."

Hoewel Pieter se geliefde vrou oorlede is en hy die groot leemte daagliks ervaar, verhoed dit hom egter nie om aan te gaan met sy lewe en ’n nuwe verhouding aan te knoop met die regte vrou nie, sonder om die herinneringe aan sy eerste vrou te verloën, vertel Minnaar van sy karakter. “Ek vind Pieter se uitkyk op die lewe progressief, kontemporêr en sonder fieterjasies. Ek dink sy grootste tekortkoming is sy onvermoë in kommunikasie met ander, wat soms tot misverstande en vals aannames kan lei.”

Rolanda Marais, Beer Adriaanse en Dawid Minnaar in ’n toneel uit ‘Fynskrif 3’.

Ou vriende in die bedryf

Minnaar ken Truter, wat sy geliefde in die reeks speel, al van universiteitsdae (Stellenbosch) af en hulle het ook saamgewerk aan die televisiereeks Amalia. Hulle is gemaklik met mekaar en werk baie lekker saam, sê hy.

“Ek dink dit is lekker dat die twee ouer mense – soos hier – eenvoudig die bul by die horings pak (no pun intended) en geen verskonings maak vir hulle aangetrokkenheid tot mekaar nie. Hulle laat nie toe dat hul eie geluk beperk of aan bande gelê word deur sosiale konvensies of enigiemand anders se opinie oor hul betrokkenheid by mekaar nie, insluitend hul eie kinders.”

Moeilike tonele

Dinsdagaand se toneel waar hy in vroueklere verskyn, was nie vir hom maklik nie. “Deels ook omdat ek steeds ietwat vreemd was op die stel en min lede van die produksiespan geken het. Mens voel nogal blootgestel in so ’n situasie. Dis natuurlik tegelyk komies en absurd en ook werklik ontstellend vir Beer se karakter, so ’n mens moet versigtig werk dat dit nie in klug verval nie. Dit speel natuurlik alles af in Beer se karakter se onderbewuste en het niks met Pieter self te doen nie.”

"So daardie versoeking is my gespaar om televisie te kyk. Daar is natuurlik ’n deel van my wat eintlik nooit weer my huis wil verlaat nie, dis maar die kluisenaar in my."

Enkele jare gelede was Minnaar die bebaarde vrouekarakter Poncia in Die huis van Bernarda Alba, geregisseer deur Christiaan Olwagen wat op die KKNK opgevoer is. Dit is ’n rol wat steeds na aan hom is. “Poncia was ’n man wat die lewe as ’n vrou gelei het. Dis natuurlik alles baie kompleks en mens sou hom/haar nog eindeloos kon ontgin en ondersoek. Wat my die meeste verstom het van Poncia, was hoe gehore haar aanvaar het, ek meen, hier het jy ’n karakter wat op die verhoog verskyn in vroueklere en grimering met ’n vol baard! Dis mal, maar hulle het haar sonder voorbehoud aanvaar, dit was vir my ongelooflik spesiaal.”

Die eerste vrou wat hy gespeel het was in Marthinus Basson se Exit the King – “die rol van ’n ou koningin, ’n honderd jaar gelede”.

Dis nie ’n vraag hoe ’n akteur sy “innerlike vrou” kanaliseer nie, meen hy. “Dit is so eenvoudig as om jou verbeelding te gebruik, om jouself in haar skoene te plaas, eintlik maar soos jy enige ander karakter sou benader, hetsy man of vrou of wat ook al. Dieselfde manier hoe jy jou innerlike reeksmoordenaar, of dwelmverslaafde of Don Quixote se perd sou kanaliseer.”

Die voorreg van ‘Fynskrif’

Dit was vir hom ’n groot voorreg en plesier om op Fynskrif te werk. Hy loof die produksiewaarde van die reeks asook die tekste van Louis Pretorius.

Dawid Minnaar in ‘Fynskrif 3’.

“Ek is uiters beïndruk en aangenaam verras deur die respek en billikheid waarmee hierdie produksiehuis kunstenaars benader en behandel. Daar is ’n hele paar ander produksiehuise wat gerus by hulle kan gaan kers opsteek wat kontraktuele bepalings en voorwaardes betref. Ek hoop dat ek inderdaad die geleentheid sal kry om weer iewers in die toekoms saam met die span te werk.”

As kunstenaar hou hy uit midde-in die Covid-19-pandemie, wat kunstenaars se werkgeleenthede oornag laat verdamp het. Hy meen hy is uiters bevoorreg om ’n huis te hê met ’n tuin waarin hy kan werskaf. Hy hou by ’n daaglikse roetine. “Ek voel vir die mense wat in beperkte ruimtes vasgekeer sit, soms met nie eens ’n balkon waar jy af en toe kan gaan asem skep nie. Dis inderdaad ’n vreemde tyd waarin ons leef. Ek probeer om so ver moontlik ’n struktuur aan my dae te gee. Ek probeer op hoogte bly met wat in die wêreld aangaan, hoewel ek dink ’n mens moet ook versigtig wees vir ’n oormaat inligting. Jy kan ook net soveel nuus kyk en luister voordat jy ’n versadigingspunt bereik. Ek probeer fiks bly, werskaf amper daagliks in die tuin, ontdek die plesier van boeke, en herlees (dit spaar ook geld).”

Hy is ’n kluisenaar wat nie ’n televisie besit nie, erken hy. “So daardie versoeking is my gespaar om televisie te kyk. Daar is natuurlik ’n deel van my wat eintlik nooit weer my huis wil verlaat nie, dis maar die kluisenaar in my. Ek is ook nie heeltemal alleen nie, hier is drie ander mense op die eiendom en dit help dat dit ’n uiters vredevolle, respekvolle en dus aangename huishouding is.”

Meer oor:  Kyknet  |  Televisie  |  Dramareeks  |  Fynskrif
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.