Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Mooimaak’ se Clare Wiese-Wentzel help diere in nood

Die televisieaanbieder en diereliefhebber Clare Wiese-Wentzel het haar gewig ingegooi agter ’n veldtog om die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha te help wat swaar trek weens die uitwerking van die Covid-19-pandemie.

Wentzel is die aanbieder van Mooimaak op kykNET.

Haar hond, Kimbey, wat ook gered is, is onlangs dood. “Ter ere van haar wou ek diere in nood help. Ek het gehoor van die Mdzananda-dierekliniek se stryd weens die inperking en het dadelik geweet hulle het my hulp nodig.”

Tydens die inperking is die kliniek drie keer beroof. Een van die voorvalle was ’n gewapende rooftog, volgens ’n verklaring.

Clare Wiese-Wentzel en Kimbey.

“Om ’n vuurwapen op jou gerig te hê, is iets waarop jy nooit voorbereid is nie,” sê Marcelle du Plessis, bestuurder, fondsinsameling- en kommunikasiebestuurder. “Al wat deur my kop gegaan het was die diere en ons personeel. Ek het net gebid dat almal veilig sal wees.”

Ná hierdie voorvalle moes die veiligheid by die dierekliniek opgeskerp word en dit alleen kos R26 000 elke maand.

“Ons moes baie dinge opknap en ’n voltydse sekuriteitsmaatskappy en wag huur. Dit is nou ’n deurlopende uitgawe en iets waarvoor ons nie begroot het nie,” sê Du Plessis.

Volgens Wentzel het sy haar dadelik by die veldtog aangesluit, as ’n Paw-lid geregistreer en begin om ’n maandelikse skenking te maak. “Ek het sterk daaroor gevoel om meer te doen, en ek weet Kimbey sou dit ook so wou hê.”

Wentzel en Kimbey is nou beskermhere van die dierekliniek en moedig mense aan om die veldtog te ondersteun deur middel van ’n video wat van Kimbey se lewe gemaak is. Mense word in die video gevra om maandeliks R100 te skenk.

Kimbey
Clare Wiese-Wentzel se geliefde hond, Kimbey, is onlangs dood.

Die kliniek het tussen April en November ook R142 000 verloor van maandelikse donateurs wat hul debietorders gekanselleer het. Dit sluit die bykans R1,1 miljoen uit weens stygende uitgawes en die gebrek aan die generering van inkomste sedert die inperking begin het.

Sowat 1 000 diere word maandeliks by die kliniek behandel wat andersins nie toegang tot veeartsenydienste sou kry nie. Diere-eienaars word ook opgevoed oor hoe om vir hulle diere te sorg.

Kyk na Kimbey se video op die Mdzananda-dierekliniek se Facebook- of Instagram-blad, of by op YouTube. Vir meer inligting oor die veldtog besoek www.mdzanandasecure.co.za of kontak info@mdzananda.co.za.

Meer oor:  Kyknet  |  Mooimaak  |  Clare Wiese-Wentzel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.