Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Mooimaak’ se nuwe seisoen tower 2 mans op
Clare Wiese-Wentzel
Clare Wiese-Wentzel

Mooimaak, Clare Wiese-Wentzel se baanbrekerreeks wat 14 mense op ’n inspirerende mooimaakreis neem, keer terug na kykNET op Donderdag 1 Oktober.

Dit is nou in ’n nuwe tydgleuf om 21:00. Soos met die vorige twee reekse word deelnemers se lewens getransformeer met die beste en jongste niechirurgiese kosmetiese behandelings, estetiese tandheelkunde, grimeerwenke, vars haarstyle en nuwe uitrustings.

Die derde reeks fokus weer onder meer op tendense in gesondheid, gewigsverlies, sielkunde en leefstyl. Soos tevore span Clare die kundigheid en hulp van estetiese kenners en medici in vir die transformasie van deelnemers.

Clare ontmoet ook die deelnemers in hul eie huise waar sy met familielede of geliefdes gesels.

Die nuwe seisoen het ook ’n aantal opwindende nuwe aspekte en elke deelnemer se transformasie sal oor twee episodes uitgesaai word.

“Hoewel daar nog ’n groot fokus op voorkoms is, delf ons dieper in die deelnemers se leefstyle in en verras elkeen met iets groot wat hul daaglikse lewe verander. Ons het ook hierdie jaar ’n egpaartjie wat saam ingeskryf het en ’n klomp nuwe behandelings,” sê Clare.

Dit is ook die eerste keer wat mans onder die deelnemers is.

“Ons is baie opgewonde daaroor om uiteindelik mans by ons program te kon insluit. Ons is oorval deur mans wat graag ook deel wou wees van die ervaring,” sê Clare.

Een van die mans is deur sy vrou ingeskryf, dus is hulle die eerste egpaar wat saam aan die program deelneem.

Volgens Clare gaan hul episode ’n hoogtepunt van die seisoen wees.

“Hy was aanvanklik baie huiwerig, maar teen die einde was hy ’n nuwe mens en kon hy nie ophou glimlag en vir sy vrou dankie sê nie.”

Die ander man het homself ingeskryf.

“Dit is vir ons belangrik om te wys watter verskil ’n verandering in voorkoms kan maak, nie net in vroue se lewe nie. maar ook in mans s’n.”

Clare verduidelik die kernpilare van die mooimaakproses (soos die velprosedures, gewigsverlies en glimlagtransformasies) word grotendeels dieselfde by mans as vroue benader.

“Die verskille kom in by hoe ons die fyner besonderhede soos hare, kleredrag en versorging hanteer.”

Die deelnemers is van alle lewensterreine en sluit in ’n man wat vir die polisie werk, ’n jong vrou van Muizenberg wat graag haar eie onderneming wil begin, asook ’n enkelma wat in ’n stadium drie werke gehad het om vir haar kinders te voorsien.

“Ons probeer om altyd deelnemers te kies in wie se lewens ons ’n radikale verandering kan aanbring: Dikwels is dit mense wie dalk nie andersins die geleentheid sou kry om by ’n kliniek of ’n wêreldklastandarts uit te kom nie,” sê Clare.

“Ek is passievol oor wat ons doen omdat ons vir mense wys dat dit nooit te laat is vir ’n nuwe begin nie. Ons daag mense uit om ’n nuwe toekoms vir hulself uit te kerf, om hulle grootste drome na te jaag en hopelik daardeur ’n nuwe en onblusbare liefde vir hulself en die wêreld om hulle te ontdek. Dit is ’n reuse-voorreg om werklik ’n verskil te kan maak in iemand anders se lewensreis en hopelik ’n deel van die pad vir hulle ’n klein bietjie makliker te maak.”

Clare Wiese-Wentzel se voorkomswenke vir mans


Die regte velsorgroetine is uiters belangrik. Daar is webtuistes van ondernemings wat skoonheidsprodukte verskaf, waar jy ’n aanlyn velontleding kan doen om uit te vind watter produkte vir jou die beste sal werk.

Indien jy dit kan bekostig, besoek minstens twee tot vier keer ’n jaar ’n velsorgkliniek vir behandelings. Jy hoef nie oud te lyk of te voel nie!

Moenie bang wees vir “brow threading” nie. Oor- en neushaarverwydering is ook uiters belangrik.

Jy sal nooit goed lyk as jy nie gesond leef nie: Beperk koffie, alkohol, suiker, gluten en suiwelprodukte. Bly weg van kitskos en bestanddele wat jy nie kan uitspreek nie.

Kyk mooi na jou tande – hoe langer jy probleme los, hoe moeiliker word dit om reg te maak.

Meer oor:  Clare Wiese-Wentzel  |  Televisiereeks  |  Mooimaak  |  Skoonheid  |  Mode  |  Kyknet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.