Toe ’n swak sakebesluit haar alles kos en sy vier jaar lank skaars haar tande kon borsel, het Antoinette Vosloo (60) “oud, lelik en vet” gevoel.
Maar nadat die span van Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel haar beetgekry het, voel sy “pragtig, belangrik en fantasties”.
Nie net het Antoinette al in haar lewe alles verloor en jare op straat gebly en van aalmoese geleef nie, maar sy het ook haar dogtertjie van drie maande aan 'n wiegiedood afgestaan.
“Jy kom nooit daaroor nie,” sê sy. “Ek dink jy berus, maar dit is swaar op spesiale dae, soos op haar verjaardag. Of wanneer jy iemand anders se dogter sien trou en wonder hoe jou eie dogter sou gelyk het.”

Antoinette Vosloo (60) voor en ná haar mooimaaksessie. Foto: Marguerite Oelofse
Antoinette het ’n egskeiding verwerk en is finansieel geruïneer toe ’n swak besluit haar alles gekos het. “Die dag as jy uit jou huis moet stap waar jy alles gehad het wat jy nodig het, en nie weet waarheen jy kan gaan nie, vra jy jouself hoe dit kon gebeur het,” sê sy.
Sy was te trots om iemand om hulp te vra, sê sy, en het jare op straat gebly en kos geëet wat vreemdelinge vir haar gegee het.
Dit was totdat sy weer haar voete gevind het en tot onlangs ’n biltongwinkel in die Strand bestuur het, asook haar eie onderneming bedryf het waar sy webtuistes ontwerp.
Antoinette het drie maal ingeskryf om op Mooimaak te verskyn, en die derde keer is sy gekies veral om ’n blink nuwe glimlag te kry.

Antoinette se tande voor en nadat dit mooi gemaak is. Foto: Marguerite Oelofse

Antoinette Vosloo voor en ná haar mooimaaksessie met Clare Wiese-Wentzel. Foto: Marguerite Oelofse
Nie net is sy toegerus met ’n kas vol klere, nuwe grimering, velprodukte, ’n nuwe haarstyl, ’n nuwe dieet en permanente grimering nie, sy het ook ’n nuwe sitkamerstel gekry, ’n tafel en stoele, ’n mat, ’n yskassie, ’n stofie asook ’n koskas vol lekkernye om ’n leë woonstel in die Strand te meubileer. Voor dit het sy net ’n bank en ’n bed gehad.
Sy het ook shakes gedrink vir gewigsverlies wat ’n dubbele voordeel gehad het. Dit het haar gehelp om meer as 10 kg af te skud, maar dit het haar ook elke dag iets gegee om te eet toe haar winkel weens die inperking moes sluit en geld baie skaars was.
Nadat sy mooigemaak is, het haar kleindogter, Simoné Potgieter, haar skaars herken. “My ouma lyk pragtig. Sy het die mooiste tande. Ek kan uiteindelik haar persoonlikheid sien!”
Jaco Potgieter, Antoinette se seun, sê: “Ek weet waardeur my ma is. Ons is saam deur baie daarvan. Ek het haar jare laas so gelukkig gesien.”
• Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel word elke Donderdag om 21:00 op kykNET uitgesaai en volg die mooimaak-reis van 14 Suid-Afrikaners wat nuwe hoop vind.