Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Morning Live’ vier 20 jaar op SABC 2

Die pertinente, soms omstrede kwessies wat die SABC 2-joernaalprogram Morning Live aanroer, maak dit ná 20 jaar op lug steeds relevant.

Daarom vind Leanne Manas, een van die ankeraanbieders sedert 2004, soveel aanklank by die program.

Leanne Manas is sedert 2004 een van die ankeraanbieders op Morning Live. Foto: SAUK

“Dit is die soort program wat vrae vra. Mense het al gevra hoe ons met sekere vrae kan wegkom en ons begryp dit nie, want ons is veronderstel om hierdie vrae te vra. Ons is veronderstel om ondersoek in te stel. Ons deins nie terug van omstredenheid nie.”

Morning Live is die eerste keer op 1 November 1999 uitgesaai.

Manas was lank medeaanbieder saam met Vuyo Mbuli wat in 2013 dood is.

Deesdae is Manas en Sakina Kamwendo die ankervroue. Vaylen Kirtley is die sportaanbieder.

“Dit is ook ’n baie persoonlike program,” sê Manas.

“Jou hele lewe verander wanneer jy in so ’n omgewing werk. Mense verwelkom jou soggens in hul huise en hulle dink onmiddellik hulle ken jou. Dit is nie net ’n gewone nuusprogram nie. Mense neem dit baie persoonlik op. Hulle raak emosioneel daaroor.”

Die program is vandag baie meer op nuus gefokus as voorheen. Dit dek egter ’n wye spektrum van onderwerpe.

“Ek dink jy raak gemaklik in ’n sekere omgewing,” sê Manas.

“Ek raak nie eintlik meer senuagtig nie, maar die oomblik wat jy my wegneem uit die omgewing waarmee ek vertroud is, dán knaag die senuwees. Dit is egter vir my wonderlik op stel. Sommige van die personeellede is hier sedert ek hier begin werk het. Ek en Sakina het ook ’n wonderlike rapport.”

Haar senutergendste oomblik was dalk haar onderhoud met die Amerikaanse kletskoningin Oprah Winfrey.

“Dit was fantasties om met haar te praat, maar ek was skrikkerig. Dit was baie jare gelede en uiteraard het ek intussen baie ander onderhoude gevoer. Ek het geleer dat die persoon met wie jy praat nie belangriker as jy is nie. Jy moet hulle nie op ’n troon plaas nie.”

Manas, wat spraak en drama aan die Trinity College in Londen gestudeer het en haar honneurs in Engels, sowel as ’n nagraadse diploma in sakejoernalistiek aan die Rhodes-Universiteit in Makhanda verwerf het, was voorheen onder meer ’n omroeper by Talk Radio 702 en ’n nuusaanbieder op Classic FM.

Sy skroom nie om moeilike vrae te vra nie, maar sy wil nie ’n gas onder valse voorwendsels na die ateljee nooi nie.

“Ek het al gesien hoe word gaste om ’n sekere rede vir ’n onderhoud genooi en dan gaan die teks van die program in ’n heel ander rigting. Jy mag nie ’n gas flous nie. Ja, jy mag die moeilike vrae vra, maar jy moet dit duidelik aan ’n gas stel wat die doel van die onderhoud is. Jy moet daardie gas respekteer.”

Toe sy in 2004 as aanbieder op Morning Live begin het, was dit nie haar eerste aanbod om op die program te verskyn nie.

“Dit was ook die geval met die vorige program wat ek aangebied het. Ek wou eers ondervinding en meer kennis opbou voordat ek my in aanbieding begewe. Ek wou eers in die veld wees,” sê sy.

“Ek is bevoorreg dat die geleentheid om aan te bied weer oor my pad gekom het. Jy moet gereed wees as jy ’n sekere geleentheid aangryp.”

* Morning Live word weeksdae van 06:00 tot 09:00 en naweke van 07:00 tot 08:30 op SABC 2 (DStv-kanaal 192) uitgesaai.

Meer oor:  Leanne Manas  |  Morning Live  |  Sabc 2  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.